Die ses suksesvolle kandidate van die nuwe skrywersresidensie van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans is Dinsdag aangewys.

Die Gerwelhuis in Somerset-Oos.
Jeremy Vearey, Kirby van der Merwe, Lynthia Julius, Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer en Ryan Pedro is die kandidate wat van 8 Julie tot 5 Augustus in die Gerwelhuis in Somerset-Oos in die Oos-Kaap sal tuisgaan.
Die residensieprogram fokus veral op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

Lynthia Julius

Kirby van der Merwe

Ronelda KamferFoto: Yunus Mohamed
Dit sal die skrywers in staat stel om vir ’n maand aan ’n manuskrip te slyp. Die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans dek die koste van die skrywers se verblyf, insluitende internet, skoonmaakdienste, etes (drie maaltye per dag), retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe. Vervoer in Somerset-Oos sal ook aangebied word.
“Dit was ’n plesier om deur soveel sterk aansoeke te werk,” sê Theo Kemp, uitvoerende hoof van die Jakes Gerwel Stigting.
“Daar is belangrike verhale wat wag om vertel te word en gedigte wat wag om geskryf te word. Ons wil met hierdie projek Jakes Gerwel se liefde vir Afrikaans vier en ons pas gerestoureerde skrywershuis benut om soveel as moontlik skrywers te ondersteun. Ons glo dat die skrywersresidensie die skrywers die nodige tyd en ruimte sal gee om goed met hul skryfwerk te vorder.”
Kemp reken dit is tot almal se voordeel.
“As ’n skrywersvereniging is PEN Afrikaans onder meer daarop gemik om skrywersbelange te verteenwoordig en te bevorder. Die skrywersresidensie is presies die tipe projek wat ons graag ondersteun en ons is dankbaar om dit in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting te kan doen,” sê Marga Stoffer, voorsitter van PEN Afrikaans.
“Ons wens die skrywers ’n goeie en produktiewe verblyf in Somerset-Oos toe.”