Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bloedvreemd: Roerende verhaal gryp die leser aan

Niefiksie

Bloedvreemd

Juliana Coetzer

JONATHAN BALL, R210

Dit is seker een van ’n ouer se grootste vrese: ’n gesonde kind wat onverklaarbaar siek word en stadig, pynlik, agteruitgaan.

Veral ’n kind wat al op sewe met trots verklaar het sý is nie die bang soort nie, soos Anneke in Juliana Coetzer se Bloedvreemd.

Dié roerende verhaal van Coetzer, ’n psigoterapeut wat in trauma spesialiseer, is geskryf uit haar eie ervaring as ’n ma wat skielik al die drome wat sy vir haar dogter én gesin gehad het, in heroënskou moes neem.

Want op sewe doen die talentvolle Anneke ’n siekte op wat haar by die dood laat omdraai en hoewel sy herstel, is die gevolg ernstige breinskade.

Die kind wat eens mense aangetrek het met haar persoonlikheid, staan haar identiteit en onafhanklikheid aan ’n onbekende vyand af.

Die breinskade lei daartoe dat sy epileptiese toevalle kry, aggressief word en later sukkel met kommunikasie en psigotiese ervarings.

Anneke se agteruitgang en die ontrafeling van haar geestesgesondheid is die spil waarom die eerste hoofstukke van die boek draai en Coetzer beskryf dit met empatie en deernis, ook vir haarself, haar man en seuns.

Juis daarin lê een van die boek se sterkpunte: Dit is nie iemand dié wat selfbejammerend onthou hoe haar hele lewe in ’n oogwink verander het nie, maar ’n ma wat met wysheid van terugskouing kan besin oor die onverwagse pad wat die lewe soms met jou kan inslaan.

Die verhaal wentel veral om Coetzer se verbete soeke na antwoorde: van dokterspreekkamers en selfs tot so ver soos die profeet TB Joshua se kerk in Nigerië en die ontrafeling van ’n geheim uit haar eie kinderdae.

Coetzer skroom nie om haar eie swakheid te ontbloot en haar broosheid bloot te lê nie.

Ander ouers, of enigeen wat al die impak van ’n traumatiese verlies ervaar het, sal hierby aanklank vind. 

– Riëtte Grobler is die nasionale leefstyl-en-vermaakredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.