Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bly kalm en lees Kalmer
’n Duisend stories oor Johannesburg is ’n ode aan dié stad, sy mense en hul stories. En ons kon niemand beter gevra het om dit te skryf nie.
Harry Kalmer
Fiksie, ’n Duisend stories oor Johannesburg, Harry Kalmer, QUEILLERIE, R229

In 1993 het Harry Kalmer Afrikaanse literatuur bekendgestel aan ’n grootse figuur, ene X-Ray Visagie. Dié gewese televisievasvra-kampioen het kultus-status bereik nog voordat hy deur die veiligheidspolisie doodgeskiet is.

Sy terroristegroep, Die Vingers van God, het bomme geplant en die regering tot sy knieë probeer dwing in die 1980’s vanuit hul hoofkwartier in Yeoville.

Die hele alternatiewe geskiedenis van Johannesburg was in hierdie boek vasgevat. Die portrette van ­Yeoville het uitgestaan, die karakters daarin was lewendig en ’n refleksie van die dag. Die Goudstad het trots in die agtergrond gestaan en geglimlag vir die gebeure wat in hom afgespeel het.

X-Ray Visagie en Die Vingers van God was ’n ondergrondse treffer wat as gevolg van verspreidingsprobleme van hand tot hand aangegee is.

Eksemplare wat letterlik uitmekaar geval het, is weer met kleefband aanmekaargesit sodat dit weer en weer gelees kan word. Tot vandag toe het ek nog nooit ’n eksemplaar in ’n tweedehandse boekwinkel raakgeloop nie.

Nou is X-Ray al lankal stof, die boek is uit druk uit en intussen het Harry al sewe ander boeke geskryf.

Nie een so goed soos X-Ray nie.

Een-en-twintig jaar later is Harry terug met ’n Duisend stories oor ­Johannesburg.

Nou is ons almal ouer, met minder hare en ons woede is vervang met heimwee. Die Johannesburg van X-Ray bestaan nie meer nie. Dit is nou ’n immigrante-stad soos New York en Lagos. Almal kom van iewers anders af. Die geldspook praat hard en wat eens ’n trotse sentrale sakegebied was, word nou oorstroom met sypaadjiestalletjies wat plastiekware en geheuestokkies uit China verkoop.

Johannesburg is nou uiteindelik ’n wêreldstad.

Hierdie is die stad waarheen ons hoofkarakter Zweig van Niekerk terugkeer ná dekades in die buiteland.

Hy is hier om ’n toespraak oor sy argitektoniese nalatenskap te gee, maar eintlik is dit ’n pelgrimstog –’n soeke na die verlore Johannesburg wat hom en sy oorlede Indiër-vrou in die 1960’s uitgewerp het.

Zweig mag dalk die hoofkarakter wees, maar die eintlike held van die storie is Johannesburg, ’n onderwerp waarmee Harry homself bemoei in omtrent elke boek.

Die boek begin by die konsentrasiekamp in Turffontein in die vroeë 1900’s, maar die meeste daarvan speel af in kontemporêre Belgravia, die vervalle Johannesburgse woonbuurt net oos van Jeppes­town.

In hierdie vervalle woonbuurt het iemand ’n spoggerige boetiekhotel begin waarvan die gaste elkeen ’n storie het om te vertel. Zweig kies dit egter omdat dit oorkant die straat van die tehuis is waar sy tweelingsuster tuisgaan.

Die storie word ’n refleksie van ’n mikrokosmos van Johannesburg vandag, met elke denkbare karakter. Dit speel hoofsaaklik af teen die agtergrond van die xenofobiese geweld in die townships in 2008.

Daar is die straatrowers, die slagoffer van xenofobie wat gered word deur die nuuskameraman wat ook ’n gas is, die Chinese Suid-Afrikaner wat tai tji doen, maar bowenal is daar die eienaar van die boetiek-hotel en amateurdigter, Bosman Hiemstra, wie se ingewikkelde persoonlike lewe elke keer nóg ’n uieskil aftrek wat die verhaal opkikker.

Dit is een van die redes hoekom ’n Duisend stories oor Johannesburg jou verbeelding vasvang reg van die begin af. Wel, amper reg van die begin af.

Moenie die moeite doen om al die name te onthou aan die begin nie.

Die kort sketse dien slegs as ’n agtergrond terwyl Harry sy storie stadig ontbloot soos ’n ontkleedanser wat langer as net een Guns N’ ­Roses-liedjie vat om van haar klere ontslae te raak.

Harry vertel die storie soos iemand wat baie ervaring het van stories vertel, seker nie ’n moeilike situasie as ’n mens 23 toneelstukke agter die blad het nie.

Met elke scenario en nuwe karakter bring hy nog elemente na die storie om die donkerte waarin jy ronddwaal, ligter te maak.

Hy verweef hierdie stories sonder om iemand af te skeep en dwing jou om bladsy op bladsy te lees al is dit al verby slaaptyd. Dis dieselfde as om halftien in die aand “net nog een episode” van die televisiereeks te kyk waarmee jy besig is.

Sy karakterontwikkeling gebeur teen die agtergrond van goed nagevorste geskiedenis oor Johannesburg. Soveel so dat jy op die einde besef dat Johannesburg vandag steeds dieselfde plek is as wat dit gedurende die tyd van die goudstormloop was – ’n plek waarheen mense kom met die hoop om ’n beter, nuwe toekoms te vind.

Die sukses van die boek is nie net die storie nie, maar veel eerder hóé dit vertel word. Dit is die teken van ’n skrywer wat sy selfvertroue en voete op dieselfde tyd gevind het.

’n Duisend stories oor Johannesburg is ’n ode aan die stad én die mense én hul stories.

Ons kon nie vir iemand beter gevra het om dit te skryf nie. – Deon Maas is ’n skrywer en dokumentêre rolprentmaker.

Kliek hier om die boek te koop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.