Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Brandwaterkom’: Alexander Strachan maak geskiedenis
Die boeiende oorlogsgeweld en spanning tussen Boer en Brit word netjies in ryk tapisserie verweef, skryf Joan Hambidge.

Brandwaterkom deur Alexander Strachan. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R240. ­Resensent: Joan Hambidge

Alexander Strachan is ’n fyn stilis en vernuftige skrywer. Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.

Min skrywers het al oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar “slow violence” ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz? op.

Die ABO en die Grensoorlog is die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van magiesrealistiese oomblikke tydens ’n besoek aan Dwaalpoort.

Die skrywer as historiograaf is tans ’n opvallende neiging: ’n mens dink aan die werk van Karel Schoeman en Dan Sleigh. En Marié Heese. Willem Anker se grensverskuiwende Buys . . .

Wie se storie is ons besig om te lees? Esther van Emmenes se optekening? Of die verhaal van Vilonel? Of die boodskapper? Die verskillende stories skuif ineen: soos twee snellers wat afgetrek word, aldus die buiteblad – dalk eerder ’n dubbelloopgeweer. Wie vertel? Of word die verteller uiteindelik die vertelling self? Daar is ook die verhaal van Bullet – ’n korrektief dalk? Elke vertelling of belydenis word deur ’n ander weergawe “bevestig”. Net soos die geskiedenis oor die ABO ook deur orale vertellinge verander word en die werk van Bill Nasson lewer op sy beurt ’n ander blik op die swart mense se deelname . . . En daar is swart mense, weliswaar randfigure, in Strachan se roman.

Die skrywende verteller moet onder andere ’n jeug en kinderdae skep om dit vir die leser geloofwaardig te maak. En geloofwaardigheid is die grootste eis vir die historiese roman. Wanneer ons byvoorbeeld ’n danstoneel beleef, is die leser binne daardie tyd – en hierom is hy nie ’n “onthoofde mens” nie. Strachan maak van sy karakters “mense”, “vol karakters” om E.M. Forster se term te gebruik.

Die skrywende verteller se werkswyse verraai ook iets van die implisiete outeur se retoriese strategieë, om met Wayne C. Booth saam te praat in sy belangrike The Rhetoric of Fiction (1961). En hoe ’n karakter byna ’n obsessionele teenwoordigheid is vir ’n skrywer word insigryk beskryf. Esther van Emmenes se donker verlede gee haar begrip vir die ingewikkelde lewe van Vilonel. Alexander Strachan se kennis van sowel die ABO as die grensoorlog bring ’n verrassende (binne-) perspektief.

Die Anglo-Boereoorlog-wêreld en die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk tapisserie. Louis Botha, pres. Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé.

Die impak van runderpes en die oorlog het gesiene boere van aansien en plase gestroop en bywoners van hulle gemaak. Ons weet hoe die plase geplunder is deur die Engelse en hiermee is die lewensaar van kos vir die vegtende Boere afgesny.

Die reuk van die oorlog word konkreet beskryf. Ons sien hoe ’n koeël uit ’n been verwyder word. Redvers Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel, biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare karakter.

Die oorlogspanning word nou verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende sub-teks. En die skrywer skryf op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot liefde.

Daar is momente wat ’n mens net nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in die kol.

Die roman bevat ’n uitgebreide bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in ’n dorp. Hoe mense se rolle hul lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die tragiese nadraai daarvan.

Die troebel gemoed van Vilonel wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk . . .

Dit is in ’n gestroopte, toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is natuurlik ook hier met ’n verwysing na “The Jacket”.

Lees hierdie uitstekende roman.

  Joan Hambidge is professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die UK.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.