Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Amateurs kán deeglik krap
Nie-fiksie, Bloody Lies, Thomas Mollett & Calvin Mollett, PENGUIN, R202

Omdat ons almal ’n “Inge” ken.

Omdat die reg onbevooroordeeld moet wees, “maar in die geval van Inge Lotz het leuens die skaal geswaai”.

Dís die antwoord op ’n vraag wat jy van bl. 1 van Bloody Lies vra: Wat was die dryfkrag agter die navorsingswerk van die broers ­Thomas en Calvin Mollett toe hulle ’n “herondersoek” na dié opspraakwekkende moord aangepak het?

Thomas se navorsing het begin nadat hy Antony Altbeker se Fruit of a Poisoned Tree (2010) oor die moord gelees het. Fruit was “eensydig”. Iets het hom gepla.

Die beskuldigde, Fred van der Vyver, is onskuldig bevind. En die lys deskundige getuies was gewigtig.

Tog was Altbeker vir die Molletts te pro-Fred, te pro-verdediging, te anti-polisie; die uitspraak wankelrig.

Dit was die stryd van die DVD-houer en die geheimsinnige drinkglas (bl. 39), een wat die verdediging gewen het met ’n fyn taktiek, sê die broers: “Diskrediteer getuies. Maak ’n berg van die kleinste polisiefout.”

Vraagtekens hang oor die strafsaak, is hul gevolgtrekking – veral oor een staatsaanklaer, die verdediging se deskundige getuies; nié oor die polisie nie. Leuens is aan die hof vertel, belangrike vrae nie gevra nie. Volgens die skrywers was die ware samesweerders die verdedigingspan.

Ernstige aantygings, maar die Molletts gee redes. Hulle distansieer hulle van emosionele anti-Fred-uitsprake, maar bly wys die vinger na hom op grond van die wetenskap: Sy alibi, Inge se kopwond-afmetings, ’n bloedspoor, die beweerde moordwapen (ornamentele hamer), ’n vingerafdruk.

Bloody Lies staan in die teenoorgestelde hoek as Fruit. Maar waar die Molletts hul ondersoek ná die strafsaak moes doen, was Altbeker dáár. “In watter hoedanigheid?” sê die skrywers.

Hulle ontken nie polisiefoute nie, maar meen die uitsprake van die verdedigingsdeskundiges moet herondersoek word. Die skrywers ontken nie hulle is citizens nie, maar wys daarop dat wetenskaplikes hul bevindings nagegaan het.

Bloody Lies vra indringende vrae oor die verdediging se soeke na ’n ander moordenaar, hul polisiesamesweringsteorie, hul verdagmaking van staatsgetuies.

Dis grootliks tegnies, maar daar is ook gemakliker leesstof – soos nuwe onderhoude met staatsgetuies en hofgetuienisontleding. Boeiend, deeglik, fassinerend is dalk ’n gepaste beskrywing.

Meer oor die skrywers se agtergrond sou egter welkom wees en volledige name, pleks van net voorletters (hier en daar) beter.

Bloody Lies is allesbehalwe amateuragtig. Dit bewys citizens kan ook aan onreg krap. Al wat nodig is, is deursettingsvermoë en ’n ewe onverskrokke uitgewer. – Marlene Malan is ’n vryskutjoernalis van Kaapstad.


Koop die boek hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.