Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eerlike ‘Abbakind’ wen kompetisie vir jeugromans
Jan Vermeulen is vanjaar die wenner van Lapa se jeugromankompetisie.

Die skrywer Jan Vermeulen is die wenner van die Lapa-jeugromankompetisie wat pas aanggewys is.

Vermeulen ontvang dit vir Abbakind, ’n verhaal oor ’n seun wat by sy vervreemde pa in die Oos-Kaap moet gaan bly ná ’n ongeluk waarin hy en sy vriende onder die invloed van drank en dwelms ’n verkeerskonstabel omry. Die beoordelaars beskryf dit as ’n aangrypende, eerlike grootwordverhaal oor verslawing en tweede kanse. Vermeulen ontvang R25 000.

Fanie Viljoen is die naaswenner met Afkop, ’n spanningsverhaal oor Trent, ’n tienerseun, wat ná ’n rowwe partytjienag en ’n wilde jaagtog met ’n sak vol geld by die huis aankom. Dinge loop in regte Tarantino-styl skeef. Hy ontvang R15 000.

Marita van der Vyver is derde met Al Wat Nodig Is, ’n Suid-Afrikaanse storie oor ’n sukkelende pa-en-seun-verhouding en die reddende krag van woorde. Van der Vyver skryf oortuigend en boeiend oor performance poetry en die hoofkarakter, Gabriel, se pogings om ná sy ma se dood sin te maak van die wilde draaie wat die lewe partykeer met ’n mens gooi. Sy ontvang R10 000.

Altesame 74 inskrywings is ontvang. Die vorige wenners was Nanette van Rooyen (Ek Was Hier), Fanie Viljoen (Betower) en Carina Diedericks-Hugo (Permanente Ink).

■ Die wenner van ’n nuwe kortverhaalkompetisie wat Lapa en die tydskrif Kuier en Pen Afrikaans aanbied, is ook pas bekend gemaak.

Joanne Alexander is die wenner met haar verhaal “Meester”. Sy sal R5 000 ontvang en haar wenverhaal sal in Kuier gepubliseer word. Die finaliste sal elkeen R1 000 ontvang en ’n slypskool bywoon. Altesame 263 inskrywings is ontvang. Die finaliste is soos volg: Tienie Holtzhausen (met die verhaal “Pap en Runners”), Theltom Masimila (“Net tot na die Einde”), Terence Mesias (“Moedertjie”), Ilisna Nel (“Uit die Oog”), Lucreshia Pietersen (“Juliana”), Bernice Saulse (“Fooitog”), Neville Deon Simpson (“Vloks­man”), Rita Swanepoel (“Nuwejaar”), Miriam Telanie (“ ’n Nuwe Dag, ’n Nuwe Droom”), Marishall Theron (“Waakengel”), Adele van Zyl (“Gebottelde Duiwel”), Antoinette Venter (“’n Mossie soos Emma”), Alida Walker (“ ’n Prys om te Betaal”) en Magdalena Wardle (“Mishandeling”).

Die finaliste sal in Julie ’n slypskool aan die Universiteit van Wes-Kaapland bywoon, wat deur Anastasia de Vries, Diana Ferrus en Annemarie Swartz aangebied sal word.

In dié slypskool sal skrywers geïdentifiseer word vir deelname aan ’n mentorskapsprogram vir moontlike publikasie, onder leiding van Danie Marais, Bettina Wyngaard en Rachelle Greeff.

Chanette Paul het Donderdag by Lapa se mediageleentheid in Kaapstad die 2014-Lekkerlitprys van R10 000 vir haar roman Siende Blind ontvang.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.