Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dis ’n harde wêreld, leer Zelda la Grange
Zelda la Grange sê die afgelope jaar sedert haar outobiografie gepubliseer is, was “die grootste jaar” in haar lewe. Ná haar 19 beskutte jare aan die sy van Nelson Mandela het sy hard met die werklikheid kennis gemaak, het sy aan Amanda Botha vertel.
Zelda la Grange: “Ek was glad nie voorbereid op wat gebeur het sedert die verskyning van my boek nie.” Foto: Jaco Marais

“Ná die bubble van 19 jaar in Madiba se wêreld, het ek vinnig moes leer dat die lewe heeltemal anders daar buite is,” vertel sy in ’n onderhoud net ná die bekendstelling van die sagtebandweergawe van haar trefferboek, Goeiemôre, Mnr Mandela.

“Ek was glad nie voorbereid op wat gebeur het sedert die verskyning van my boek nie,” sê sy en noem dat sy moes leer om nou sin te maak van persoonlike aanvalle en lofprysinge uit oorde wat sy nooit eens gedroom het dat dit deel van haar ervaring kon word nie. Sy moes haarself nou handhaaf teen wat sy ’n “radikalisme” noem, maar wat dalk as woede en jaloesie beskryf kan word. Wat dalk nie altyd onthou is nie, is dat sy nie haar posisie gekies het nie, maar dat sy deur Mandela gekies is om hom in ’n vertrouensposisie by te staan.

Sy vind dat sy altyd vir hom kon beskerm en ferm nee sê vir versoeke wat onbillik teenoor hom sou wees, maar noudat sy haarself moet bestuur, is dit toenemend moeiliker om nee te sê. ’n Klaaglied is dit nie, dit is eerder ’n eerlike bekentenis van iemand wat skielik (vir haar onvoorsiend) self die fokus van aandag geword het.

Niks kan ook die 19 jaar aan die sy van Mandela vir haar vervang nie. Alles wat sy moontlik kon opgeoffer het, was vir haar dubbel en dwars die moeite werd. Hy het haar soveel geleer – van haar ’n beter mens gemaak. Sy leer steeds van hom as sy dinge in herinnering roep en met tyd en afstand lewenslesse haal uit die ervaring van ’n man wat 27 jaar in die tronk was en versoenend sy lewe in vryheid aangegryp het.

Sy’s eerlik as sy sê dat sy nooit enige voordeel beding of verwag het van die voorreg om naby “die grootste staatsman van ons tyd” te wees nie. As sy nou hoor van die voordele van ander in haar posisie, kwel sy haar nie oor die finansiële voordele wat hulle uit hul werksverhouding of agterna gehaal het nie.

Die skryf van haar herinneringe met Mandela was vir haar ’n manier om haar verlies van sy dood te verwerk, maar ook om gestalte te gee aan die nuwe Zelda wat in haar kontak met hom na vore getree het. Van hom het sy “onvoorwaardelike aanvaarding en liefde” gekry. Die vertrouen­sfeer van haar en Madiba sal sy altyd eerbiedig. Vir hom en vir haar is integriteit belangrik.

Haar memoires oor die besondere periode in haar lewe, het internasionaal aandag gekry en steeds word dit vertaal en na nuwe markte versprei. Dit is reeds in nege tale vertaal en in 13 lande plus die Statebondslande op boekrakke. Dit word nou in Japannees en Italiaans vertaal.

La Grange is steeds betrokke by die nuwe bekendstellings – vanjaar was sy reeds in Amsterdam en Berlyn. Voor 2015 draai, is daar nog bekendstellings in Noorweë, die VSA en die sagtebandweergawe in Brittanje.

In Suid-Afrika het die Afrikaanse weergawe, Goeiemôre, Mnr Mandela, reeds vier drukke beleef met verkope van 34 761 eksemplare. Die Engelse weergawe in Suid-Afrika het drie drukke beleef en 84 588 eksemplare is verkoop. Die hardebandtotaal staan op 34 761 boeke.

Hoe die pad vorentoe loop, is nog nie helder by La Grange nie. Sy is minstens vir nog ’n jaar betrokke by die bekendstelling van haar boek – hier en in die buiteland.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.