Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Digterlike kastyder is 85
M.M. Walters

Die skerpste digterlike kastyder van die NG Kerk en die Afrikaner het vanjaar 85 jaar oud geword.

In sy laaste digbundel, Braille-briewe wat in 2011 verskyn het, stippel hy sy standpunt en metode soos volg uit: “Ek vra maar net vrae. / Vrae vorm grondslag van vooruitgang en beskawing. / Ek draai ook nie doekies om nie”.

Walters het dié bundel van hom opgedra aan Juvenalis, die Romeinse satirikus van die eerste eeu ná Christus. Hy is dus baie bewus van die eeue oue tradisie van digter as maatskaplike kritikus.

Walters se satire was só doeltreffend en raak dat die destydse moderator van die NG Kerk, dr. Koot Vorster (die broer van die eerste minister, John Vorster), hom in die 1970’s persoonlik aangeval het.

Dit was natuurlik in “die goeie ou dae” toe politici en kerkleiers hulle nog aan skrywers gesteur het.

Vorster het Walters ’n vyand van die volk genoem, en kon nie verstaan waarom die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir sy debuutbundel, Cabala van 1967, bekroon het nie.

Wat Vorster glad nie verstaan het nie, was dat Walters ’n opregte soeker na God is.

Op sy kenmerkend aweregse manier het hy op ’n keer sy godsdienstige soektog soos volg geformuleer: “Deur jare van lees en dink en op die proef stel, is ek ander idees oor die godsdiens toegedaan as die konvensionele.

“Daar was so baie lieflike gode deur die eeue heen, en elkeen het sy toegewyde aanbidders en vuurspuwende priesters gehad. En ek wil nie uiteindelik beskuldig staan dat ek die verkeerde gode aanbid het nie!”

Walters se gedigte toon inderdaad ’n verbluffende kennis van die Noorse, Griekse en Romeinse mitologie.

Sy kritiek op die Suid-Afrikaanse samelewing vloei voort uit ’n liefde vir sy land, sy taal en sy volk.

In een van sy gedigte stel hy dit soos volg: “Ek draai my pen oop in my sak, / ouder gewoonte / moet ek die draak steek en kasty / as dit droef en donker word in my” (Saturae, 1979).

Sy liefde vir Suid-Afrika spreek onder meer uit sy natuurgedigte oor die Boland, die Karoo en die Weskus. Saam met die fotograaf Siegfried Behm het hy ’n pragtige koffietafelboek saamgestel: Die Weskus van die Kaap.

M.M. Walters was jare lank ’n dosent in die Afrikaanse letterkunde aan die onderwyserskolleges van Graaff-Reinet en die Paarl, en aan die Universiteit van Kaapstad.

Hy staan bekend as ’n Sestiger omdat hy in daardie dekade van literêre vernuwing gedebuteer het, hoewel hy baie skepties was oor sy mede-Sestigers soos André P. Brink en Breyten Breytenbach wat hul heil in Parys (Frankryk) gaan soek het. Veral Breytenbach loop onder Walters se hekelpen deur. Daarom is dit so veelseggend dat Walters juis in die Breytenbach-sentrum vanjaar by die Tuin van Digters op Wellington vereer is.

Die voordragkunstenaar Johann Nel kon dit daarom nie nalaat om in die huldigingsessie een van Walters se satires op Breytenbach se liefdesverse voor te lees nie:

Ek sou ook graag wou skryf

oor my vrou –

poëties raak

oor die mooi gevormde

wit ledemate

maar sy verstaan Afrikaans

en sal nie toelaat

dat ek stuitig raak nie (Apocrypha, 1969).

Walters was nooit lid van ’n gilde, groep of vereniging van skrywers nie. Hy het sy eie weg ingeslaan; ’n weg wat gelei het van die Swartlandse plaaslewe (hy is op 23 Januarie 1930 op Moorreesburg gebore) deur die Groot-Karoo en Boland tot in Kaapstad.

Maar hy het altyd ’n wye draai gegooi om Stellenbosch met sy akademiese en teologiese pretensies. Die enigste toegewing wat hy gemaak het ten opsigte van dié Athene van die Suide, was om lid te word van die filosoof Johan Degenaar se Sokratiese gespreksgroep.

Sy bekendste spotvers oor die gemaksug van NG predikante uit ’n vorige era is “Gebed om leiding”. In dié gedig word ’n dominee van Stellenbosch-Sentraal beroep na die NG Sendinggemeente op Merweville, ’n dorpie in die Groot-Karoo. Nadat hy in sy gebed al die voordele van Stellenbosch opgesom het, vra hy ten slotte: “Alle grappies op ’n stokkie, Meester, / is U ernstig met die ding?”

Geen wonder dat die kerk en Die Kerkbode Walters as ’n vyand beskou het nie.

En tog weet hy meer van die kerkgeskiedenis en die teologie as baie predikante. Inderwaarheid behoort Walters verpligte leesstof te wees vir teologiestudente.

Sy genadelose gespot het nie beperk gebly tot die kerkmense nie, maar het ook die politici van die ou bedeling betrek, soos in die gedig “Partykongres” uit Heimdall van 1974.

In sy laaste bundel hekel hy ook die “nuwe gode” en veral die ANC se ongebreidelde kaderpolitiek: “ … kom sluit aan by ons nuwe navy / en kom skep van al die oorsese sous en gravy … / Regstellende aksie herstel nou al die skade – / sommige ouens het al drie doktorsgrade”.

Walters se belangstelling in die Oosterse filosofie en letterkunde het glansend uitdrukking gevind in sy vertalings uit die Japanse en Chinese poësie (via Engelse en Duitse weergawes).

Veral die Japanse haikoe spreek tot hom, soos die volgende een van Karai Senryu (1718 – 1790):

Zen-priester

ná meditasie

soek vlooie (Aki No Kure: Herfsskemering, 2006).

Prof. Gunther Pakendorf, ’n oudkollega van Walters aan die Universiteit van Kaapstad, het by die Tuin van Digters daarop gewys dat Walters se satires wissel van baie skerp, soos dié van Juvenalis, tot mild, soos dié van Horatius.

M.M. Walters is nie net die bekendste satirikus in die Afrikaanse digkuns nie – hy het ook sy hand gewaag aan historiese en allegoriese dramas. Sy eerste drama, Die vroue van Kores (1975), is een van die min rymende versdramas in Afrikaans.

Ondanks die kanoniseerder J.C. Kannemeyer se onderskatting van hom in sy literatuurgeskiedenis, het Walters die afgelope 50 jaar die Afrikaanse letterkunde verryk en verruim met sy andersdenkendheid en eiesoortige verse.

Hy het ons uit liefde gekasty. En ons is hom dankbaar daarvoor.

Bron:

Gesprekke met skrywers I, Tafelberg, Kaapstad, 1971.

) Daniel Hugo is ’n digter en vertaler.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.