Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Boek beskryf San se rol in Grensoorlog
Ian Uys met sy boek Bushmen Soldiers wat die weermagdae van 31/201-Bataljon-lede beskryf. Foto: Charné Kemp

KIMBERLEY. – Die afgelope naweek was vir oudstryders van 31/201-Bataljon emosioneel toe ’n hersiene boek met foto’s en verhale van hul weermagdae op ’n byeenkoms by Wildebeeskuil bekend gestel is.

’n Gedenkdiens is ook gehou. Dit word elke tweede jaar as militêre parade by Platfontein aangebied en die doelwit is om lede te vereer wat die hoogste prys in die Grensoorlog betaal het.

Vanjaar is dié eenheid se 40-jaar-herdenking.

’n Belangrike deel van die bataljon was die destydse insluiting van die !Xun- (Vasekeles) en die Khwe- (Mbarakwengo) sangroepe wat uit verskillende gebiede in Angola gekom het.

Hulle is ná die Grensoorlog in demokratiese Suid-Afrika uiteindelik in Platfontein gevestig.

Die Portugese regering in Angola het die San (ook Flechas genoem wat “pyle” beteken) in die 1960’s in teeninsurgensie-operasies teen die vryheidsvegters gebruik.

Met die onttrekking van Portugal aan Angola in 1974 het dit die San weerloos teen vervolging deur die nuwe Angolese regering gelaat.

Oudkol. Delville Linford was die Suid-Afrikaanse skakeloffisier in die Portugese leër in Serpa Pinto waar hy die Flechas leer ken het. Hy het voorgestel dat die San-groepe hulle by die Suid-Afrikaanse weermag aansluit.

Ian Uys se boek, Bushmen Soldiers: The History of 31, 201 & 203 Battalions During the Border War 1974-’90, sluit die verhale en foto’s van dié bataljon in.

Uys het die eerste weergawe in 1993 gepubliseer, maar dit is deur die weermag gesensor en skuilname is gebruik. Die boek is ’n optekening van lede, wat ook Suid-Afrikaners insluit, se ervarings in die Grensoorlog.

In sy hersiene uitgawe kom daar nog verhale by en word lede se regte name gebruik. Uys sê as verhale nie neergepen word nie, is dit so goed dit het nooit gebeur nie.

“Meer mense het met my gesels en die prentjie is vollediger geskets. Die staaltjies was veral wonderlik.

“Op ’n dag moes ’n groep deur ’n drif loop. Die bevelvoerder, wat langer as die Boesman-soldate was, het besluit hy sal eerste deurloop. Toe die ander hom nie wou volg nie, was hy vies. Totdat hulle sy aandag op die krokodilspore in die sand gevestig het.”

Die Britse uitgewer sê Uys se boek is ook die verhaal van die Boesmans as ervare bosspesialiste, meedoënlose spoorsnyers en toegewyde soldate. Hulle het ook geleer om moderne wapentuig te gebruik.

Gedurende Operasie Savanna is hulle as veggroep Alfa as deel van taakmag Zulu ontplooi. Hulle het ongeveer 2 000 km in ’n maand afgelê.

Sommige is ook opgelei om valskerm te spring en as verkenners agter vyandelike linies te dien. Ander is by eenhede as verkenners en spoorsnyers gebruik.

Hul lojaliteit en dapperheid is met Honoris Crux-medaljes vereer.

Die boek is ook op www.amazon.com te koop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.