SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Boeke
70-jarige debuteer met digbundel
Alice Hendriks-Boshoff

Musiek en skryfkuns vloei hand aan hand deur Alice Hendriks-Boshoff. Terwyl sy musieklesse in Bloemfontein gegee het, het sy artikels vir die tydskrif Sarie geskryf en musiekresensies onder die skuilnaam CAB vir Volksblad.

In Engeland, waar sy die afgelope 15 jaar woon, het sy voortgegaan om klavierlesse te gee en steeds bly skryf. Dit was egter ’n aanlyn kursus in poësie wat haar skryfkuns onlangs die oorhand laat kry het en tot ’n debuutdigbundel gelei het.

Rimpelspieël bevat ’n yslike 163 gedigte wat Boshoff oor sowat vyf jaar versamel het.

“Party gedigte is kort, ander beslaan meer as ’n bladsy,” vertel Boshoff, wat haar bundel van 222 bladsye in Bloemfontein bekend gestel het.

Sy sê die saadjie om op 70 ’n bundel te publiseer, het ontkiem toe sy in die kursus “hemelhoë punte” vir haar gedigte gekry het. Ná die kursus het sy aanhou skryf en elke keer wanneer ’n gebeurtenis, ’n rolprenttoneel, ’n foto of wat ook al haar aangegryp het, is nog ’n gedig bygevoeg.

“Eintlik het alles baie lukraak gebeur. Ek sal op ’n oggend opstaan met twee reëls in my kop en dit neerskryf. Of ek sal op pad iets oplet wat my gedagtes aan die gang sit en aantekeninge maak in ’n boekie wat ek altyd in my handsak dra. Uiteindelik was daar genoeg gedigte wat onder een hoedjie pas.”

Dié hoedjie se deurlopende tema is volgens haar uitgewer, Myra Lochner, “dat heel en perfek nie sinoniem is nie”. Lochner beskryf Boshoff se gedigte as “klankryk, beeldend en intellektueel uitdagend”.

So luiBoomwese (bl. 116):

Verknotte geboomte langs die lewenstroom, blaar vir blaar gestroop deur stormwind en seisoen. Die spieëlblink watervlak wat die hemel wonderskoon weerkaats, kraak en rimpel as gestroopte blare – simbole van wysheid en grepies boom – dobberend op drome van verlede, hede en toekoms voortvloei na die

Oseaan.

Geluidloos lê die rimpelspieël, die diep en donker stroom. Skemertyd weerkaats in stille stond die windkrom rooipeerboom. Wortels verknot, weerloos ontbloot na storms en watervloed; basletsels, selfgenesend gegom, getuig van pyn en moed.

Boshoff is versot op bome en toe haar Nederlandse wederhelf, Jan Hendriks, in sy 70’s begin skilder en onder meer ’n lieflike berkebos voltooi, het sy geweet dit moet die omslag van haar bundel wees.

Lewensloop

Die omslag van Rimpelspieël, Alice Hendriks-Boshoff se debuutdigbunel.

Die eerste halfeeu van haar lewe het Boshoff in Bloemfontein geslyt. Sy het ’n doktorsgraad in musiekwetenskap verwerf, musiek gegee en vier kinders grootgemaak. Nadat die laaste kind die nes verlaat het, het Boshoff op ’n verkenningstog na Nederland vertrek en verlief geraak op haar stamland en haar man, Jan, daar ontmoet.

Hulle is in 2001 getroud en het nog ’n ruk in Nederland gewoon voordat hulle in 2004 na Rollright, Engeland, verhuis het, ’n klein dorpie waar Boshoff saam met haar musiek-ateljee ook die poskantoor bedryf het.

In die afgelope paar jaar het Boshoff haar musiekleerlinge stelselmatig verminder sodat sy nou met ’n geruste hart na hul nuwe blyplek in Banbury in die mooie Cotswolds, Oxfordshire, kan verhuis.

“Engeland se weer pas my. Ek kon in al die jare nie aan Bloemfontein se hitte gewoond raak nie,” sê Boshoff.

Drie van haar vier volwasse kinders woon ook in Engeland, onder andere Nico de Villiers, ’n professionele pianis in Londen wat pas sý doktorsgraad in musiek verwerf het.

Haar dogter, Nicolette van den Heever, en gesin woon steeds in Bloemfontein en lok haar en Jan minstens een keer per jaar na Suid-Afrika.

Wat vir Boshoff net so erg is soos Bloemfontein se hitte is “die gruwelike Afrikaans” wat sy hier hoor. “Daarom, en om my deeltjie tot die behoud van my moedertaal by te dra, sal ek aanhou skryf in Afrikaans,” sê Boshoff.

Sy werk tans aan ’n outobiografie wat fokus op egskeiding en verbrokkelde gesinne, soos sy dit in die verskillende geslagte in hul familie ervaar.

*

Rimpelspieël deur Alice Hendriks-Boshoff is uitgegee deur Kreativ SA in George. Bestel die bundel by alice.hendriks@icloud.com.

Meer oor:  Alice Hendriks-Boshoff  |  Boeke  |  Poësie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.