Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
12 dapper SA vroue hou fakkel vir jong lesers
Die reeks ‘Vaandeldraers: Vrouehelde van Suid-Afrika’ deur Wendy Maartens verskyn in Mei by Lapa-uitgewers.

As een skoolmeisie ná die lees van Vaandeldraers: Vrouehelde van Suid-Afrika nie opgee nie, was haar werk aan die omvattende reeks die moeite werd, het die jeugskrywer Wendy Maartens aan Laetitia Pople gesê.

Die lewensverhale van 12 besonderse en uiteenlopende vroue, wat getuig van krag, inspirasie en uithouvermoë, is vervat in ’n unieke boekreeks vir leerlinge wat deur Wendy Maartens saamgestel, nagevors en geskryf is. Elkeen van die vroue het ’n bydrae tot die Suid-Afrikaanse samelewing gemaak, hetsy in die politiek, sport, gesondheid, kultuur of letterkunde.

Een van die vroue is die ontslape SABC-joernalis Suna Venter. Maartens vertel dat sy gesukkel het om te slaap tydens haar navorsing oor Venter.

Die portret van Suna Venter deur Linki Brand.

Venter, een van die sogenaamde SAUK-8, is in 2017 op 32 dood aan gebrokehart-sindroom (streskardiomiopatie). Sy was een van agt joernaliste wat by die SAUK afgedank en later weer aangestel is nadat hulle beswaar gemaak het teen Hlaudi Motsoeneng, voormalige uitvoerende hoof van die SAUK, se beleid om nie meer beeldmateriaal van gewelddadige protes uit te saai nie.

“Haar verhaal het my geweldig ontstel. Ek het heeltyd bly dink hoe verskriklik eensaam sy was toe min mense wou glo wat regtig met haar aan die gebeur was. Soms het ek sommer net by my lessenaar gesit en huil omdat iemand in ons tyd, met soveel hulp byderhand, regtig aan ’n gebroke hart kan sterf. Dit het net vir my bevestig hoe ekstreem die situasie was waarin sy haar bevind het.”

Ingrid Jonker deur Linki Brand.

Die verhaal van die bekroonde Afrikaanse digter Ingrid Jonker, wie se gedig “Die kind” deur oudpres. Nelson Mandela by die eerste parlementsopening van ’n demokratiese Suid-Afrika voorgelees is, wou Maartens nog altyd aan kinders vertel.

“Dit is in wese ’n tragiese verhaal. Nadat ek met Petrovna Metelerkamp se biografie oor Ingrid begin het, het ek ’n invalshoek gekry. Die kern is die verhouding tussen ’n sensitiewe, begaafde meisie, haar ouma en suster en die groter wêreld wat min begrip vir hul uitdagings het.

"Kinderwonde het later tot psigiese en emosionele uitdagings bygedra.”

Maartens het die opdrag vir die reeks van Nandi Lessing-Venter van Penguin Random House ontvang. Dit word in Afrikaans en Engels uitgegee en is op skoolkinders ouer as 11 gemik.

“Daar was geen voorskrifte oor ouderdom, enige veld waarin hul naam gemaak het of kultuur nie. Ek het die voorreg gehad om self die vroue te kies.

Thuli Madonsela geïllustreer deur Linki Brand.

“Ek het sommer gou agtergekom hierdie 12 vroue gaan hulle nie laat voorsê nie. Stadig maar seker het ’n patroon na vore gekom. Terwyl ek aan die een vrou se storie geskryf het, het die volgende een na vore getree. Letterlik. Soms op maniere wat my asem weggeslaan het.

“Soms was ek halfpad besig met navorsing oor een vrou, dan druk ’n ander vrou se beeld haar heel uit my gedagtes.”

Die vroue is, benewens Venter en Jonker, die kunstenaar Esther Mahlangu, wat wêreldwyd gevier word vir haar Ndebele-kuns; die eertydse openbare beskermer Thuli Madonsela; Grizelda Grootboom, wat die slagoffer van mensehandel was; Maggie Jooste, wat ’n konsentrasiekamp in die Anglo-Boereoorlog oorleef het; Saray Khumalo, die eerste swart vrou wat die piek van Everest bereik het; die anti-rassisme-aktivis Zulaikha Patel, wat op 13 protes aangeteken het teen die harereëls by haar skool; die atleet Caster Semenya; Vanessa Govender, Suid-Afrika se eerste Indiër-televisienuusleser, wat ’n boek geskryf het oor die fisieke mishandeling in ’n verhouding; Elsje Neethling, wat ’n kankerstryd oorwin het; en die sangeres en aktivis Zolani Mahola.

Van Madonsela se struggle-verlede het sy min geweet. “Dit was vir my (’n baba van die sestigers wat regtig die ergste jare van apartheid beleef het) bevrydend om haar lewensverhaal (wat onlosmaaklik aan die politiek verbind is) te vertel. Dit het vir my gevoel ek stap onder die aaklige skuldgevoel uit wat ’n mens so lank namens ander gedra het. Op ’n manier is ek tydens die skryfproses bevry.”

Madonsela se verhaal bevestig dat ’n kind wat met deursettingsvermoë, deernis en integriteit opgevoed word, ’n volwassene met deursettingsvermoë, deernis en integriteit word, meen Maartens.

Jooste het tydens die skryfproses bly intjip met “Mamma . . . Mamma”, sê Maartens. “Ek het dit aanvanklik geïgnoreer, maar haar later haar gang laat gaan. Dit het kort sinne geword waarin sy keer op keer vir my wys wat haar ma doen of deurgaan. Maggie se voorsê het meegebring dat ek die styl van haar storie heeltemal moes verander en haar aan die woord stel in dagboekvorm.”

Mahlangu het haar weer geleer hoe belangrik dit is om getrou te bly aan wie jy is en waar jy vandaan kom. Om na aan die aarde te leef en jou binnestem te vertrou, sê Maartens.

Grootboom se verhaal gee ’n mens koue rillings. “Dit was ’n uitdaging om ’n verhaal wat beslis volwasse stof is aan ’n jong gehoor te vertel sonder om die gruwelike feite te verwater. Kinders en hul ouers besef nie dat hulle minute nadat hulle in ’n mensehandelaar se strik getrap het, ontvoer kan word nie. Haar storie het my ook laat besef dat ons nooit die verwoestende gevolge van gedwonge verskuiwings op gesinsbande van destyds ligtelik mag opneem nie.”

Al die vroue is hedendaagse vroue, behalwe Jonker en Jooste.

Wanneer sy navorsing doen, vermy sy die internet. “Die hele huis lê vol stapeltjies boeke wat ek oral ronddra. Eers wanneer ek kan sê ek ken die mens, begin ek die internet raadpleeg – en dan met ’n fyn kam. Meestal is dit om ’n behoorlike tydlyn te probeer saamstel, gebeure of datums te verifieer of inligting te vergelyk.”

Daar moes eers baie water in die see loop voordat sy self bewus was van haar innerlike krag.

Dit is vir my belangrik dat meisies van jongs af besef dat hulle hulself kan help. Dat ’n mens nie altyd hoef te sit en wag vir iemand om jou te help nie. Ja, ’n mens het ander nodig. Maar daar is nie altyd iemand om te help nie. ’n Mens kan self ’n plan maak. En as daar nie ’n plan is nie en jy moet uithou en aanhou, dan doen jy dit. Die sleg hou nie vir altyd aan nie, al voel dit so.

“Dit was moontlik met die hulp van God. Dit is vir my belangrik dat meisies van jongs af besef dat hulle hulself kan help. Dat ’n mens nie altyd hoef te sit en wag vir iemand om jou te help nie. Ja, ’n mens het ander nodig. Maar daar is nie altyd iemand om te help nie. ’n Mens kan self ’n plan maak. En as daar nie ’n plan is nie en jy moet uithou en aanhou, dan doen jy dit. Die sleg hou nie vir altyd aan nie, al voel dit so.”

Sy wil meisies aanmoedig om deernis met hul eie en met mekaar se seerkry en tekortkominge te hê. “Om respek vir mekaar se letsels te hê. Om dit nie weg te steek nie, maar om dit te vier. Om dit soos ’n medalje te dra wat sê: Ek is hier, want ek het ’n lang pad gekom. Ek verdien respek.

"Ek wil hê hulle moet huis toe gaan en hul ma en oumas en tannies vra om hul stories te deel en mekaar en hierdie land van ons van voor af lief te kry.”

Dit is Khumalo se verhaal wat ’n onuitwisbare indruk op haar gemaak het tydens hul gesprek.

“Sy is as kind geboelie. Vandag is sy die eerste swart vrou wat die piek van Everest bereik het – nadat sy hoeveel keer moes omdraai en ’n keer vir die dood agtergelaat is. Saray sê: 'One step at a time. Just take one step. Don’t stop. As long as you keep moving.' ”

Vaandeldraers: Vrouehelde van Suid-Afrika deur Wendy Maartens word in Afrikaans deur Lapa uitgegee en in Engels as die Torchbearer series deur Penguin Random House. Lapa is ’n druknaam van Penguin Random House. Die ouderdomsperk is 11 en ouer. Die illustrasies is deur Linki Brand.

Meer oor:  Boeke  |  Wendy Maartens  |  Vaandeldraer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.