Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié ‘sielkundige riller’ besorg helaas geen nagmerries nie

Fiksie

Die vierde stem

Francois Bloemhof

HUMAN & ROUSSEAU, R84

Ag nee aarde, mnr. Bloemhof, wat het hiér gebeur?

Die flapteks belowe ’n “sielkundige riller”, maar François Bloemhof se jongste roman doen nie die nael­kou-belofte gestand nie.

Ek lees selde rillers, want ek is iemand wat maklik skrik vir koue pampoen.

Die vierde stem gaan my egter geen nagmerries besorg nie, daarvan is ek seker.

Die proloog begin goed, maar dan rafel dinge uit.

Kom ons begin voor. Die roman fokus op ’n paar weke in die lewe van vier karakters: Annemi, ’n ingekeerde kantoorwerker; Manrich, ’n manipulerende sielkundige; die skrywer, wat enduit naamloos bly, maar later met die skrywer van die roman een word; en dan die geheimsinnige vierde stem, wat vir enigiemand met ’n basiese kennis van sielkunde en dissosiasie regtig nie so geheimsinnig is nie.

Daar is aan die einde wel ’n kinkel wat die vierde stem betref, maar teen daardie tyd is dit te laat om die intrige te red. Die leser gee gewoon dan nie werklik meer om nie.

Deel van die probleem is dat die leser nie oor die karakters omgee nie. Almal is vaagweg irriterend. Annemi is sonder ruggraat; Manrich kry ’n kick uit manipulasie, of dit nou pasiënte of rekenaarstelsels is.

Albei se moeilikheid kom uit hul kinderjare, maar steeds wek hulle nie simpatie nie.

Die skrywer – en wat ’n selfbewuste, pretensieuse foefie is die naamlose verwysing na die skrywer nie – is eweneens oppervlakkig en onsimpatiek, manipulerend op ’n ander manier.

Die beeldspraak en beskrywings pla soms ook.

Vroeg in die verhaal besoek Manrich ’n seksklub, waar iemand hul hand by sy gulp insteek en “die vergestalting van sy begeerte in die oopte [bring]”.

Seks kan romanties of vuil of teer of gejaagd wees, maar dit moet asseblief darem sexy wees.

Die idee agter die roman, vermoed ek, is om die menslike bewussyn – en die onderbewussyn se donker geheime – te verken.

Daar is egter soveel selfvoldane verbale masturbasie dat hierdie belowende premis verlore gaan.

François Bloemhof is ’n gesoute en bekroonde skrywer.

As jong tiener het Die vrou met die pers oog my vreesbevange gelaat. Hoe hy hier so misgetas het, is ’n raaisel. 

■ Louise Ferreira is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Klik hier om die boek te koop.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.