Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Afrikaans, humor en liefde bly Marita se DNS
Al lewe Marita van der Vyver in ’n mengelmoes van tale, en word haar werk in nog meer gepubliseer, bly sy dink in Afrikaans, sê sy aan Amanda Botha.
Marita van der Vyver

Ons ontmoet in ’n tuin in Franschhoek waar skrywers rondom tafeltjies sit en koffie of wyn drink. Die tafeltjie waar ek en Marita van der Vyver gesels, word soos ’n verkeerslig. Tussen almal wat stop, aandoen en verbygaan moet ons navigeer vir tydjies om vinnige geselsies te maak. Dis Afrikaans, Engels en Frans om die beurt wat hier gepraat word. Tog het ek my verbeel dat as sy Afrikaans praat, is dit soos Franse sjampanje – ’n opbruising wat vreugdevure aansteek.

Ek wou met haar praat oor Afrikaans juis nou met die verskyning van haar jongste boek, A Fountain in ­France, die Engelse uitgawe van ’n Fontein voor ons deur (2014), wat pas gepubliseer is. Ná 16 jaar in Frankryk is sy ewe tuis in Engels en Frans met geografiese verwysings in haar werk hoofsaaklik in Europa en veral Frank­ryk. Is Afrikaans nog vir haar ’n voedingsbron?

Dalk tergend, sê sy: “Dis ’n diep vraag dié!” En toe ernstiger: “Afrikaans is en bly my voedingstaal. Dis my skryftaal en al hoor ek Frans om my terwyl ek sit en skryf, bly ek dink in Afrikaans.” Ja, sy skryf ook in Engels, meestal joernalistiek, maar Afrikaans is die taal van die register van haar emosies.

Dat ons hier swoeg oor die toekoms van Afrikaans en hoe om oorlewing daarin te verseker, is Van der Vyver hoogstens van bewus, maar glad nie gepla daarmee nie. In watter taal haar boeke ook al verskyn – en dis al in meer as ’n dosyn tale vertaal, selfs Chinees en Yslands – is die grondteks altyd in Afrikaans.

Hier by ons tafeltjie waar sy heeltyd spontaan tussen Afrikaans, Engels en Frans beweeg, het ek die bewys: Al sou daar ’n post-moderne Babelse verwarring wees, sal Marita van der Vyver in Afrikaans bly skryf. Sela.

Frankryk, veral die Provensaalse leefstyl, is nou ook ’n voedingsbron. “Plek is vir my belangrik. Ek skryf vanuit daardie geografiese plek, maar taal en die agtergrond van my wêreld vorm steeds my stories. My verhale kan afspeel in Frankryk of selfs Portugal, maar my karakters is altyd Suid-Afrikaans,” vertel sy.

Sy voel nie afgesluit uit haar eens Afrikaanse leefwêreld nie. Sy bly in konstante voeling danksy gereelde besoeke, ten minste twee keer per jaar en soms meer, en bly ook in kontak met familie en vriende deur lekker oor Skype te gesels. “Daar’s ook nog die internet en ek google graag. So bly ek in kontak. Ek voel nooit eintlik verwyderd nie.

“Waaraan ek wel moet werk, is om wanneer ek hier is, fyn te luister na taalvariante, modewoorde, veral vir jeugboeke waar dit ’n groot uitdaging bly om voor te bly met die jargon.”

Hoewel sy in alle genres publiseer – romans, kortverhale, essays, kookboeke, jeugboeke en kinderboeke – is die genre-indeling van haar Franse kontreistories altyd ’n probleem vir boekbemarkers, vertel sy. Van der Vyver noem dit haar nie-fiksie-werk. “Dis stories oor ons Franse lewe wat op werklike gebeurtenisse gegrond is, dis feitelik, met miskien hier en daar ’n ekstra skeut verbeelding, maar nogtans meer feite as fiksie.”

Pas het Swemlesse vir ’n meermin, ’n jeugboek, en ’n paar weke gelede ook ’n heruitgawe van ’n kinderboek, Olinosters op die dak, verskyn. Geheimsinnig voeg sy by dat ’n ander boek ook nog vanjaar aan die kom is, maar sy mag nog geen woord daaroor rep nie.

Wat haar nou opgewonde het, is die verwerking van haar roman Dis koue kos, skat as ’n rolprentteks wat sy self aanpak.

Om iets van Van der Vyver vandag vas te vang, kan jy met ’n paar syfers speel. Vier dekades gelede meld sy haar aan as belowende jong digter wat ’n nasionale poësieprys vir matrieks wen, sewe jaar later debuteer sy met ’n jeugroman, tien jaar later is haar Griet skryf ’n sprokie ’n boeksensasie wat haar as internasionale skrywer vestig. Sedertdien publiseer sy produktief en speel steeds met idees en temas. Haar DNS dalk: Afrikaans, humor en die liefde.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.