Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Breyten Breytenbach kry eregraad in Gent
Die digter-skilder Breyten Breytenbach ontvang ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Gent. Foto: Loanna Hoffmann

Die digter-skilder Breyten Breytenbach ontvang vandag ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Gent.

Hy is die derde Suid-Afrikaner om dié eregraad te ontvang; die voriges was emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en Graça Machel, die weduwee van oudpresident Nelson Mandela.

Die eredoktorsgraad word op artistieke en politieke gronde aan Breytenbach toegeken.

Ter geleentheid van twee dekades van demokrasie in Suid-Afrika het die Gentse Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika (UGent) hom vir die eredoktorsgraad benoem.

Volgens prof. Yves T’sjoen, verbonde aan die UGent en buitengewone hoogleraar van die Universiteit Stellenbosch se departement Afrikaans en Nederlands, skakel albei betrokkenhede (kuns en politiek) in by mekaar en versterk mekaar in Breytenbach se werk.

T’sjoen is in Suid-Afrika bekend om onder meer sy werk werk in verband met vergelykende studies van Afrikaanse en Nederlandse digkuns en hy dra gereeld by tot die onafhanklike digkuns-webwerf Versindaba.

As stigter van die Gorée-instituut in Dakar bring Breytenbach steeds kunstenaars van Afrika-lande byeen; só beskou is Breytenbach ’n brugbouer wat kulture met mekaar in kontak bring en ’n uitnodiging rig vir refleksie en gesprek, sê T’sjoen.

Die eredoktoraat vir Breytenbach is ’n blyk van die maatskaplike betrokkenheid wat UGent ag.

Deur eredoktorsgrade toe te ken aan Tutu en Machel en nou aan Breytenbach, “maak die universiteit ’n stelling oor die noodsaaklike en jammerlik oneindige stryd teen rassisme, diskriminasie en onreg”.

Daarnaas gee die universiteit te kenne dat sy “betrokke werk ’n internasionale karakter het met waardering vir betrokke kunstenaars en aktiviste wat elders in die wêreld hulle stryd voer of gevoer het”.

Breytenbach is internasionaal bekend as versetstryder teen rassisme en is eweneens bekend as digter, romansier, essayis en beeldende kunstenaar. Sowel sy literêre as skilder- en tekenwerk kry in Suid-Afrika en elders weerklank en sy poësie en prosa is in talle tale vertaal. Die artistieke projek van Breytenbach hou nie rekening met voorgeskrewe konvensies nie, sê T’sjoen.

Sy skilderye en tekeninge is internasionaal al wyd uitgestal. Hy het in die 1960’s na Parys geëmigreer en daar by die beweging teen apartheid betrokke geraak. Hy is al meermale bekroon vir sy skryfwerk, onder meer twee keer met die Hertzog-prys vir Papierblom (1999) en Die Windvanger (2008).

Breytenbach sal die eredoktorsgraad op 3 Desember tydens ’n plegtigheid by die universiteit in ontvangs neem.

Hy het intussen die uitnodiging aanvaar, skryf T’sjoen op Versindaba.

“Veral die aandag vir Afrikaans en die Afrikaanstalige literatuur aan die Universiteit van Gent, asook die erkenning vir sy artistieke werk het hom oortuig om die erkenning te aanvaar,” skryf T’sjoen.

Volgens Versindaba kan die verrigtinge vandag om 18:30 (Suid-Afrikaanse tyd) ​regstreeks gesien word. 

Ná die plegtigheid word ’n kollokwium van twee dae gehou oor Afrikaans, Afrikaanse letterkunde en die politieke en maatskaplike toestand in die land.

Tydens die Writers Unlimited-program op 26 September in die Sentrale Biblioteek in Den Haag het die publiek “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif” van Breyten Breytenbach verkies as die mooiste Afrikaanstalige gedig. 

Breytenbach is op die voorblad van die Oktober-uitgawe van die Vlaamse literêre tydskrif Poëziekrant. Digters soos Alfred Schaffer, Hester Knibbe, Luuk Gruwez en Charl-Pierre Naudé het daarin oor hom geskryf.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.