Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Debuut boei, ondanks gebreke
Glipstroom, Anemari Jansen, HUMAN & ROUSSEAU, R195

Maja Jonker is die enigste vrou in ’n padkamp in die Kavango in Namibië waar haar man, Louis, aan ’n projek werk. Die vorige jaar nog het sy ’n redelik sorgvrye en selfs roekelose bestaan gevoer as onderwyseres in die skadu van die Soutpansberg.

In dié tyd word haar nuuskierigheid geprikkel deur die kunstenaar Lem, wat op ’n plaas in die berge woon. Hy vervul mettertyd heelwat leemtes vir Maja, maar die gevolge van besluite wat sy neem en nié neem nie, dra sy saam met haar: “Ek leef in die glipstroom van verlede jaar. Alles wat toe gebeur het, beïnvloed my lewe nou. Dis buite my beheer. My lewe het ’n moedswilligheid van sy eie gekry.”

Die verhaal speel om die beurt in die Kavango en in die Soutpansberg af en die hoofstukke word ook só aangedui. Hoewel dit help met die chronologie van die verhaal, het dit soms gevoel of twee verskillende verhale afspeel wat bloot toevallig iets met mekaar te doene het.

Die belewenisse van ’n vrou in ’n afgesonderde manswêreld oortuig nie altyd nie en delf selde dieper. Soos Maja mymer ná ’n besoek deur ’n groep jong meisies aan die padkamp: “Dit was vermetel. Om te maak asof dit lekker is hier terwyl hulle niks weet van die eensaamheid wat mens kan beetpak nie. Hulle, wat vriendinne en vermaak op die voorstoep het, weet nie hoe dit voel om alleen met jou hond te gaan draf, verbeelde gesprekke te voer of daglank net sand en mans te sien nie.”

Dieselfde geld ’n keerpunt in die verhaal waar ’n insident beskryf word waar die skrop-operateur van die padkamp, Thabiso Mrayi, beheer oor die vaartuig verloor en in die proses vyf Kavango-mans doodry en geweld losbreek.

Dié gebeure wek herinnering op by Louis, wat swaar aan die verlede en die herinnering van sy diensplig in die townships in die tagtigerjare dra, en dit word ’n sleutel tot sy karakter. Die geweld enersyds, en die magteloosheid andersyds, bring hy eindelik onder woorde: “Ons was nog kinders[...] en jy moet die skare beheer. Jy wil huil, jy wil kots, man, jy wil jou broek natmaak van vrees. Maar jy kan nie, nie voor die ander nie, jy face daai haat en geweld.”

Maja is ’n karakter wat ten beste omskryf kan word as ’n jong vrou op soek na selfverwesenliking – ’n onderwerp waarmee veral jonger vrouelesers behoort te vereenselwig.

Glipstroom is Jansen se debuutroman.

Haar goeie beskrywings van die bos, sekere karakters en dialoog lewer ’n verhaal wat mens tog bybly ondanks die voorspelbaarheid. Daar kon egter sterker redigering wees om woorde soos “blinkigheid” (op Louis se gesig) en Maja se talle kere wat sy “neersyg” te skrap.

Om minder te vertel en meer te wys bly een van die grootste uitdagings in ’n roman. Jansen slaag plek-plek daarin, en ’n mens sien uit na ’n volgende verhaal waar die teuels stywer gehou word. – Annemarie van der Walt is ’n vryskutskrywer en boekwinkelbestuurder.

Koop die boek hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.