Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Empire, War & Cricket in South Africa: Logan of Matjiesfontein: Veel meer as net ’n spel met kolf en bal
Hierdie is die biografie van ’n man, maar terselfdertyd ook dié van ’n dorpie, ’n sportsoort én ’n era van imperialisme en oorlog, skryf Gert van der Westhuizen.
James Logan se Suid-Afrikaanse span in 1901. Foto uit: Empire, War & Cricket in South Africa

Empire, War & Cricket in South Africa: Logan of Matjiesfontein deur Dean Allen. Uitgewer: Zebra. Prys: R290

Die koloniale geskiedenis van Suid-Afrika wemel van mense wat al op ’n keer “cowboy kapitaliste” genoem is.

Mans wat oënskynlik alles ter wille van die bevordering van die Britse Ryk en die ontwikkeling van die kolonies gedoen het, maar terselfdertyd op dikwels bedenklike wyses skatryk en baie magtig geword het.

Niks en niemand kon in hul pad staan nie.

Hulle het nie geskroom om enigiets te gebruik – of te misbruik – om hul doelwitte na te jaag nie.

Cecil John Rhodes is – veral deesdae – die eerste naam wat by ’n mens sal opkom as jy aan die imperialiste van die laat 19de eeu dink.

Oor James Logan, een van sy vriende, is nie meer so baie bekend nie.

Jy sal miskien van hom hoor as jy Matjiesfontein aandoen, die dorpie in die Karoo wat hy laat aanlê en ontwikkel het. Maar hoe hy genoeg geld daarvoor gemaak het en wat hy alles gedoen het om ’n posisie van mag in die Kaapse samelewing te bereik, is nie meer so algemeen bekend nie.

Daarvan vertel Dean Allen ons in Empire, War & Cricket in South Africa. Sommige lesers sal dalk wil weet wat krieket te doen het met impe­rialisme as hulle die titel sien. Allen laat hulle nie lank wonder nie.

Hy vertel op onderhoudende wyse hoe krieket meer as enige ander sportsoort as instrument van Britse kulturele imperialisme gebruik is deur mense soos Logan.

Krieket is nie net deur Britse imperialiste in die kolonies gebruik om hulle aan die “huis” (Brittanje) te herinner en hul kringetjie geslote te hou nie. Dit is ook gebruik om die Britse kultuur in die kolonies te vestig en te bevorder.

Logan het krieket verder gebruik om aansien in die Kaapse en Britse samelewing te verwerf deur toere van en na Engeland te reël en te borg. Dié sportsoort het ook baie nuttig te pas gekom in die uitbou van sy sakebelange.

Dit het hom in staat gestel om die regte mense te ontmoet en plekke aan te doen waar hy aanvoorwerk kon doen om sy sakebelange te vestig.

Kort nadat hy ’n Engelse span na die destydse Rhodesië vergesel het, het hy byvoorbeeld ’n baie lonende spoorweg-spysenieringskontrak daar losgeslaan.

Soms het hy dinge ook oordoen.

Die toer van ’n Suid-Afrikaanse span in Brittanje in 1901, toe die Anglo-Boereroorlog nog in Suid-Afrika gewoed het, het tot heelwat kritiek gelei.

Logan het sy eie seun vir dié toerspan gekies, ondanks sy bedenklike kolfvermoë. Tog het die toer baie gedoen vir die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse krieket.

Dié span was byvoorbeeld die eerste uit Suid-Afrika wat ’n wedstryd in die buiteland kon wen.

Beskrywings van toere soos dié maak van Allen se boek ’n waardevolle bron oor die vroeë geskiedenis van Suid-Afrikaanse krieket.

Hy vertel van ’n tyd toe die professionele en amateurspelers (die sogenaamde gentlemen) van Engelse spanne nie eens dieselfde kleedkamers gebruik of in dieselfde hotelle gebly het nie.

Jy kan maar net die kop in verstomming skud as jy lees van die moeite wat Rhodesiese spelers gedoen het deur onder meer ’n rivier in vloed op onkonvensionele wyse oor te steek, net sodat hulle in ’n krieketwedstryd kon speel.

Logan se krieketveld in ’n piepklein dorpie in die dorre Karoo en die talle wedstryde wat daar gespeel is – met gepaardgaande onthale van oordaad en luuksheid – maak ook deel uit van Allen se verhaal van ’n vergane era.

Sy boek is eintlik een van vele fasette.

Dit is die biografie van ’n man, maar terselfdertyd ook dié van ’n dorpie, ’n sportsoort én ’n era van imperialisme en oorlog.

Dit word gegrond op stewige navorsing, hoewel die naspeur van feite oor Logan nie altyd maklik was nie.

Hy was in sekere opsigte ’n geheimsinnige man en sy verhaal sal seker nooit heeltemal vertel kan word nie – feite oor die minder aangename sy van sy karakter ontbreek byvoorbeeld grootliks.

Allen slaag ondanks dié struikelblok daarin om James Logan, die Skotse spoorwegklerk wat skatryk in Suid-Afrika geword het, weer te laat lewe. ’n Man wat nes Rhodes basies gedoen het wat hy wou in ’n kolonie waar hy nie deur die klasseverskille van die “huis” aan bande gelê is nie.

Logan het nie geskroom om sy eie beuel te blaas nie en geen kans verby laat gaan om sy beeld te bevorder nie.

Hy het genl. Andrew Wauchope selfs ná die Slag van Magersfontein met die nodige prag en praal by Matjiesfontein begrawe sonder om die oorledene se familie in die saak te ken.

Hy het sy rykdom bekom op maniere waaroor vandag nog gewonder word. Hy het uiteraard by die politiek betrokke geraak en was die oorsaak van die val van kolo­niale regerings.

Hy het, soos Rhodes, dinge gedoen wat die uitbreek van die vernietigende Anglo-Boereoorlog verhaas het.

Hy is as weldoener beskryf, maar tog blyk dit duidelik uit Allen se boek dat alles in die eerste plek eintlik net oor eie gewin gegaan het. Al dié dinge maak dit moeilik om van hom te hou.

Maar dit is nie Allen se skuld nie. Daar is nie veel in sy boek wat gekritiseer kan word nie.

Dit is dalk ook nodig om daarop te wys dat die boek gegrond is op sy doktorale proefskrif – iets wat wys dat akademiese werk nie onleesbaar hoef te wees nie en dat die uitsluitlike doel daarvan beslis nie is om stof op ’n biblioteekrak te vergader nie.

– Gert van der Westhuizen is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.