Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
1ste Madibaland-boekfees begin Vrydag
Darryl David Foto: Shelagh McLoughlin

Die reënboognasie word gevier met die eerste gratis virtuele Madibaland-boekfees wat Vrydag begin.

Plaaslike en internasionale skrywers sal tot 28 November op Zoom daaraan deelneem.

Darryl David, organiseerder van boekfeeste en dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wou lankal ’n internasionale boekfees reël.

“Ek wil nie hê daar moet verskillende literêre kampe in die land wees nie. Ons is almal Suid-Afrikaners en daar is wonderlike stories om te vertel. Dis belangrik om almal oor dieselfde kam te skeer.”

Internasionale skrywers soos die Amerikaanse digter Christopher Merrill, die Nieu-Seelander Amy McDaid en die Ier John Connell, sal optree.

Etienne van Heerden

Plaaslike skrywers sluit in Etienne van Heerden, Jan van Tonder, Fred Khumalo, Marguerite Poland, Antjie Krog, Andries Bezuidenhout en Dana Snyman.

David het ’n boek waarin hy dikwels die name van skrywers neerskryf.

“Oor die jare lees jy hulle en jy dink dit sal wonderlik wees om hierdie of daardie skrywer op ’n fees te hê. Ek nader skrywers regstreeks. Ek werk nie deur uitgewers nie. Ek nooi skrywers wie se werk ek geniet.”

David wil ook die veelsydigheid van die Suid-Afrikaanse letterkunde vier.

Hy wou nog altyd Suid-Afrikaans gebore skrywers wat in die buiteland woon, na feeste nooi.

Zoë Wicomb

“Jy wil nie die mense vergeet wat ’n groot bydrae tot Suid-Afrikaanse letterkunde gelewer het nie. Daarom is skrywers soos Zoë Wicomb en die joernalis Jacob Dlamini deel van die program.”

Wicomb, wie se jongste roman, Still Life, onlangs verskyn het, woon in Skotland, en Dlamini in die Verenigde State van Amerika. Hy doseer aan die Princeton-Universiteit in New Jersey.

Die meeste sal gesels oor hul jongste boeke.

Madibaland is ook die titel van ’n boek deur die joernalis en rubriekskrywer Denis Beckett, wat voorheen die joernaal-en-reisprogram Beckett’s Trek aangebied het.

Fred Khumalo

“Ek het op die boek in ’n tweedehandseboekwinkel afgekom toe ek nog in Howick (in KwaZulu-Natal) gewoon het,” sê David.

“Madiba was destyds nog nie so ’n gewilde naam soos nou nie en Denis het dit gebruik. Denis is ook een van die eerste mense wat ons na die Boekbedonnerdfees in Richmond genooi het. Ek het toe al die ideaal vir so ’n fees gekoester. Ek wou graag hierdie naam vir die fees gebruik.”

David wil ook die diversiteit in die land vier.

Die fees word in samewerking met die UWK en Book Town Richmond aangebied.

“Sonder hulle is ons in die moeilikheid,” sê David.

“Toe ek by die UWK begin het, het prof. Vuyo Nomlomo, dekaan van opvoedkunde, altyd gesê ek moet laat weet as ek planne op die terrein van boekfeeste het. Dit was een oproep en sy het almal aan boord gekry. En hierdie fees het die potensiaal om ’n jaarlikse groot internasionale boekfees uit Suid-Afrika te word.”

• Belangstellendes kan op die fees se webblad registreer.

Jy registreer per dag en nie per item nie. Wanneer jy vir een dag geregistreer het, kan jy enigiets daardie dag kyk, maar jy hoef uiteraard nie op elke item in te skakel nie.

• Besoek richmondnc.co.za/Madibaland-World-Literary-Festival/ vir die volledige program en om op Zoom te registreer. Die Zoom-skakels is ook hier beskikbaar.

Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.