Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Coetzer-outobiografie ontroer en inspireer

Bloedvreemd deur Juliana Coetzer. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R210. Resensent: Dewald Koen.

Verlies en trauma is alledaagse verskynsels waarmee elke mens tydens sy of haar leeftyd gekonfronteer word hetsy deur die verlies van besittings of die afsterwe van ’n geliefde.

Elke mens verwerk verlies en trauma verskillend en laasgenoemde vorm die kern van Juliana Coetzer se outobiografie, Bloedvreemd.

Hoewel die teks nie as ’n outobiografie bemark word nie, bestaan die teks uit Coetzer se persoonlike verhaal oor haar dogter se diagnose met ’n skaars siekte wat haar gesin se alledaagse bestaan tot in sy fondament ontwrig het. Coetzer se outobiografie is hoofsaaklik gegrond op haar en haar gesin se jare lange worsteling nadat haar dogter, Anneke, met Landau-Kleffner-sindroom gediagnoseer word en hoe dit elke lid van haar gesin geaffekteer het.

Anneke, eens ’n lewenslustige en uitgesproke sewejarige, raak in 1997 onverwags siek tydens ’n gesinsvakansie. Aanvanklik lyk dit asof Anneke se siektetoestand verbeter, maar mettertyd vererger dit deur daaglikse epileptiese aanvalle wat geleidelik vermeerder en Anneke oor ’n dekade heeltemal van haar intellektuele onafhanklikheid ontneem.

Oor ’n tydperk van 14 jaar word die gesin met talle uitdagings gekonfronteer. Die emosionele verlies van ’n geliefde dogter se sprankelende persoonlikheid, wrywing tussen huweliksmaats en sosiale vooroordele word geleidelik deel van die Coetzer-gesin se daaglikse bestaan. Hoop en onvoorwaardelike liefde word die gesin se enigste kruk. Besoeke aan dokters en geloofsgenesers word in besonderhede beskryf in die ouers se soeke na ’n moontlike geneesmiddel vir hul dogter se siektetoestand. Dit vertel ook Juliana se persoonlike reis op soek na innerlike genesing, asook ’n geloofstryd met God wat alle lede van die gesin geraak het.

Lesers sal Coetzer se verhaal maklik met fiksie kan verwar weens die besonder geloofwaardige en boeiende vertelstyl waarmee die gesin se daaglikse stryd en soeke om antwoorde op hul vrae verwoord word.

Coetzer se verhaal toon sterk ooreenkomste met Annelie Botes se fiktiewe roman Raaiselkind, wat handel oor ’n gesin se stryd om hul outistiese seun te versorg. Net soos in Botes se geval fokus Coetzer se verhaal grootliks op die emosionele uitdagings wat haar gesin in die gesig moes staar weens Anneke se siektetoestand. ’n Hoofsaaklik onbekende siektetoestand soos Landau-Kleffner-sindroom word met deernis en eerlikheid in Coetzer se lewensverhaal uitgebeeld. (Hopelik sal Coetzer se outobiografie meer lesers inlig en opvoed omtrent die simptome van hierdie skaars sindroom.) Terselfdertyd word Juliana net soos Ingrid in Botes se Raaiselkind met gevoelens van mismoedigheid, woede, skuldgevoel en hartseer gekonfronteer.

Die verhaal verkry verder gestalte wanneer geheime rondom Coetzer se verlede opduik wat haar tot op emosionele breekpunt neem. Coetzer onderneem ’n reis na Namakwaland en Namibië waartydens sy geleidelik innerlike vrede met haar verlede kon vind.

Coetzer se outobiografie is belydenisliteratuur op sy beste. Geen emosie of gedagte word ontsien nie en neem die leser tesame met die Coetzer-gesin op meelewende wyse na haar hartseer, vreugde, maar ook die soeke na stelselmatige aanvaarding. ’n Addendum is ook by die teks ingesluit waarin Coetzer haar gedagtes rondom trauma en die wyse waarop dit die mens affekteer met lesers deel.

Dié outobiografie sal lesers nie teleurstel nie. Hartseer en skokkend is dit wel – maar dit is ’n fassinerende leeservaring wat die leser lank sal bybly.

  Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.