Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
kykNET-rapport-pryse
Dié drie boeke pas bekroon
Kontantpryse van R500 000
Zirk van den Berg
Eben Venter
Albert Grundlingh
Bill Nasson

Die name van die wenners van die eerste kykNET-Rapport-boekpryse is gistermiddag hier in die Westin-hotel bekend gemaak.

Drie kontantpryse, met ’n gesamentlike waarde van R500 000, is ­toegeken aan die volgende boeke wat verlede jaar verskyn het:

 Die fiksieprys van R200 000 gaan aan Wolf, wolf (Tafelberg) van Eben Venter,

 die niefiksieprys van R200 000 gaan aan Die oorlog kom huis toe (Tafelberg), waarvan proff. Albert Grundlingh en Bill Nasson die redakteurs is; en

 die verfilmingsprys van R100 000 gaan aan ’n Ander mens (Kwela) deur Zirk van den Berg.

Venter het by die ontvangs van die prys gesê dit het “baie jare gevat om by hierdie spesifieke storie uit te kom en toe ek dit begin uitskryf, het ek ­gesien daar is dikwels ­tonele en ­karakters en uitlegte wat baie naby is aan vlees en been.

“Ek het toe nogtans gevoel ek gaan myself die vryheid gun om dit uit te skryf soos ek wil en sonder om ­selfsensuur toe te pas. Op ’n manier is hierdie prys vir my erkenning van hierdie poging.”

Nasson het in sy bedanking gekorswel dat die boek waarvan hy en Grundlingh die redakteurs is, voortgevloei het uit “ ’n krygsraad” wat in Stellenbosch gehou is “in die Wijn­huis en daarna in die ­Decameron”.

Grundlingh het gesê ’n mens “onderskat dikwels die waarde van geskiedenis en die rol wat dit speel.

“Ek vind toenemend onder jong Afrikaanse studente op Stellenbosch dat waar hulle tevore hul rug gekeer het op die geskiedenis, daar nou ’n toenemende kritiese vraagstelling is oor waar hulle vandaan kom.

“Die beskikbaarheid van hierdie boeke moedig daardie belangstelling aan wat ek dink ontsettend belangrik is vir ons.” Hulle het ook hul dank aan al hul medewerkers aan die boek uit­gespreek.

Van den Berg sê hy het sy boek tien jaar gelede vir ’n “klompie uitgewers in Suid-Afrika gestuur” en twee jaar gelede kry hy toe e-pos van ­James Woodhouse van Kwela wat sê hy het die boek destyds gelees en wil dit graag uit­gegee, in Afrikaans.

“Hierdie prys gee my ’n derde kans op ’n skrywersloopbaan en dié keer sal ek dit nie laat verbygaan nie.”

Op die kortlys vir die fiksieprys was Dominique Botha met Valsrivier (Umuzi) en Etienne van Heerden met Klimtol (Tafelberg).

Die beoordelaars vir die fiksieprys was prof. Thys Human van die Noordwes-Universiteit, prof. Louise Viljoen van die ­Universiteit Stellenbosch, prof. Steward van Wyk van die ­Universiteit van Wes-Kaapland en die regisseur Gerrit Schoonhoven.

Op die kortlys vir die niefiksie­werke was Karel Schoeman met Here & boere: Die ­kolonie aan die Kaap ­onder die Van der Stels, 1679-1712 ­(Protea Boekhuis) en Dana Snyman se Onder die radar (Tafelberg).

In die niefiksiekategorie het prof. Herman Wasserman van die Universiteit van Kaapstad, Irna van Zyl van New Media, Mike van Graan van die African Arts Institute en Herman Binge van Lion’s Head Productions die beoordelingswerk gedoen.

Op die verfilmingsprys se kortlys was Jaco ­Jacobs se Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur 11 gedeel kan word (Lapa) en Marlize Hobbs se Score my ’n gwai (Human & Rousseau).

Besluite oor voorleggings in die rolprentkategorie is deur Herman Binge en Schoonhoven geneem.

Vir die pryse vanjaar is 54 voorleggings ontvang.

Volgens Hettie Scholtz, die same­roeper van die pryse, stroom die ­inskrywings vir die pryse volgende jaar reeds in. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.