Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Debuutroman een van ‘warmste’ titels
Sally Andrew Foto: verskaf

As daar één Afrikaanse woord is wat internasionale boekhandelaars by vanjaar se Frankfurt-Boekebeurs vinnig gaan moet leer uitspreek, is dit “tannie”.

Dís nou as hulle by wil wees met wat beloof om een van die warmste titels te wees by dié jaarlikse boekhandelaarsforum, wat aanstaande week begin.

Tannie Maria’s Recipes for Love and Murder, oor ’n middeljarige amateurspeurder-en-sjef in die Klein-Karoo, is die debuutboek van ’n onbekende skrywer van Ladismith wat deesdae ’n pad brand deur uitgewerskantore van Brittanje tot in Amerika.

’n Paar weke gelede het Umuzi die manuskrip van Sally Andrew ontvang en dit bykans “onmiddellik aanvaar”, sê die uitgewer Fourie Botha. Daarna het Andrew haar manuskrip vir die Britse agent Isobel Dixon by Blake Friedmann in Londen gestuur, wat dit een kyk gegee en dit aangestuur het na verskeie Britse uitgewers.

“Canongate en die Australiese Text het in minder as drie dae gereageer,” sê Dixon. “Hul aanbod was só sterk dat hulle die regte verkry het vir twee boeke, wat volgens hulle die sjarme van die Skotse Alexander McCall Smith se Precious Ramotswe-reeks kombineer met die kulinêre lokkrag van die Mexikaanse Laura Esquivel se Like Water for Chocolate.”

’n Bekende Amerikaanse en Kanadese uitgewershuis het op dieselfde manier gereageer. En dít is net die begin, sê sy. “Ek het nog nooit soveel positiewe reaksie só vinnig en só intensief sien opborrel rondom ’n boek nie.”

Andrew is oorstelp oor die reaksie. Sy het voorheen nie-fiksieboeke geskryf met ’n opvoedkundige tema en verdeel haar tyd tussen Muizenberg in die Kaap en ’n natuurreservaat buite Ladismith, waar sy met haar lewensmaat, die natuurlewe-kunstenaar Bowen Boshier, woon, asook ’n eland en luiperd.

Tannie Maria word beskryf as “deels romanse, deels speurroman, met heelwat kosmaak en lekker eet”. Die storie speel af in 2013 in Ladismith, waar Tannie Maria die troostante is van die plaaslike koerant, die Klein Karoo Gazette.

Sy’s ’n 50-plus-weduwee wat mishandeling oorleef het, kort en rond, met krulhare en ’n deurmekaar Afrikaans. Haar passie is kook en eet en haar rubriek loop oor van resepte omdat Tannie Maria glo in die helende krag van lekker kos. Wanneer daar egter ’n moord is, sit sy haar speurhoed op en vat die pad met die koerant se ondersoekende joernalis, Jessie . . .

Die boek word bevolk deur ’n wonderlike verskeidenheid van Karoo-karakters, sê Botha, met Afrikaans ’n integrale deel van die dialoog.

Andrew is self geen kok nie, en moes kosmaak navors terwyl sy skryf.

Die boek verskyn aanstaande jaar by Umuzi.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.