Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dirk der duisende, reuse-denneboom
Honderd-en-een jaar ná sy geboorte troon D.J. Opperman nog altyd soos ’n reuse-den bo die landskap van die Afrikaanse poësie, skryf Lina Spies.
DJ Opperman in sy kantoor in Stellenbosch. Foto: NB-Argief

Poësie

DJ Opperman: Versamelde poësie

DJ Opperman

TAFELBERG/HUMAN & ROUSSEAU, R400

Wat ’n versiende daad van NB-Uitgewers was dit nie om in Afrikaans se negentigste amptelike bestaansjaar ’n herdruk van D.J. Opperman se Versamelde poësie uit te gee ná die eerste druk van 1987 nie. Een van die grondigste redes om die taal te koester en te laat voortleef, is dat Afrikaans ’n digter soos Opperman gehad het.

Hoe lees ’n mens Opperman se versamelde poësie binne een band? Die foto op die voorblad van die jeugdige digter – stipte blik agter brilglase, ken op vuis – dateer van 1939, die laaste jaar van sy studie as 25-jarige aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg. Dié foto bring die besef tuis dat Opperman nie met jeugwerk gedebuteer het nie, maar met ’n ryk, volwasse bundel, Heilige beeste (1945), wat as sodanig erken en met die Hertzogprys bekroon is. Dié bundel is die vanselfsprekende vertrekpunt by die lees van die Versamelde poësie.

Die titelgedig, “Heilige beeste”, is ’n sleutel tot Opperman se oeuvre. Die Zoeloewagter wat oor sy beeste waak, is die eerste skuilfiguur by monde van wie die digter aan die woord kom. In die slotstrofe word die wagter se kosbare besit die drie drifte van die digter: “die aardse, die vrou en die Groot-Groot-Gees”. Dié impulse verwesenlik hulle in terugkerende motiewe binne die Opperman-oeuvre: Hy is onlos-maaklik verbonde aan die aarde en die aardse wat saamhang met sy verbondenheid aan die geliefde vrou en sy roeping as digter wat God hom opgelê het.

In die transponering van die persoonlike tot die bo-persoonlike is Opperman se credo vervat wat sy oeuvre van aanvang tot slot beheers: Eerder as om sy gedagtes, gevoelens en ervarings direk te verwoord gee hy deur die “objective correlative” daaraan uitdrukking of praat hy deur ’n skuilfiguur. Hy beoefen die gestaltevers en wars van bewerende en abstrakte taalgebruik, skryf hy beeldend en konkreet.

Opperman se tweede bundel, Negester oor Ninevé (1947), is van binne-uit ’n sterk eenheidsbundel, gesentreer om die verwagting en geboorte van die digter se eerste kind. “Negester” is ’n simboliese sterrebeeld wat slaan op die nege maande swangerskap en wat skyn oor die bose stad, “Ninevé”. Die digter reis in die gees en bevind hom in die slotgedig, “Moederstad”, saam met sy kind voor ’n nuwe ontdekkingsreis. Die gedig eindig met die versekering dat om voort te plant ’n opdrag van God is: “Solank die mens aan My geboorte gee/ hang nog My Negester oor Ninevé’.”

Vir die leser van die Versamelde poësie sal dit mettertyd duidelik word dat Opperman se gedigte in verskillende bundels met mekaar verbande aangaan wat die betekenis van die enkel gedig verdiep. In Joernaal van Jorik, sy epos van 1949, is die spioe­nasieverhaal slegs die “objec­tive correlative” vir die geboorte van ’n Afrikaner wat gevorm word deur die geskiedenis van sy volk. Sy naam, Jorik, is afgelei van Opperman se name, Diederik Johannes. Jorik gaan op in sy Afrikanerskap totdat hy die relatiewe betekenis van nasionalisme insien en sy verraad besef teenoor sy eintlike vaderland, die poësie wat hy deur sy verskuns moet dien.

In sy bundel Engel uit die klip (1950) verwoord hy opnuut in “Scriba van die Carbonari” die ongemaklike posisie waarin die digter staan met betrekking tot sy volksgenote in hul nasionalistiese strewe. Sy digterlike roeping van volstrekte vereenselwiging met die verhewene en die banale om die skone te verlos, maak hom ’n verdagte buitestander.

Die bundel Blom en baaierd (1956) is ’n onvolprese hoogtepunt in Opperman se oeuvre. Dit bevat grootse gedigte en die onterende implikasies van die skeiding van mense op grond van velkleur kom aan die orde in gedigte soos “Nagwag” en “Draaiboek”.

Die digter in “Blom van die baaierd” is die boggelman, Skewe Koen, wat naas sy werk as skoenmaker “rympies maak”. Nadat hy by diamant-smokkelary betrokke geraak, sy liggaam laat herstel en ’n wellustige lewe gely het, verlang hy uiteindelik skuldbewus om net weer die boggelrug-rympiesmaker te wees. Van die kunstenaars-figuur Skewe Koen kan jy die lyn deurtrek na Michelangelo, eweneens ’n boggelrug. Opperman teken hom in “Carrara” in Dolosse (1963) waar hy letterlik en figuurlik pynlik agteroor moet buig om op pouslike bevel die koepel van die Sixtynse kapel te skilder, terwyl hy beelde uit die marmer van Carrara wil kap.

Só moet die kunstenaar teen die magte in wat sy kreatiwiteit wil kelder steeds die engel uit die klip verlos. Opperman het in die slotgedig, “Denneboom”, sy digterskap bedreig gesien deur die eise wat sy hoogleraarskap aan die Universiteit Stellenbosch aan hom stel; gevrees hy word “vir tamatiekissies opgesaag”.

Hy het inderdaad ’n digterlike droogte beleef met die publikasie van twee mindere bundels, Kuns-mis (1964) en Edms. Bpk. (1970) gevolg deur agt jaar van digterlike swye.

Dit het hom ’n siekte tot die dood toe gekos om as digter te herleef. Hy konsipieer sy reise in die doderyk deur sirrose van die lewer as ’n eenheidsbundel, Komas uit ’n bamboesstok (1979). Dié keer is sy skuilfiguur Marco Polo, IL Milione, wat in die ryk van die Koeblai Kahn gereis het en in sy stad, Venesië, as dood beskou is, maar teen alle verwagtinge in teruggekeer het.

So keer “Dirk der duisende” terug met gedigte wat hy uit sy komas gesmokkel het soos Marco Polo sywurmpapies in bamboesstokke. Komas uit ’n bamboesstok is met die Hertzogprys bekroon; ’n grootse afsluiting van sy oeuvre.

Honderd-en-een jaar ná sy geboorte op 29 September 1914 troon D.J. Opperman nog altyd soos ’n reuse-den bo die landskap van die Afrikaanse poësie.

• Lina Spies is ’n bekroonde digter en literator van Stellenbosch.

Meer oor:  Afrikaans  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.