Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
5 000 jaar se geskiedenis wys oorlog is hier om te bly

In ‘Oorlog en vrede’ neem die Stellenbosse filosoof Willie Esterhuyse die oorloë én pogings tot vrede van die afgelope 5 000 jaar onder die loep, maar nooi meestal lesers om sáám met hom te wonder pleks daarvan om klinkklare antwoorde te verskaf, skryf Martie Retief Meiring.

Oorlog en vrede: Die morele verbeelding van die mens deur Willie Esterhuyse. Uitgewer: Naledi. Prys: R270.

Is die mens van nature gewelddadig, of word ons deur ander faktore tot oorlogvoering gedryf om dan maar net weer die uitmergelende dog noodsaaklike vredesluiting aan te durf? Word oorloë soms gevoer bloot om weer vrede te maak?

Dít is van die vrae wat die filosoof Willie Esterhuyse in hierdie magistrale boek stel en waarvoor hy oorloë én pogings tot vrede onder die loep neem – van die mensgod Gilgamesj van Sumerië in 3 000 v.C. tot die Israelse oorloë en die huidige Sirië kom aan bod (die Anglo-Boereoorlog word wel nie bygebring nie). Oorsake, verskriklike gevolge en dikwels desperate dog ook opregte en soms valse vredesooreenkomste word indringend beskryf.

Esterhuyse nooi inderwaarheid die leser om saam met hom te wonder en te probeer begryp of oorlog dalk selfs ’n breinimpuls kan wees. En hoe moet die brein dan weer ingespan word om die verwikkelende pad na vrede te bedink, te beplan en toegewings te maak?

Esterhuyse was in die 1980’s betrokke by die lang aanloop tot ’n skikking tussen die apartheidsregering van die destydse Nasionale Party en die opponerende African National Congress. Sy betrokkenheid en gedagtes oor die “vrede” tussen dié twee partye is vervat in sy boek Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van apartheid (2012). Ook in Oorlog en vrede word oorsaak en gevolg noukeurig en met ’n mate van binnekennis ondersoek.

Dit is ’n nederige demokraat wat hom boei.

Die boek is in werklikheid ’n gesprek of ’n uitdaging: Lees hier – dít is wat mense gedoen het oor die eeue heen. Waarom moes sowat 280 miljoen mense in sulke oorloë sterf? Waarom is amper dierlike wreedheid tussen mense gepleeg? Hoe kan vrede hoegenaamd volg op hierdie botsings?

Dink dan aan die moordtogte van Djengis Khan, die talle oorloë waar buitgemaak is op vroue en mans as slawe, Stalin en Mao Zedong se moordlustigheid, die Jodeslagting deur die Nazi’s asook die weersinwekkende moord- en oorname-togte van Hernando Cortés en Francisco Pizarro in Sentraal- en Suid-Amerika.

Die xenofobiese geweld van keiserin Tzú-hsi (1835-1908) teen veral Christene in die Bokser-opstand in China tel ook onder die bloedigste vernietiging van instansies en mense. Die ewige vraag oor die wisselwerking van die mens se natuur teenoor kultuur word deur díe lang geskiedenis ondersoek.

Hierby tel ook persoonlike magsug, grootheidswaan, geloof in die gode, ou heilige geskrifte, vertolking van die Bybel, grondbesit en grootskaalse immigrasies van mense waar vervreemding, siektes en konflik saamreis. Leierskap, politieke, maatskaplike en ekonomiese oorsake en bedreigings en nuwe idees vir revolusionêre optrede is snellers wat tot knuppels, pyle, kanonne en die dood lei.

Esterhuyse lê veral groot klem op die religieuse dimensie as ’n oorsaak van oorlog: Christen teen nie-Christen, Moslems, Jode, stamme in Afrika, groeperinge in die Ooste wat uit godsdienstrouheid mekaar uitmoor. Hy haal die gerekende historikus Karen Armstrong aan: “Warfare has become a fact of human life, central to the political, social and economic dynamics of the agrarian empire and, like every other human activity, it always has a religious dimension.”

Esterhuyse is geen Clausewitz wat aandag aan die aard, dissipline of maneuvers van oorlog skenk nie, maar dit blyk hy het wel ’n besonderse liefde vir twee bekendes – totaal teenoorgesteldes – uit oorlogstye: Abraham Lincoln van die Amerikaanse Burgeroorlog en Saladin, die 12de-eeuse Moslem-krygsheer.

In verwondering skryf Esterhuyse dat die Amerikaanse Burgeroorlog gedeeltelik ontstaan het uit die lees van Harriet Beecher Stowe se boek Uncle Tom’s Cabin (1852) oor die slawelewe in die Amerikaanse Suide. Hoewel Esterhuyse geboei is deur die militaristiese Ulysses S. Grant en sy Konfederale teenstander, Robert Lee, en ook die wonder van die dodelike Sherman-tenks, is dit die demokraat, die nederige Abraham Lincoln, wat hom boei. ’n President wat uiteindelik, al sou dit ook sy lewe kos, slawerny sou stuit en die demokrasie in die komende Verenigde State van Amerika bevestig. (Die Amerikaanse arend met die byl en vredestak in sy kloue pryk ook op die omslag van Oorlog en vrede.)

Die romantiek van Lincoln teenoor die amper ongelooflike barbaarsheid van Saladin boei die skrywer juis omdat dit die intense Christen-Moslem-problematiek raak. Saladin, ’n Koerd, het in Egipte, Soedan en later in Jerusalem onder die kruisvaarders gemoor en gemartel. Tog, aan die vooraand van sy oorname van Jerusalem, het hy ’n Jerusalemse sakeman en sy familie laat vrygaan. Esterhuyse meld dat Saladin die mense selfs in sy tent ontvang het.

Dit was Saladin en sy grootste teenstander, Richard I van Engeland (bekend as “The Lionheart”), se hoflike samesprekings wat lei tot die ooreenkoms om Jerusalem onder Moslem-beheer te hou, maar dat Christene en Jode steeds welkom sou wees om besoek af te lê by hul heilige plekke.

Esterhuyse beskou dié onderhandelinge as ’n klassieke voorbeeld van konflikoplossing en onderhandeling. Begrip, respek, toegewings en beloftes word gestand gedoen.

Die leser se verbeelding en kennisname van die geweldsgeskiedenis word geprikkel en Esterhuyse bied ten slotte ook ’n 16-bladsy-gids vir verdere leeswerk aan. Ongelukkig word geen register verskaf nie, wat beslis afbreuk doen aan die boek.

Wel boeiend is die vrae wat die skrywer stel oor die aard van vredesbesluite en die langdurigheid daarvan ná bloedige oorloë, revolusies, onderdrukking, slawerny en die vernietiging van mense, eiendom, stede en selfs kulture.

Die vraag rondom wette en geregtigheid ná strydvoering, die krag van die olyftak teenoor die pyl, die wil tot vrede as ’n brose onderneming, stip hy aan. Ten slotte: Is die brein ’n sneller tot oorlogvoering? Hier is geen neurologiese getuienis nie, dit bly net ’n vraag.

Uiteindelik besef die leser dat die afgelope 5 000 jaar se verhale oor oorlog en vrede onteenseglik ’n vraag stel oor die huidige wêreld. Hoe wiegel-waggel Donald Trump met sy dreigemente? Wanneer sal of kan Sirië die einde sien van die verskrikking van die huidige eeu? Hoe broei revolusie in die Suid-Amerikaanse state?

En by ons? Glo ons versoening in hierdie onrustige land dui regtig op vrede? Is ’n revolusie – of revolusies – nog ons voorland?

Oorlog en vrede bied geen gerusstelling nie.

  • Martie Retief Meiring is ’n joernalis van Stellenbosch wat nog hard werk om uit die ouetehuis te bly.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.