Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Deernis vir mense in Dana Snyman se stories
Snyman se vermoë om uit die nietigste gewaarwording ’n pragstorie op te tower verstom ’n mens keer op keer. ‘Hel, dié môn kôn skryf!’ meen Rudie van Rensburg.
Dana Snyman se nuwe boek is ’n versameling Facebook-inskrywings wat hy sedert 2011 gemaak het. Foto: Deon Raath

Fiksie

In die blou kamp

Dana Snyman

TAFELBERG, R225

Ek kan my beswaarlik indink dat Dana Snyman voor ’n Apple-rekenaar sit in ’n rolnektrui en ontwerper-jeans terwyl hy peinsend worstel oor ’n spesifieke sinsnede wat ’n ritme-versteuring in sy poëtiese teks mag meebring.

Nee, ek sien hom eerder in ’n ou T-hemp en sweetpakbroek voor sy skootrekenaar, sy kop omlaag oor die aantekeninge wat hy in ’n kroeg gemaak het oor die oom agter ’n rooi neus vol gebarste aartjies, sy vingers vaardig oor die toetsbord om sy fyn waarnemings te dokumenteer.

Dalk sal hy glimlag wanneer hy oor die Lady Gaga-aanhanger van Pretoria skryf: “Ak love Laaidy Gaga. Say’s soos in amazing. Dit freak may pô en mô totally uit. My pô sê sy’s evil, wônt sy drô weird klere en stuff . . . En say’s a veggie. Sy môk soos in steaks ôn haar lyf vôs en gôn op stage om te protest teen amôl wôt so randomly vleis eet . . .”

Of moontlik sal ’n traan in sy oog blink wanneer hy die slotparagrawe oor die laaste dae van sy vriend Ollie Viljoen neerpen: “Hy kyk stil na die plafon. Die gordyne is toegetrek. Op die bedkassie langs hom is ’n selfoon, ’n pen, ’n paar blokkies sjokolade en Ferdinand Deist se boek Tussen angs en sekerheid. In die hoek van die kamer staan sy drie trekklaviere waarop hy nooit weer sal speel nie.”

’n Ou wat só met woorde omgaan worstel nie oor ritme-versteurings in sy teks nie. Hy skryf net. Teken op. Lê vas.

Pretensieloos.

Snyman se nuwe boek wat pas by Tafelberg verskyn het, In die blou kamp, ’n versameling Facebook-inskrywings sedert 2011 “om iets van myself en hierdie land en ons verlede aan myself te verduidelik”, verdien weer al die lofbetuigings wat resensente hom al toegeswaai het: “Die verhale ruik na mens, en na deernis”; “Hy is die volk se gewete”; “Sy vertellings dui op groot eerbied en simpatie met sy karakters.”

Ek kan net uitroep: “Hel, dié môn kôn skryf!”

In die blou kamp.

Bestaande uit kort sketse – 96 in totaal, verpak in 299 bladsye – herinner die boek my aan een van my kinderdrome – ’n rit deur Lekkergoedland. Op elke tweede bladsy deel Snyman ’n lekker uit, soms stroopsoet, maar ook hier en daar taai toffies of ’n suur suiglekker.

Sy vermoë om uit die nietigste gewaarwording ’n pragstorie op te tower, verstom ’n mens keer op keer: ’n Koerantfoto van ’n skoolhoof in Khayelitsha wat weghardloop vir klipgooiende skoolkinders, Johnny April wat ’n zol met BB-tabak en koerantpapier vou, die Stop and Go-vlagswaaier op die grootpad, die tannie met die papperige pers hoedjie en kiekie in die Wimpy, Waltie se skeermes-dialoog in Checkers, ’n SMS in die Weskus Mall, die avokadopit, vleispasteitjies en doodsberigte in die koerant . . . en so kan mens aangaan.

Snyman skryf met groot deernis oor afgestorwe vriende, sy pa en ma, en Johannes en Lettie Bogasi en hul seun, Koos, wat in ’n motorhuis by hom woon.

Hy deel die swaarkry van Simone, die enigste kind van Ingrid Jonker: “Paarties. My eerste kind op agtien. Rehab. Nog rehab. Nog shit. Rondtrek. Suicide plans. Unhappiness.”

Ook soms tong in die kies: Tienie, die digter op Facebook, wat nie kan verstaan dat daar so ’n bohaai oor Breyten se gedigte gemaak word nie en Cliffie Etzebeth wat weier om die storie te vertel van hoe hulle sy pa se vliegduiwe geëet het toe hulle honger was.

Ons land se president loop deur in ’n pryslied: “Vele kinders en suigelinge besing u misstappe. Vele werkloses en armes ignoreer die magtige mislukkings wat u tot stand gebring het en buig voor u . . .”

Daar is foto’s by elke storie: momente vasgevang op kameralens deur die alewige reisiger en dokumenteerder Snyman.

Koop In die blou kamp.

“Dis soos in amazing,” sê dié Dana-aanhanger. 

 Rudie van Rensburg is die skrywer van die misdaadromans Slagyster, Kopskoot en Judaskus.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.