Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
25 jaar ná Eugène Marais-prys wen Johan Myburg die Hertzog

Die digter Johan Myburg, wat die afgelope week die Hertzog-prys vir poësie gewen het, sou graag “digter” as sy beroep op ’n vorm wou invul. Hy besef wel hoe gelukkig hy is om as kunsskrywer steeds oor wêrelde te skryf wat hom fassineer. Hy het met AJ Opperman gesels. 

Johan Myburg dink nie om ’n prys te wen maak dit makliker om te skryf nie.

“Tog het pryse iets begoëlends aan hulle,” sê Myburg, ook ’n kunsskrywer, wat die afgelope week die Hertzog-prys vir poësie met sy vierde bundel, Uittogboek, gewen het. 

Johan Myburg

“Soos wat daar heelwat in pryse is waarteen ’n mens moet baklei omdat dit oëverblindery kan wees, is daar vreugde in pryse. Soos wat daar immer in skryf is.”

Hy het voorheen die Eugène Marais-prys met sy bundel Kontrafak gewen.

Soos die Hertzogprys word dié prys deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken.

“Dié twee Akademie-pryse lê 25 jaar en drie bundels uitmekaar. Soos wat ek dankbaar was vir die Eugène Marais-prys jare gelede, en die aanmoediging wat saamgegaan het met só ’n prys, is ek nou weer dankbaar vir dié prys.”

Protea het Uittogboek in 2018 uitgereik. 

"Soos ek dit sien, is skryf – pen op papier of vingers op die toetse – slegs ’n deel van die bedryf waarna ’n mens verwys as skryf. Lees en nalees, soos dink en nadink is veel tydrowender elemente van die skryfproses."

Hy glo al sy gedigte spruit uit iets wat in sy lewe gebeur.

“Maar dan beskou ek goed wat ek raaklees, hoor, onthou, of geure, alles as gebeure. Dat ek hierin nie alleen is nie, spreek uit die duidelikste voorbeeld van almal – Opperman se “Sproeireën” (“My nooi is in 'n nartjie ...”) waarin hy so heerlik uiting gee aan dié gebeure.”

Myburg is in Polokwane (destyds Pietersburg) gebore en was in Potchefstroom op skool en op universiteit, waar hy teologie studeer het. 

Hy was onder meer die dagblad Beeld se kunsredakteur en hy behartig sowel ’n musiek- as kunsrubriek vir die tydskrif Vrouekeur

Hy was al dikwels die kurator van groepuitstallings. 

Hy gesels Woensdae op RSG se Skrywers en boeke oor nuus rakende internasionale letterkunde. 

Sy kunsverwysingsraamwerk vind ook neerslag in Uittogboek, wat onder meer oor afskeid en aftakeling handel. 

“In ’n ideale wêreld sou ek graag ‘digter’ wou invul as ek om my betrekking gevra word. Maar omdat dit geen betalende betrekking is nie, het ek die voorreg om om den brode ook te skryf oor wêrelde wat my fassineer – soos die kunste. In ’n ideale wêreld sou digters wel in diens geneem kon word om verse te maak, meen ek. Miskien gebeur dit nog in my leeftyd ...”

Uittogboek bevat verwysings na skrywers soos Marguerite Yourcenar, Jamaica Kincaid en Maurice Blanchot. 

Die bundel begin met Myburg se vertaling van die gay Romeinse keiser Hadrianus se bekende sterfgedig “animula vagula blandula”.

‘Uittogboek’, Johan Myburg se vierde digbundel.

Uittogboek het ’n dekade ná sy vorige bundel, Kamermusiek, verskyn. 

Op ’n vraag oor die resensent Cecile Cilliers se verwysing na “studeerkamerpoësie” in sy vorige werk onthou hy Cilliers het agterna teenoor hom opgemerk dat sy niks negatiefs daarmee bedoel het nie. 

“Ek het dit in elk geval nie as negatief gelees nie, het ek haar verseker. Trouens, ek het heelhartig met haar saamgestem. Ek vermoed dit is dalk een van die redes waarom ek so lank talm om te publiseer. Soos ek dit sien, is skryf – pen op papier of vingers op die toetse – slegs ’n deel van die bedryf waarna ’n mens verwys as skryf. Lees en nalees, soos dink en nadink is veel tydrowender elemente van die skryfproses. 

“Skryf is dalk in wese niks anders nie as die opskryf of die neerpen van prosesse wat lank neem om klarigheid te bereik. In dié opsig waarin klaarheid ’n mens ooit beskore is.”

Idees vir verse duik lukraak op.

“Maar die uitdaging is om dié gedagtes te laat saamhang met die struktuur van die bundel. Gaandeweg het die samehang van die bundel vir my ’n aspek geword wat net so belangrik is as die samehang van ’n enkele gedig. Dit beteken nie dat gedagtes hulle nie lukraak voordoen nie.”

Hy het op skool die tweede plek behaal in ’n poësiekompetisie in die tydskrif Rooi Rose

“Met ’n sonnet nogal. Elizabethaans. Met ryme en metrum en ek vermoed heelwat dwang. Nietemin sou ek nie ’n ander soort leerskool wou gehad het nie. Dit was in 1973 en ek was 16.”

Vandag verkies hy steeds pen op papier. 

“En ’n A4-notaboek wat ek om die een of ander rede sedert skooldae van agter af volskryf.”

Hy lees graag poësie hardop. 

“Hoewel woorde op papier (of geskryf in digitale vorm) – met ander woorde die visuele gestalte van woorde op ’n blad – vir my onontbeerlik is, is dié gedaante van ’n gedig nie belangriker as die klank wat ’n gedig voortbring nie. 

“Daarom lees ek graag hardop. Want die oor het ander vaardighede as die oog, die oor maak ander registers oop. Trouens, groot dele van ’n roman soos Die troebel tyd van Ingrid Winterbach het ek hardop gelees, gewoon omdat ek gedink het ek loop ’n te groot risiko om te veel te mis.”

Meer oor:  Poësie  |  Boeke  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.