Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die siel van Eugène
Hierdie boek oor die enigmatiese digter gaan nog baie pryse wen, skryf Jean Oosthuizen.
Carel van der Merwe gesels oor sy boek.

Donker stroom.

Deur Carel van der Merwe. 

Uitgewer: Tafelberg 

Prys: R375.

Met die verskyning van die jongste boek oor die enigmatiese Eugène Marais het die skrywer Carel van der Merwe die bykans onmoontlike reggekry: hy lewer ’n bydrae tot die Marais-oeuvre wat selfs Leon Rossouw nie kon regkry in Die groot verlange nie.

Sonder om enigsins afbreuk te doen aan Rossouw se grensverskuiwende werk oor Marais waarin hy so treffend uitgebeeld word, ontrafel Van der Merwe verskeie raaisels oor Marais se lewe tydens sy jare in Londen toe hy in die regte studeer het, waaroor daar nog nooit geskryf is nie.

In hierdie opspraakwekkende boek kom Van der Merwe vorendag met nuwe ontdekkings wat hy met vers en kapittel staaf.

Hy konsentreer op Marais se geheime aktiwiteite voor, tydens en ná die Anglo-Boereoorlog. Talle van die vele raaisels, koue spore en vals leidrade oor die lewe van dié beroemde Afrikaanse letterkundige tydens sy jare in Londen by die Inner Temple (die inrigting in Londen waar hy studeer het) en daarna word soos in ’n speurverhaal ontrafel.

Een leidraad lei na die ander. Die magdom verrassende feite het die skrywer geneem na omtrent 20 verskillende argiewe en biblioteke se versamelings in Suid-Afrika en in die buiteland.

Donker stroom is nie ligte leesstof nie. Die prikkelende opskrifte boei egter deurgaans die leser se nuuskierigheid wat met ’n arsenaal vol feite beloon word. Anders as in Die groot verlange verskyn daar ook ’n stewige lys bronverwysings aan die einde van die boek. Die talle voetnotas wat maklik steurend kan wees in ’n lywige boek soos dié word netjies “weggesteek” in die teks met volledige bronverwysings agter in die boek.

Die navorsing is verstommend en die skrywer huiwer nie om ongemaklike feite met empatie en eerlikheid bekend te maak nie. ’n Leser skryf tereg op LitNet die boek laat mens opnuut besef Eugène Marais was net ’n mens wat soms skaam was oor sy tekortkomings en behoeftes en ’n behoefte gehad het om te vertoon soos hy geglo het ander van hom verwag. Dit is ’n boek wat ’n mens sal bybly en wat veroorsaak dat jy met nuwe oë na ons land en al sy mense kyk.

As jy regtig wil weet wie was hierdie veelsydige Afrikaner wat so baie verskillende rolle in sy lewe vervul het, is Donker stroom ’n moet om te lees.

Donker stroom

Om sommige daarvan te noem: ’n onverskrokke jong joernalis en koerant­eienaar wat die bejaarde en formidabele pres. Paul Kruger – reeds destyds ’n volksheld vir baie Afrikaners – oor sy regering se korrupsie en wanadministrasie aangevat het; ’n wewenaar op jong ouderdom toe sy beeldskone jong vrou kort ná die geboorte van hul eerste kind gesterf het; vredemaker tussen die Uitlanders en die Krugerregering tydens die Jameson-inval; daarna regstudent vir vyf jaar in Londen, ’n tydperk waaroor baie min bekend is; toe lid van ’n geheime ekspedisie wat tydens die Anglo-Boereoorlog probeer het om wapens en geneesmiddels deur Mosambiek na die Boeremagte te smokkel; later advokaat en kritikus van die na-oorlogse Milner-regering; prominente figuur in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging; toe amperse kluisenaar in die Waterberge vir ’n dekade; en daarna skrywer van die beroemde letterkundige en natuurwetenskaplike werke wat alombekend is.

En natuurlik ook die ewige Boheemse swerwer met die morfien/opiumgewoonte wat Leon Rousseau so treffend in Die groot verlange (1974) uitgebeeld het. ’n Mens wens net die skrywer wou nie ophou by die twintigjaar-tydperk in Marais se lewe waaroor die boek gaan nie.

Hoewel die boek in baie opsigte omstrede is en ’n mens ná die lees van Donker stroom Marais se politieke en joernalistieke rol voor, tydens en ná die ABO in ’n ander lig beskou, doen dit geen afbreuk aan sy nalatenskap nie. Dit sal jammer wees as lui lesers dit nie raaksien nie.

Marais was nie ’n kuddedier nie en het onafhanklik sy eie menings oor politieke sake gevorm.

Een van die talle ontdekkings wat Van der Merwe tydens sy navorsing gemaak het, is ’n lang memorandum wat Marais tydens die ABO geskryf het aan Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, ná ’n vergadering met hom in Londen.

In hierdie dokument het Marais sekere voorstelle oor die behandeling van die Boerekrygsgevangenes op Ceylon en St. Helena gemaak, asook hoe die Transvaalkolonie ná die oorlog deur Brittanje behoort regeer te word. Chamberlain, wat volgens sommige mense op daardie tydstip die magtigste man in die Britse Ryk was, het Marais se voorstelle ernstig opgeneem. Chamberlain het ook ná hierdie vergadering aan lord Milner, die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, geskryf Marais is “a very intelligent man and made a considerable impression upon me”.

Dat ’n internasionaal gerekende staatsman soos Chamberlain Marais so ernstig opgeneem het, spreek op sigself boekdele van hierdie Suid-Afrikaner en die indruk wat hy op mense gemaak het.

Wat Van der Merwe se boek so geloofwaardig maak, is dat hy nie skroom om eerlik te skryf oor Marais se foute nie.

Die growwe manier waarop Marais soms met die waarheid omgegaan het en sy oënskynlik hand-om-die-blaas-vriendskappe met Britse imperialiste word nie verbloem nie. Tog neem dit niks weg van die onverskrokke manier waarop hy die magtige Paul Kruger van destyds se korrupsie as jong onverskrokke koerantman beveg het nie en ook nie sy liefde en lojaliteit vir sy eie mense nie.

Dit sal onregverdig wees teenoor Marais en mense wat nog nie die boek gelees het nie om sommer lukraak buite konteks afleidings te maak oor Marais se vriendskapsbande met mense soos Percy FitzPatrick, lord Alfred Milner en Joseph Chamberlain. In Donker stroom verduidelik Van der Merwe uitvoerig hoekom Marais opgetree en gedink het soos hy het. Marais was nie ’n kuddedier nie en het onafhanklik sy eie menings oor politieke sake gevorm.

Uiteindelik moet mens saamstem met die skrywer: Marais het nie ingepas in die tydvak en land waarin hy hom bevind het nie. Hy moes eerder in Parys in die 1960’s gelewe het – daar sou hy meer tuis gevoel het. ’n Boheemse swerwer wie se volle lewensverhaal nog lank nie klaar vertel is nie. Hierdie boek gaan nog baie pryse wen.

Vir meer inligting oor Eugène Marais, besoek die Eugène Marais-stigting se webwerf by eugene-marais.org.za.

■ Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis.

■ Klublede van Leserskring betaal R320 en nieklublede R375.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.