Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die buitekant van Meneer Jules: Eggenote van ontslape man het laaste sê

Fiksie

Die buitekant van Meneer Jules

Diane Broeck­hoven

NALEDI, R129

Die buitekant van Meneer Jules is uit Nederlands vertaal deur Christine Barkhuizen le Roux.

Binne 60 bladsye word die bejaarderige Alice se ervarings opgeroep ná haar man, Jules, se dood. Dit begin op ’n wintersoggend met sneeu wat weggeskraap moet word voor die woonstelblok.

Eers sit Jules maar so stil op die bank en drink nie saam met haar aan die koffie wat hý soos gewoonlik gemaak het nie. Uiteindelik! Sy besef hy is dood.

Hier aan die begin bespreek sy lank hoe hulle twee nog altyd verskil het oor hoe hulle wil sterwe. Daar’s aanvanklik nie skok nie. Ontsteltenis en gemengde gevoelens volg eers ’n rukkie later.

Sy besluit: niemand moet weet hy’s dood nie – nie hul seun en sy vrou, die dokter en die ondernemers nie, nie die bure en die mense in die supermark nie. “Hy is nie dood solank as wat sy dit nog nie vir iemand gesê het nie. Hy leef so lank as wat sy wil. Daar is nog baie wat sy vir hom wil sê.”

Haar gedagtes is insiggewend en geloofwaardig, maar neig dit nie na skrywersmanipulasies om dit tog net in die teks te kry nie? Word daar genoeg rekening gehou met die heersende gemoedstoestande van die karakters?

Daar’s hoofsaaklik drie inhoude wat sy ná ongeveer 50 jaar aan Jules as “heerser” wil oordra. Ten eerste: sy het geweet van sy verhouding met Olga in Italië; en sy het hulle uitoorlê. Omdat dit opsommend gestel word, het dit nie juis trefkrag nie. Die tweede inhoud is die toneel van haar miskraam as jonggetroude. Dit is baie meer evokatief. “Dit was ’n bloedklont in die bidet van ’n hotelkamer in Parys.” Sy betrek ook Jules se gevoelens. (Broeckhoven skryf weer oor hierdie gegewe in Reiskoorts van 2006; dit sou dalk iets besonders geword het as die uittreksel hier in Afrikaans ingevoeg is.) Die derde gegewe is haar kinderdae, ’n fel herinnering aan haar pa se wreedheid én aan die Moedersdag-uittog op ’n fiets saam met hom. Daardie dag was sy onvoorwaardelik lief vir hom, “gekoester in haar nessie van mensvlees”.

Iets wat nog baie sterker bydra tot geloofwaardigheid is die tonele met Dawid. Wanneer sy nog wik en weeg hoe om ­Jules te versorg, besef sy skielik dat Dawid stiptelik om tienuur sal opdaag om skaak te speel met Jules. Dawid is ’n outis en veilig binne roetine, herhaling en orde. Sy buitengewone invloed op Alice verskerp die intrige; sy nugter uitsprake en optrede skep klimakstonele.

Broeckhoven het reeds heelwat jeugboeke en prosa vir volwassenes in die Lae Lande gepubliseer. Danksy Barkhuizen le Roux se woordkeuses en sinsbou gaan die Nederlands vlot oor in 2015-Afrikaans.

Maar . . . die leestekens en hoofletters het nie genoeg aandag gekry nie. – Danie Botha is ’n skrywer en vryskutboeke­redakteur van Kaapstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.