Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Clinton tref nog ’n keer sekuur die kol
Dié verse is intelligent, humoristies, skrynend, satiries en (gelukkig) net soms sentimenteel, skryf Daniel Hugo.

 Woorde roes in die water deur Clinton V. du Plessis. Uitgewer: Ama-coloured Slowguns. Prys: R175. Resensent: Daniel Hugo

Clinton du Plessis het hom die afgelope 30 jaar doelbewus buite die hoofstroom van die Afrikaanse digkuns geposisioneer. Dit was waarskynlik die gevolg van die ongeesdriftige ontvangs van sy debuutbundel, Geloofsbelydenis van ’n kluisenaar, wat in 1984 by Perskor verskyn het. 

Sedertdien gee hy sy bundels self uit.

Du Plessis is ook die enigste gerekende Afrikaanse digter wat geweier het om in André P. Brink se alleensaligmakende en allesomvattende Groot Verseboek opgeneem te word.

Du Plessis vertroetel dus al drie dekades lank sy kluisenaarskap. Hy het van die begin af ’n afkeer van die literêre establishment gehad, maar ook ’n gesonde skepsis oor sy eie skrywerskap, soos blyk uit die volgende reëls in sy debuut:

dis sinvoller om ’n DJ in ’n disko te wees

as om ’n skrywer te wees

dis sinvoller om jou kop vol poësie weg te pak

as om te dig en die kritici op jou kop te laat kak!

Sy volgende bundels het hoofsaaklik optelgedigte, oftewel “ready-mades”, uit die media bevat. Hy het ook ’n voorkeur gehad vir stapelverse, waarin alledaagse handelinge en verskynsels gekatalogiseer is. Hierdie optel- en opstapelverse was meestal maatskappykrities, maar ook selfkrities. Sy kortste gedig in hierdie genre is deur Gerrit Komrij beroemd gemaak. Komrij was een van die min bloemlesers wat met sy Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte genade gevind het in Du Plessis se oë. Die titel van die gedig is “Versetvers” en die hele gedig bestaan uit net een woord: “fôk”.

In 2012 het hierdie eenspaaierdigter ’n bundel kort Facebook-verse gepubliseer met die gepaste titel Flitse.

Só klink die slotgedig van dié boeiende bundeltjie:

God skuif sy muis

oor die plasmaskerm van die heelal,

bal sy vuis,

sug en kliek op die klein-klein verweerde

aarde . . .

en lag: ctrl, alt, del?

En toe, verlede jaar, verbaas Clinton du Plessis sy lesers met ’n omvangryke en oorrompelende bundel, Rangeer, van 142 bladsye waarin onder meer sy jeug as spoorwegkind opgeroep word. Hy noem dit inderdaad “ ’n tyd van stoom, steenkool, stasies en stories”.

’n Mens dink hier onwillekeurig aan Gert Vlok Nel se “Eenvoudige spoorwegstories” in sy digbundel Om te lewe is onnatuurlik van 1993 – maar die ooreenkoms is net tematies, nie stilisties nie. Met Rangeer het Du Plessis groot aanhang verwerf en dit het hom klaarblyklik soveel selfvertroue gegee dat hy dit ’n jaar later opvolg met ’n nog omvangryker bundel, Woorde roes in die water (206 bladsye).

Dit bevat liefdesgedigte waarin ouderdom en die dood voortdurend paaiboelie speel, gedigte oor die werkersklas in die trant van die Amerikaanse kultusskrywer Charles Bukowski, “grepe uit ’n alledaagse bestaan” (bl. 169), politieke verse, reisverse, gedigte oor digters en die skryf van gedigte, en vele meer.

Du Plessis se verse is intelligent, woordspelig gevat, humoristies, skrynend, satiries, liries en (gelukkig) net soms sentimenteel. Daar is talle klinkende reëls, soos die volgende: “as die winter donker kom kooimaak op ons drumpel” (bl. 16). In “Verplaas” is ’n boer aan die woord en hy bid ten slotte: “Nog net één seisoen Heer / voordat ek hierdie alfabet van die grond / af moet leer.” Hier is ’n voorbeeld van sy (effens seksistiese) humorsin: “die onstabiliteit / het die wisselkoers wipplank, / soos ’n maklike sekretaresse, laat ry” (bl. 81).

Soms is hy heerlik wrang: “Die dood bly deurlopend nuus, / asof dit uit die mode gaan / raak” (bl. 93). En hier is hy weer (met ’n sluwe knipoog na Allan Boesak) skepties oor die makers van verse: “die digter word / sy eie skrif aan die muur / herhaal homself tot sterwens toe” (bl. 173).

Du Plessis mag hom afsydig hou van die literêre binnekring, maar hy is baie goed op die hoogte van sy skrywende tydgenote, soos onder meer duidelik word uit die gedig “My verweer teen die woord”. Sy gevolgtrekking is: “Oor die Afrikaanse poësie / kan jy hoogstens, net, onaf gedigte skryf.” Dit is ’n baie besadigder oordeel as Nathan Trantraal, wat van “die cunts innie Groot Verseboek” praat in sy bundel Chokers en survivors. Du Plessis verwys nie verniet in sy gedig “Small comfort vir die ou digter” na Trantraal as “ ’n nuwe jong turk” wat “pronkpou sy stertvere in jou gesig oopvou” nie.

Die enigste ding wat die leser se plesier aan hierdie bundel versteur, is die talle leesteken-, spel- en setfoute. Dit het nou al ’n konstante klagte geword by resensente van privaat gepubliseerde boeke. Of is dit in Clinton du Plessis se geval ’n teken van sy voortdurende verset teen die gevestigde uitgewersnorme? Só beskou, kry die volgende reëls vroeg in die bundel dan ’n tipografies-ikoniese betekenis: “Ons is nou nietig: / voetnote in fynskrif, / slordige setfoute in die kabaretteks van die lewe” (p. 15).

Desnietemin, koop en geniet hierdie besonderse bundel!

 Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.

 Kry die bundel by Posbus 547, Cradock 5880 of clintonvduplessis@gmail.com. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.