Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ena Murray, dromer van ’n beter wêreld
Die onbetwiste koningin van die omnibus is Donderdag oorlede. Haar redakteur van baie dekades, George Louw, bring hulde.
Ena Murray

Die lewensreis van “die mees gelese skrywer in Afrikaans” (volgens die ATKV-oorkonde teen haar muur) het in die vroeë oggendure van Donderdag 4 Junie ná ’n lang stryd teen kanker, in die aftreedorp Santos Haven in Mosselbaai ten einde geloop.

Ena Murray-Mostert (née Mans) is op 27 Desember 1936 op Loxton, ’n klein Karoodorpie min of meer op dieselfde breedtegraad as Sutherland, gebore, waar haar vader as dokter gepraktiseer het.

Ons paaie het in die laat 1960’s gekruis: sy as ontluikende skrywer van die sogenaamde populêre fiksie, en ek as verhaleredakteur by Huisgenoot (toe nog bekend as “die universiteit van die volk”).

Tientalle skrywers, ook dié met literêre pretensie (meestal onder skuilname), het hul hand destyds aan dié genre gewaag. Tussen al hierdie skrywers het Ena se aanslag duidelik opgeval: Sy het instinktief geweet waarby die “gewone” leser sou aanklank vind. Sy kon ’n storie, dikwels aan werklike gebeure ontleen en deeglik nagevors, so inklee dat dit boei en die verbeelding aangryp.

Daarom dat uitgewers dan ook tou gestaan het om haar guns te wen en haar manuskripte in ontvangs te neem. Voorts het ek die voorreg gehad om later as fiksiehoof by Tafelberg-Uitgewers en die laaste 15 jaar ná aftrede, op versoek van haar uitgewer by NB-Uitgewers, Etienne Bloemhof, steeds saam met haar te kon werk.

Ek het Ena nie net as skrywer leer ken nie, maar as toegeneë mens. Nooit sal ek en my gesin die keer vergeet nie toe sy ons haar “plekkie in die son”, ’n houthuis tussen die bome naby Wildernis se strandmeer, aangebied het om vir haar “op te pas” terwyl sy en haar tweede man, Jacques, verkas het na hul grondjie langs die Krugerwildtuin. Vars in die geheue is daardie smaaklik voorbereide pot afval wat ons begroet het en die loeries wat veelkleurig en geheimsinnig tussen die toppe van die bome rondgerits het.

Net een keer het ons “woorde gehad”, en dit was toe ek as jong en onervare verhaleredakteur die laaste twee hoofstukke van Luidende simbale tot een moes verwerk, met ’n redelike “oop slot” tot gevolg. Ek kon ’n tierende Ena egter oorreed om ’n vervolg te skryf waarin die verhaal van die hoofkarakters verder uitgespeel word. Só het Dieplood ontstaan, en later Groter liefde as dit, wat gesamentlik die Hammanshof-sage voltooi het.

Ena se gewildheid as skrywer het deur die jare net toegeneem sodat sy sonder teenspraak op daardie ATKV-inskripsie kon aanspraak maak. As mens was sy onopgesmuk, onpretensieus en iemand wat meer in ander se welsyn belanggestel het as haar eie. Selfs in hierdie laaste maande van asemnood waarin sy standhoudend suurstof moes kry om te oorleef. Gelowig was sy, maar nooit dweepsugtig nie, altyd nugter, prakties, steeds met haar voete vas op die aarde. Miskien daarom dat sy goeie en wyse raad kon gee aan soekendes en mense in nood.

’n Leemte in haar lewe was die feit dat sy nie kinders kon hê nie. Maar daarvoor het sy in ’n mate probeer vergoed deur met groot deernis en begrip oor hulle te skryf.

Soos dit ’n skrywer betaam wat meer as 130 boeke die lig laat sien het, moes daar hard en standhoudend gewerk word. Kortom, Ena was ’n werkesel van formaat. Lang tye het sy tot 15 uur per dag geskryf, dikwels tot laat in die nag. Sy het nie net liefdesromans geskryf nie maar ook speur- en avontuurverhale, geestelike boeke, ’n verjaardagboekie, ’n Christelike dagboek (Daaglikse gesprek), en ’n digbundel, Roosknop vir ’n engel.

Deur die jare is baie van haar boeke herdruk en het dit gereeld as beste verkopers op boekwinkels se verkoopslyste verskyn. In 2012 is Plekkie in die son en Die wit koningin gekies as twee van die 101 beste Afrikaanse boeke in Leserskring se meningspeiling.

Vir die baie gewilde Plekkie in die son het Ena saam met die melaatses in Westfort naby Danville, Pretoria, gaan bly. Dié roman en ook Vrou uit die nag is later verfilm. In 2013 het die ATKV haar met haar 76ste verjaardag en 53ste jaar as skrywer met ’n oorkonde vereer. Volgens die toonaangewende Nielsen-indeks was daar in 2008 vier en in 2009 drie van Ena se omnibusse onder die toptien verkopers van plaaslike fiksie.

Hoe sy as skrywer onthou gaan word, sal die tyd leer. Vir ons wat na aan haar gestaan het, is daar ’n leemte wat ook net deur tyd reggestel sal kan word. Hoewel Ena nie meer daar is nie, leef sy voort in die boeke wat sy nalaat en waardeur sy steeds Afrikaans help onderhou – Afrikaans, wat vandag by wyse van spreke, self aan asemnood begin ly.

Maar laat Ena ten slotte self praat: “Ek het gou ’n jammer hart vir ander, maar met myself kan ek genadeloos wees, wat vir my die lewe soms baie moeilik maak. Ek is ’n intense mens. Ek verkies genadelose eerlikheid bo ’n halwe waarheid. Liewer totale verwerping as halfhartige aanvaarding . . . Ek het die lewe leer ken soos dit is – daar het min illusies vir my oorgebly. Maar as skryfster kan ek nog droom en glo in ’n mooier, beter wêreld.”

Afrikaans het ’n vriendin verloor. My hart is seer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.