Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Brandwaterkom: Alexander Strachan se spel met leser
Met Brandwaterkom stel Strachan ten toon op welke wyse geskiedkundige feite en fiksie geslaagd in boeiende leesstof omskep kan word, meen Dewald Koen.
Alexander Strachan Foto: Jaco Marais
Brandwaterkom

Fiksie

Brandwaterkom

Alexander Strachan

TAFELBERG, R240

Alexander Strachan is bekend om sy dinamiese debuut ’n Wêreld sonder grense, wat in 1984 gepubliseer is. Dié kortverhaalbundel word onder meer opgevolg met twee bekroonde romans, naamlik Die jakkalsjagter en Dwaalpoort.

Strachan se nuwe roman, Brandwaterkom, is onlangs met die derde prys in NB Uitgewers se Groot Romanwedstryd bekroon. Lesers mag hulself egter afvra waarom juis nóg ’n roman oor die Anglo-Boereoorlog gepubliseer word?

Die afgelope twee dekades was daar ’n opbloei van romans wat tydens die Anglo-Boereoorlog afspeel: Ingrid Winterbach se romans Belemmering, Buller se plan en Niggie; Dolf van Niekerk se Brandoffer; Sonja Loots se Sirkusboere; en meer onlangs Francois Smith se Kamp­hoer.

Soos met die tradisionele plaasroman, beskik die geskiedkundige gebeure rondom die ABO oor soveel literêre moontlikhede dat dit onmoontlik ’n afgestompte onderwerp as vertrekpunt vir fiksie kan word.

Met Brandwaterkom stel Strachan ten toon op welke wyse geskiedkundige feite en fiksie geslaagd in boeiende leesstof omskep kan word.

Die verhaal speel – soos in Christoffel Coetzee se Op soek na generaal Mannetjies Mentz – in die Brandwaterkom en nabygeleë gebiede af in die aanloop tot die ABO. Die narratief fokus veral op die groot veldslae in die eerste jaar van die oorlog.

Die leser kry vroeg in die verhaal met verskeie vertellers te doen – vandaar die verwysing na die roman op die agterflap as ’n “dubbelloop-roman”.

Net soos in Strachan se vorige roman, Dwaalpoort, word die leser getrakteer op die lewensverhaal van meer as een karakter vanuit verskillende vertelperspektiewe.

Esther van Emmenes is ’n navorser verbonde aan ’n plaaslike universiteit. Sy besoek Fouriesburg, waar sy haarself tydelik vestig om in die omliggende gebiede navorsing oor die ABO te doen vir haar proefskrif.

Met die verloop van haar navorsing ontmoet Esther ’n paar interessante persone, waaronder Bullet, ’n karakter wat talle ooreenkomste toon met ’n gelyknamige karakter in Strachan se roman Dwaalpoort. Bullet se verbintenis met die plaas Dwaalpoort en veral ook die wit hartbees, Mhlope, lei Esther op ’n senutergende speurtog wat geskiedkundige navorsing na allesbehalwe vervelig laat lyk.

Tussendeur kry sowel Esther as die leser met die stem van die Boodskapper te doen wat die intrige verder kompliseer.

Hoewel Esther se daaglikse bestaan op die oog af monotoon daar uitsien, het sy vele geraamtes in haar kas wat vanuit Bloemfontein by haar spook.

Die tweede “loop” van die “dubbelloop-roman” handel oor Fanie Vilonel wat as regsgeleerde hoë aansien onder die plaaslike Vrystaatse gemeenskap geniet. Fanie is egter terdeë bewus van sy verpligtinge as Afrikanerman en voer ’n innerlike stryd om die regte besluite te neem. As kryger speel Vilonel ’n belang­rike rol tydens die verskeie veldslae waaraan hy deelneem en wat deur onvoorsiene omstandighede tot ’n verrassende voorval aanleiding gee.

Boonop is daar die aantreklike Miss Sutty wat Vilonel se lojaliteit teenoor sy eggenoot en vaderland verder beproef.

Strachan het op meesterlike wyse die geskiedkundige feite met fiksie verweef. Sy beskrywing van die verskeie veldslae is aandoenlik. Hy fokus veral op geskiedkundige figure, soos sir Redvers Buller wat op amper komiese wyse uitgebeeld word. Selfs tydens die droewige oorlog is daar talle humoristiese beskrywings van die lewe op kommando, maar veral van Buller se karakter. Soos in Ingrid Winterbach se Buller se plan, word die veldslae waarby Buller betrokke was, noukeurig beskryf. Strachan se skerp sin vir detail en fyn sintuiglike waarnemingsvermoë stel lesers in staat om die veldslae mee te maak asof hulle self daar teenwoordig was.

Verwysings na die Grensoorlog kom ook in die roman aan bod. Bullet se gesprekke met Van Emmenes beklemtoon die feit dat talle oudsoldate steeds nie hierdie traumatiese hoofstuk in hul lewe kan afsluit nie. Net soos Vilonel se karakter moes Bullet ook traumatiese oomblikke tydens oorlogvoering beleef wat sy siening van die lewe drasties verander het.

Volgens Bullet is Dwaalpoort “die plek waar die twee oorloë bymekaar kom”. Dié aanhaling wek talle vrae rondom Bullet se obsessie met die plaas Dwaalpoort en watter betekenis Bullet se geheime vir Esther en Vilonel inhou.

Vrae en antwoorde is deel van Strachan se literêre spel. Wat is feit en wat is fiksie? En wie vertel die verhaal? Watter vertelling is geloofwaardig? Die antwoorde op laasgenoemde vrae moet die leser maar self ontdek.

Dit is juis Strachan se vernuftige verteltegniek wat Brandwaterkom van soortgelyke romans onderskei.

Op kreatiewe wyse word die leser op ’n speurtog in die geskiedenis geneem wat ’n onverwagte afdraaipad neem. 

 Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.