Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
30 jaar ná Etienne Leroux se dood

Die Sestiger-skrywer Etienne Leroux is die afgelope Desember 30 jaar gelede dood. AJ Opperman het met mense gesels oor dié skrywer van die romans Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein, o Magersfontein!, wat met die Hertzogprys bekroon is. Hulle deel hul gedagtes oor dié groot skrywer met die swart klere en donkerbril. 

“Stephen was baie eksentriek, hoor; make no mistake.”

Renée le Roux (92), eerste vrou van die Sestiger-skrywer Etienne Leroux wat in Desember 30 jaar gelede dood is, onthou die man met wie sy langer as twee dekades ’n woonruimte gedeel het.

Etienne Leroux
Stephen le Roux – wat onder sy skrywersnaam Etienne Leroux boeke soos 'Sewe dae by die Silbersteins' en 'Magersfontein, o Magersfontein!' geskryf het.

“Ons is wel ná 21 jaar geskei, maar ons is as goeie vriende uitmekaar. Hy was ’n perfekte heer. Hy was sjarmant en baie snaaks,” beskryf sy Stephen le Roux – wat onder sy skrywersnaam boeke soos Sewe dae by die Silbersteins en Magersfontein, o Magersfontein! geskryf het.

Hulle het mekaar ontmoet deur sy suster, wat saam met Renée op universiteit was.

Nadat sy en Leroux mekaar ontmoet het, het hulle saam by ’n oom en tante van hom gaan kuier. Hulle het ook aan mekaar geskryf. Hy het toe reeds geboer en sy was nog op universiteit.

Vir die grootste deel van hul huwelik het Leroux en Renée op die plaas Janee in die distrik Koffiefontein gewoon.

Etienne Leroux het op die plaas Janee in die distrik Koffiefontein geboer.

“Ons het nooit oor sy werk gepraat nie,” sê Renée wat geskilder het en deesdae in Rondebosch, Kaapstad, woon.

“Wat het ek geweet van letterkunde? Ek bedoel, van daardie soort goed wat hy geskryf het? Dit sou verkeerd gewees het om iets daarvan voor die tyd te sien. Ek het altyd sy pakkies opgemaak. Dit was my werk om dit toe te draai, te verseël en weg te stuur. Dit was my werk en hy het geglo ek is sy gelukbringer. En ek het dit eers gesien wanneer dit verskyn het. Hy was ’n fenomenale skrywer. Hy was dol oor sy werk. Dit was nommer een in sy lewe.”

Hulle is op 13 Maart 1948 getroud en het drie kinders saam.

Renée en Stephen le Roux op hul troudag, 13 Maart 1948.

“Hy het in die huis geskryf. Bedags was hy besig met die boerdery. Ek het in my vrye tyd geskilder. Ek het 'n ateljee daarvoor laat aanbou. Saans ná aandete moes ons padgee; hy gaan nou skryf.”

Nadat hulle geskei is, het hulle nog vakansies saam met die kinders deurgebring.

Leroux is in 1970 weer getroud.

Hy is op 13 Junie 1922 op Oudtshoorn gebore en het aan Grey-kollege in Bloemfontein gematrikuleer.

Hy het aan die Universiteit Stellenbosch in die regte gestudeer en hy was later ’n prokureur, boer en skrywer.

“Dit is ironies dat hy die middelpunt was van soveel politieke en literêre polemieke. Geen druk of dreigement van buite kon hom egter dwing om ontrou aan sy kreatiewe integriteit te wees nie.”

Hy is op 30 Desember 1989 in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein aan kanker dood. Hy was 67 jaar oud.

“Ek sal altyd die nice man koester wat hy was,” sê Renée.

“Mense sou by ons aankom, half op hul senuwees oor die groot skrywer wat hulle nou moet ontmoet, en dan sê ek maar hy is ’n mens nes enigiemand anders.”

Die beeld van Leroux in swart klere met ’n donkerbril en ’n lang baard en hare is nie die voorkoms wat Renée tydens hul huwelik geken het nie.

“Ek wou ’n oorval kry toe ek dit sien. Ek het altyd sy hare geknip en sy baard geskeer. Sy ma het altyd vir my gevra of dit nie weer tyd is om Stephen se hare te sny nie.”

Leroux se debuutroman, Die eerste lewe van Colet, is in 1955 uitgereik. Ander boeke sluit in Een vir Azazel en Die mugu.

Buiten die romankuns het hy onder meer die essay “Jeugmomente” vir die bundel Herinnering se wei geskryf waarin skrywers oor hul jeugjare skryf.

Stephen le Roux
Etienne Leroux, wat in 1955 met die roman 'Die eerste lewe van Colet' gedebuteer het.

Albei kere dat die Hertzogprys aan Leroux toegeken is, is deur polemiek gekenmerk.

Magersfontein, o Magersfontein! is destyds verbied. Die verbod is egter later opgehef.

Koos Human, mede-stigter van Human & Rousseau, skryf in sy boek ’n Lewe met boeke oor die aankondiging dat Sewe dae by die Silbersteins met die Hertzogprys bekroon is: “Toe is die gort gaar. Natuurlik het ook die amptelike bewaarders van die sedes hulle nie onbetuig gelaat nie.”

Die prys is in die Aula by die Universiteit van Pretoria (UP) oorhandig.

Human skryf dit het geskied onder ’n “dawerende applous wat seker ’n minuut of langer geduur het”.

Sewe dae by die Silbersteins is in verskeie tale vertaal.

Die Britse skrywer Graham Greene het in ’n brief aan Leroux Sewe dae by die Silbersteins geprys.

Dié twee skrywers het bevriend geraak en Greene was in 1973 'n gas van Leroux tydens 'n toer in Suid-Afrika.

Die roman 18-44 het gespruit uit Leroux se briefwisseling met Ingrid Winterbach, vandag ’n bekroonde skrywer, maar wat destyds as ’n 18-jarige student aan hom geskryf het. Hy was toe 44 jaar oud.

Winterbach wonder egter watter formaat sou sy gebruik het as sy vandag as 18-jarige aan hom sou skryf.

“E-pos, WhatsApp (ek lief jou werk meneer Leroux!)? Daar het intussen ’n reuse-mark vir tienerliteratuur ontstaan; ek sou vandag waarskynlik sci-fi en vampierromans gelees het – in Engels. Wat lees Afrikaanssprekende kinders deesdae op skool – Dalene Matthee? Ek het nie ’n clue nie.

“En tweedens wil ek net sê dat enige verbeelding wat Brutus die bul, Jock se stoomkamer, die orakel mevrou Dreyer (om maar ’n paar voorbeelde uit sy werk te noem), kon bedink, nie jou alledaagse tuinvariëteit is nie.”

Stephen le Roux
Etienne Leroux, wat op 30 Desember 1989 in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein oorlede is.

Peet van Aardt se debuutroman Vier en veertig, agtien is in 2018 uitgereik en die briefwisseling tussen Winterbach en Leroux kom daarin ter sprake.

Gedeeltes van die briewe wat Leroux geskryf het, word in Van Aardt se roman aangehaal.

“Toe ek die briewe van hom aan Ingrid Winterbach lees,” sê Van Aardt, “het dit vir my gevoel asof ek ’n kykie in sy persoonlikheid kry – asof ek iets van hom leer ken wat ’n mens nie sommer in sy stories sal kry nie. Die gevoel van intimiteit (hoe vals dit ook al mag wees), het my aangegryp.”

Van Aardt meen Leroux verteenwoordig as boer én skrywer die samekoms van die fisieke en die psigiese, en die balans tussen die praktiese en intellektuele.

Hy vind aanklank by die romans Die eerste lewe van Colet en Die mugu.

“Leroux se uitbeelding van die buitestander is met soveel deernis, angs en humor gedoen. Ek dink nie ek sou ’n vraag kon saamstel in sy teenwoordigheid nie. In die geselskap van groot geeste hou ek maar my mond.”

Die digter en letterkundige prof. Joan Hambidge sê daar is “maar net een Leroux”.

“Die man van Koffiefontein bly vir my ’n baken in ons prosakuns. Ek het onlangs weer Die derde oog en Een vir Azazel gelees wat werk met die patroon van die speurverhaal. Leroux maak egter hiervan ’n primordiale verhaal. 18-44 is ’n briefroman wat ’n mens telkens laat terugkeer na ander briefromans in die wêreldletterkunde.”

Hambidge bespiegel of Afrikaanse redakteurs vandag sy talent sou kon raaksien.

“Koos Human hét. Ek het Leroux by drie geleenthede ontmoet en ek huldig hom in die roman waaraan ek werk: Kopíís.”

"Leroux se uitbeelding van die buitestander is met soveel deernis, angs en humor gedoen."

Die akteur Waldemar Schultz het Leroux lank gelede in die rolprent Black Butterflies oor die digter Ingrid Jonker vertolk.

Schultz onthou dat hy navorsing oor Leroux probeer doen het, maar dit nie juis in die rol kon gebruik nie.

“Ek is ’n Ingilsman en kan nie sê ek is hoegenaamd ’n kenner van Leroux of sy werk nie . . . net brokkies wat ek op varsity dalk vir spraakklasse gebruik het, en die feit dat hy konstant sigarette gerook het en altyd, amper sonder uitsondering, ’n donkerbril gedra het, veral later in sy lewe.

“Ek het sover moontlik ikoniese leidrade gesoek om hom uit te beeld, want sy literatuur en/of siening was glad nie in die teks van die fliek ter sprake nie.”

Etienne Leroux
Etienne Leroux, was 'n boer, prokureur en skrywer.

Die digter en vertaler Daniel Hugo wat voorheen aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gedoseer het, onthou Leroux as die sagmoedigste skrywer wat hy ooit ontmoet het.

“Dit is ironies dat hy die middelpunt was van soveel politieke en literêre polemieke. Geen druk of dreigement van buite kon hom egter dwing om ontrou aan sy kreatiewe integriteit te wees nie.”

Hugo het ’n gedig oor Leroux se tweede vrou, Elizabeth, geskryf na aanleiding van die Nederlandse skrywer Gerard Reve se besoek aan Janee, waar Hugo teenwoordig was.

“Die besoeker” het in die bundel Verse van die ongeloof verskyn.

Hugo het ook ’n ongepubliseerde gedig geskryf waarin Leroux genoem word:

Anekdote

“Kyk net hoe vet is julle, die uitgewers

en hoe maer ons klomp, die skrywers.”

sê Sening-Jan Rabie vir Koos Human

– sy dapper uitgewer deur dik en dun.   

 

Leroux grinnik agter sy donkerbril

vir sy vurige en taktlose vriend.

Hy mompel stilweg in sy baard:

“Skrywers koester maar almal ’n boekpens.”

Onrusrivier, 1985

Meer oor:  Ingrid Winterbach  |  Koos Human  |  Daniel Hugo  |  Skrywers  |  Boeke  |  Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.