Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Emma en die creepy komplot: Vermaak begin bietjie stadig

Tienerfiksie

Emma en die creepy komplot

Marianna Brandt

HUMAN & ROUSSEAU, R130

Kinder- of tienerfiksie is bedoel vir lesers vir wie enigiets moontlik is. Lees ’n mens die karakters in Emma en die creepy komplot, sien jy hoekom.

Emma se verstand werk oortyd. Sy laat ’n mens dink aan Nancy Drew, wat ook op skool was toe haar doen en late lesers se aandag begin boei het (Nancy het mettertyd ’n ouer karakter geword).

Soos Nancy, is Emma ook ’n speurder én ’n skoolkind. En Emma is ’n lekker karakter.

Dié teks is ’n opvolg op Emma en die geheime gang, die eerste boek in Brandt se “grillerige speurreeks”, soos die uitgewer dit beskryf. Maar jy hoef nie die vorige een te gelees het om die storie te geniet nie. Jy sou sekerlik vir Emma al teen dié tyd beter geken het, maar in die tweede boek lees jy ook baie van haar raak.

Waar sy op skool en in die koshuis op Kosterkloof is, klink dit of geen vervelige oomblik hom by die kinders aanmeld nie. Die skool het ’n nuwe onderhoof, maar iets is nie pluis nie. Emma vermoed hy is kop in een mus met die mense wat in die vorige boek kinders se DNS aan ruimtewesens wou verkoop, en nou in die tronk is. Dan ontdek sy iets in die blou koelsakke wat vir die rugbyspan bedoel is . . . Sy stel ondersoek in en haar beste vriend, Zoltan, word ook ingesleep.

Net een punt van kritiek: As hoofstuk 1 begin het soos hoofstuk 12, sou geen tiener die boek kon neersit nie. Die verhaal neem te lank om op dreef te kom en ’n mens wonder of ’n (verveelde) tiener met baie ander vermaak sal kan uithou. Desondanks is dit ’n vermaaklike verhaal wat menige jong leser plesier sal gee.

– AJ Opperman is ’n redaksielid van Wes-Beeld.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.