Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
101 Detectives: Verhale ’n kreatiewe verset teen die korporatiewe wêreld

Fiksie

101 Detectives

Ivan Vladislavic

UMUZI, R220

Om te sê ek was verward, is om dit sagkens te stel. Die eerste drie verhale in 101 Detectives, Ivan Vladi­slavic se jongste versameling, het my met hul onvoorspelbare vreemdheid van balans af gehad.

In die wete dat die naam op die boekomslag sinoniem is met bobaas van die kortverhaalkuns, het ek ­egter volhard. Ek is ryklik beloon.

Hierdie outeur se boeke het my nog nooit teleurgestel nie. Uitgedaag, gestimuleer, verryk – ja! Maar nie teleurgestel nie.

Sy skryfwerk verg die leser se aktiewe deelname. Toegegee, ek het nie al die woorde in elke paragraaf van die titelverhaal getel nie, maar die truuk wat gebruik word skemer aan die einde van die verhaal deur sonder dat lesers hul somme hoef te maak.

Tel of nie, jy kan nie bloot deur die boek blaai en ontsnappingsvermaak verwag nie. Ek was derhalwe bereid om my ongemak met die ­begin van die versameling opsy te skuif en met sorg te lees om die ­genot te smaak.

Die vierde storie het my reeds oortuig ek is op die regte spoor.

“Exit Strategy” (let op die titel) bevat dalk ’n paragraaf wat die sleutel tot die hele versameling inhou. Nadat sy ’n man die wolkekrabbers waarin sy werk, sien uitklim het, merk ’n vrou op: “It’s a distressing idea: this might be the most interesting thing that’s ever happened to me . . . and yet it feels like a cliché. Everything surprising has already happened before or is about to happen again. No matter what I do or say, or how I remember it or tell it, it will never be interesting enough.”

Die vrou is ’n korporatiewe storieverteller wat, figuurlik en letterlik, bo haar vlak by die werk probeer uitstyg, maar ook na uitkomkans soek.

Uiteindelik slaag Vladislavic, soos sy, daarin om die cliché-strik met verstommende grasie te vermy. En, soos sy, vertel hy stories wat jou veilig in ’n donker plek sal laat voel. Ek verwys hier spesifiek na ’n paragraaf in die laaste deel van die boek met die titel “Deleted ­Scenes”. Dit sluit passasies in wat Vladislavic uit die finale weergawe van die stories gesny het.

Sou jy dit regkry om jou behoefte aan onmiddellike bevrediging aan insig in presies wat in die versameling aangaan, opsy te skuif, sal hierdie tonele weens die briljantheid daarvan jou van oor tot oor laat glimlag.

In een van die geskrapte tonele sit die korporatiewe storieverteller saam met haar kollegas in ’n hysbak vas. Om die ander te sus en ­paniek te vermy, lees sy vir hulle een van die stories voor wat nie “korporatiewe fiksie” of “ ’n noodverhaal” is nie, maar bloot goed wat sy “vir haar eie vermaak opgemaak het”. Dit is die storie van ’n Argentyn wat, soos die meeste van ons, bang is sy lewe sal geen spoor agterlaat nie.

Wat sal voortduur wanneer ons sterf? Hierdie vraag speel ook ’n ­belangrike rol in ander stories. In “The Trunks: A Complete History” neem ’n skrywer besit van tasse vol gedenkwaardighede van ’n gesin wat ná die oorlog van Europa na Kaapstad gereis het. In sy stryd om met die inhoud vrede te maak, word die dilemmas en verantwoordelikhede inherent aan ons onverwagse ontmoetings met die verlede op behendige wyse verken.

Dit belig ook die aard van storievertelling: “ ‘We are stories.’ It’s a notion so simple even a child could understand it. Would that it ended there. But we are stories with­in stories. Stories within stories with­in stories. We recede endlessly, ­framed and reframed, until we are unreadable to ourselves.”

In die verruklike “Lullaby” bosseleer ’n jong man se oor ’n ingewikkelde patroon op sy ma se vel terwyl hy op haar skouer slaap. Kort daarna sterf hy in ’n fratsongeluk. Die velafdruk is teen daardie tyd lankal daarmee heen, maar die beeld wat Vladislavic in die leser se gemoed skep, spook by ’n mens.

“The Reading” is nog ’n storie wat my nog lank gaan bybly. Dit is die soort storie waarvoor ek as ’n leser leef. Dit het my omgeboul, my laat huil.

Die voorlesing van die storie vind in Duitsland plaas. Die lesers is ’n swart outeur uit Afrika en haar vertaler. ’n Gehoor is teenwoordig, maar daar is net twee mense wat waarlik hoor hoe die storie vertel word. Om te skryf is om uit te reik, om te deel en te probeer om iets oor die lewe te kommunikeer, dit leesbaar te maak. Die ontwrigting van hierdie proses bedreig ’n wesentlike element van dít wat van ons mense maak.

In die verhale van 101 Detectives verset kreatiwiteit hom teen die korporatiewe wêreld, is dit ineengevleg en bots dit met daardie wêreld. Selfs belangriker is dat dit clichés, verval, die dood en misverstand – wat almal dalk op dieselfde ding neerkom – die hoof bied. 

 Karina M. Szczurek is ’n skrywer van Kaapstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.