Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
3 nuwe boeke vier essayis Audrey Blignault se bydrae
Die omslag van “Met my rooi rok voor jou deur”, ’n keur uit die werk van Audrey Blignault. Die skildery is deur Hanneke Benadé.

Drie nuwe boeke van die werk van Audrey Blignault, wat in haar tyd die wêreld van die Afrikaanse vrou oopgeskryf het, sal volgende week in boekwinkels beskikbaar wees. Dit sluit in ’n keur uit haar werk Met my rooi rok voor jou deur, wat deur Lana Barnett saamgestel is en deur Tafelberg uitgegee word, asook twee herdrukke, Die eindelose avontuur, ’n gids vir almal wat graag wyd én onderskeidend wil lees, en Mal Hansie en ander verhale, wat wyd aanklank gevind het. Protea Boekhuis is die uitgewer van die herdrukke.

Met my rooi rok voor jou deur is ’n unieke, omvangryke keur wat Blignault se beste verhale byeenbring – van kort sketse uit haar vroeë bundels tot langer essays en verhale uit latere publikasies. Sy skryf wel oor vervloë dae, maar op so ’n unieke, toeganklike manier dat dit vir vandag se lesers kraakvars is.

Barnett, die gewese uitvoerende hoof van Leserskring, is die samesteller. Sy glo dat Blignault beslis haar tyd vooruit was. Met die herlees van haar bundels was dit vir haar duidelik dat “die immergroen en geliefde skrywer se werk behoue moet bly vir ’n nuwe geslag Afrikaanse lesers”.

Die herdruk van “Die eindelose avontuur, ’n venster op die wêreldletterkunde”, ’n gids vir almal wat graag wyd én onderskeidend van Audrey Blignault wil lees.

Blignault het ’n reusebydrae tot die ontwikkeling van die vertelkuns in Afrikaans begin met essays deur ’n “alledaagse” vrou wat kommentaar gelewer het op die gewone omgang in ’n dag wat verdiep het tot volwaardige kortverhale met ’n dieper blik op haar wêreld.

Barnett skryf in haar voorwoord dat Blignault die unieke vermoë gehad het “om ’n rekord van ’n verbygegane era vas te lê in ’n tydsdokument wat vermaan en aangryp”.

Sy skets die Bredasdorp en Waenhuiskrans van die verlede op ’n manier wat min kontreikunsskrywers haar kan nadoen. “En altyd lees dit só plesierig, só skerp, met soveel sjarmante nuuskierigheid, met ’n verskeidenheid van stemmings en só volledig mens, dat hierdie werk opregte volksbesit is,” meen Barnett.

Die eindelose avontuur is ’n versameling essays waarin sy lesers aan boeke van uitsonderlike gehalte uit verskeie lande en tye voorstel.

Sy inspireer ’n mens om Montaigne, Melville en Tolstoi te lees; Dostojewski, Flaubert, Mann, Bellow, Perec, Allende en nog baie ander. Sy dui ook goeie bloemlesings en letterkundige naslaanbronne aan.

Die herdruk“Mal Hansie en ander verhale” wat deur Protea Boekhuis uitgegee word.

Onderhoudend gee sy inligting en insigte – biografiese gegewens oor skrywers, publikasiegeskiedenisse, bibliografiese besonderhede, en veral: besprekings van ’n werk se tema, inhoud, karaktertekening, simboliek, styl en strekking. Telkens toon sy duidelik aan waarom ’n werk ’n hoogtepunt in die wêreldletterkunde is, en bring ook die leser met prikkelende aanhalings, dikwels in eie vertaling, by die teks self uit.

Haar essays in Die eindelose avontuur bevestig wat sy in 1991 aan leeskringe landwyd voorgehou het: “Ten spyte van verkrummelende waardes om ons heen, ten spyte van toenemende geweld in die wêreld, is daar nog boeke wat ons kan wegvoer uit die onmiddellikheid van ons bestaan na ’n sfeer van hoër, ruimer lewe. Daar is nog boeke wat ons ons geloof in die mens laat behou.”

In ’n bestek van 40 jaar het Audrey Blignault tien bundels essays gepubliseer – van In klein maat in 1955 tot Pas op vir Jantatarat in 1979. Boeke wat wyd aanklank gevind het. Want hulle “is doepa vir ’n dikbek; vonk vir ’n vaal dag; laai ’n mens opnuut vir die avontuur van die lewe, wat nie ver is nie, maar in en rondom jou” (Berta Smit).

In Die blye dae van 1965 verskyn die eerste volwaardige vertelling tussen die essays: “Mal Hansie”.

Daarna word dié soort tekste talryker, veral in Die Plesierboom (1967) en Die rooi granaat (1970). Mal Hansie en ander verhale bied vir die eerste keer hierdie gewilde en ontroerende vertellinge in een band. Dit is ’n volwassene wat veral terugkyk op haar jeug en dan ’n kind aan die woord stel: ’n meisie wat nie kan aanvaar haar oupa is dood nie, wat ’n baie ongeseënde Kersfees beleef, of deur skuldgevoelens geteister word toe ’n pestilensie van ’n buurseun hom byna morsdood uit ’n pruimboom val.

Die kind ervaar gesinsverbrokkeling, liefdesarmoede en die wanhopige verset van ’n onvriendelike oom teen ouderdom en aftakeling. Maar ook die verwondering wanneer ’n seun op ’n reënerige oggend so anders en belangrik vir haar word.

Dis verhale wat, in Blignault se woorde, vertel “van die enigste spoor wat nie vergaan nie – die spoor wat een mens laat op die hart van ’n ander”.

Meer oor:  Audrey Blignault  |  Drie Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.