SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Boeke
Blou gedagtes uit Dana se kamp
Dana span oudergewoonte nostalgie in om die digitale hings in te breek, skryf Jacques Myburgh.

In die blou kamp deur Dana Snyman. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R225.

Kyk, as jy een van Dana Snyman, die bekroonde kortverhaalskrywer van boeke soos Onder die radar en Uit die binneland, se vriende op Facebook is, is jy ’n gelukkige ou. As ’n mens nou op sy Facebook gaan en die “bevriend”-knoppie druk, sê Facebook vir jou: “Nee, sorry pel, dié ou het klaar te veel vriende.”

Dis dalk een van die redes hoekom Snyman besluit het om sy Facebook-stories in ’n kortverhaalbundel saam te stel. In sy jongste boek, In die blou kamp, jaag Snyman al sy gedagtes in een kamp in. Die blou kamp. Die Facebook-kamp.

Waar jou gewone Facebook-gebruiker teem oor die land en sy ellendes, doen Snyman die teenoorgestelde. Met sy kenmerkende nostalgie en fyn waarnemingsvermoë probeer hy sin maak uit die digitale wêreld wat ons lewe oorheers.

“Ek het min of meer net een maatstaf: Met alles wat ek op Facebook skryf, probeer ek iets van myself en hierdie land en ons verlede aan myself verduidelik en dokumenteer en terselfdertyd met mense daaroor in gesprek tree . . .,” skryf hy in sy voorwoord.

In die 95 kortverhale is dit duidelik dat die dood van sy pa en verlange na sy ma nog rou in sy borskas en pen sit. In “A cappella” skryf Snyman oor sy pa se tassie met musiekkassette wat hy ná sy dood saam met hom Jacobsbaai toe geneem het. Kort voor sy dood het hy sy pa gesien sit voor die musieksentrum en Tennessee Ernie Ford op ’n kasset opneem. “There will be peace in the valley for me . . .,” het dit oor die luidsprekers geblêr.

“Af en toe maak ek die tassie oop en sit in die oorverdowende stilte na die kassette en staar.”

Elke storie bevat ook ’n foto wat hy saam met die storie op Facebook geplaas het. “Avokado: Dag 1”, het ’n foto met ’n avokadopit wat hy en Johannes, sy pa se destydse werker, wil laat ontkiem in ’n fles met water. Die avokadopit word grotendeels ’n metafoor vir sy ma en kom gedurig voor in sy ander kortverhale.

“Dis ’n mooi groot pit, hoor ek Ma sê. My ma, wat ek nou in my middeljare, meer as tien jaar ná haar dood, eers deur myself leer verstaan . . . Op elke dorp waar ons gewoon het, het sy ’n avokadoboom in die tuin agtergelaat.”

Hy dra ook ’n ode aan gestorwe legendes soos Ollie Viljoen op en skryf oor ’n komiese storie wat Ollie vir hom vertel het met hul laaste ontmoeting.

“ ‘Het ek jou al die storie vertel van die dronk ou in die doodskis?’ Sy stem is moeg. Hy was in die hospitaal met hartversaking, maar nou lê hy hier op die bed in die spaarkamer van sy seun se huis op Gordonsbaai.”

Dana besoek steeds die randfigure en die vergetenes wat vasklou aan hul tradisies in ’n wêreld wat toenemend aan die verander is. Die Tankwa-Karoo se mense en hul donkiekar-tradisie en hul jaarlikse donkiekardag om die paar honderd inwoners trots te laat voel op hulself.

Oor Antie Delia, een van Adderley­straat se laaste blommeverkopers, skryf hy: “ ‘Ons het groetgeword yt die blomme yt,’ sê Antie Delia. ‘Zuma se mense koepie blomme nie. Dis nou net karre en kliere en selfouns, jong.’ ”

Die boek laat jou besef dat Dana maar net nog ’n Facebook-gebruiker is wat die nuus en daaglikse gebeure in sy lewe bespreek, maar hy doen dit hartroerend.

As die hoenderpoot-plooitjies langs jou slape verskyn en die kreukel tussen jou oë nie smôrens wil weggaan nie, moet jy besef dat jy ’n Dana Snyman-leser is.

 Jacques Myburgh is ’n honneursstudent in joernalistiek aan die US.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.