Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die bloed is aan die muur in naelbyter

Skuldig deur Martin Steyn. Uitgewer: Lapa. Prys: R220. Resensent: JB Roux

As jou naels al herstel het nadat jy hulle met die lees van Donker spoor, Martin Steyn se debuut, tot in die lewe toe afgekou het, sit regop: Steyn doen dit weer!

In Donker spoor word tienermeisies ontvoer, verkrag en wreed vermoor. Magson, speurder van formaat, moet in die debuutroman die moorddadige blikslaters opspoor en aan die pen laat ry.

In Skuldig gee Magson nou by ’n polisiekollege klas. Sy plek word deur Colin Menck ingeneem, wat ’n kleiner rol in Donker spoor gespeel het.

Menck is ’n gebore speurder wat nie twak vat nie – maar andersins is hy, verfrissend genoeg, ’n doodgewone man met ’n gelukkige, stabiele gesinslewe sonder ’n drankprobleem of diepliggende demone. En soos wat ’n mens van ’n storieboekspeurder verwag, is dit nie benede Menck om die reëls van speurder-wees te buig of te breek nie.

Iemand word in Skuldig in sy huis in die kop geskiet – nadat sy hand gesny en hy gedwing is om “skuldig” met sy eie bloed teen ’n muur te skryf.

Wat was die motief? Wie is die moordenaar? En as die slagoffer wel skuldig is, waaraan?

Dít is die kraaines wat Menck en Winters, sy sidekick, moet ontrafel – en vinnig ook, want nog moorde word gepleeg. Aktuele kwessies soos gewelddadige seks en ’n gebrekkige regstelsel word betrek.

Skuldig laat die bladsye onder jou vingers ritsel. Steyn weef ’n web van intrige en net sodra jy vermoed hy het hom in ’n hoek geskryf, gebéúr daar iets. Die roman draf teen ’n gemaklike pas en die ­dialoog is flink.

Die navorsing is omvattend, sonder dat die skrywer onnodige feite in leser se keel afdwing. Steyn het daarby die vermoë om iets in ’n enkele sin raak op te som, soos: “Dit voel of die dag al gister begin het.”

Plek-plek lok die teks wel ’n frons uit. Daar is stylfoute, soos ’n glimlag wat “verbrokkel” en elders lees ons: “Die deur gaan oop en druk sag toe.” Dit moet wees: “(. . .) word sag toegedruk.” “Aangaan” op bladsy 46 moet “voortgaan” wees. Maar Skuldig is andersins so goed geskryf dat die storie sy foute oorleef.

Die boek eindig met twee lekker cliffhangers, wat ’n mens reeds na ’n opvolgroman laat uitsien. Steyn blaas in die nek van die puik spanningsromanskrywer Chris Karsten, veral wat die bestendige gehalte van sy romans betref.

  JB Roux is ’n vryskutskrywer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.