Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eunice Basson debuteer ná jare
Leiboom, die digbundel van Eunice Basson (64), ’n kunshistorikus en voormalige dosent aan Unisa, het onlangs verskyn. Rudolf Stehle het haar uitgevra.
Eunice Basson

Waar kom jou belangstelling in die digkuns vandaan?

Die belangstelling in die digkuns, Afrikaans en Afrikaanse letterkunde kom van my pa af. As jong mens in die vroeë 1930’s en 1940’s is van sy kortverhale in tydskrifte soos Die Nuwe Brandwag en Ons Eie Boek ­gepubliseer. Hy het wyd gelees en boeke gekoop, en ek en my broers het vrye teuels gehad om uit sy boekery te kus en te keur.

Hoewel daar al van jou gedigte in 1996 in Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer is, debuteer jy betreklik laat met ’n bundel. Waarom?

Die akademiese wêreld het die geneigdheid om ’n mens on­verhoeds geheel en al in te sluk – veral by ’n instansie soos Unisa waar afstandonderrig ­soveel bykomende admini­stratiewe verantwoordelikhede ­inhou.

Hoewel ek in 1996 probeer het met die publikasie van ’n paar gedigte in Tydskrif vir Letterkunde, het doseerverpligtinge die oorhand gekry. In 2008 het ek besluit om vir myself iets aan te pak en my akademiese grense in kreatiewe skryfkuns te verbreed. Ek het in 2008 geregistreer vir ’n MA in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. ­Henning Pieterse, ’n oudkollega, was my studie­leier.

Is die bundel as deel van hierdie graad voltooi?

Ja, hoewel ek net meer as ’n jaar ná die kursus nog sowat 21 gedigte by­gewerk het.

Jou bundel getuig van ’n besonderse woordgevoeligheid. Minder gebruikte of ongewone woorde soos “kelim”, “filigraan”, ­“souffleer”, “opklad”, “hermelyn” en “flets” val op. Wat is jou ­­oog­merke hiermee?

Ek wil die gebruik van spesifieke woorde toeskryf aan my ­agtergrond as kunshistorikus waar taal net so ’n belangrike skeppende medium van oordrag by die interpretasie van die visuele kunswerk vorm. Dit gaan nie net oor die aanskoulikheid van ’n spesifieke visuele beeld nie, maar ook oor die wyse waarop taal skeppend gebruik word om die kunswerk vir die toeskouer toeganklik te maak.

Ek is geneig om vanweë my gekarring in woordeboeke die “grense” van ’n woord nog ­verder te ontgin om juis met toonwaarde of nuansering ’n baie spesifieke prentjie in my kop in te kleur of vorm te gee.

Daar is heelparty gedigte oor jou grootwordjare en oor jou herinneringe aan jou ouers. Is die bundel ’n poging om te voorkom dat die verlede vergeet word? Of het jy ’n ander oogmerk in gedagte?

Skryfwerk is in soveel opsigte outobiografies en die veld ­waarin ons herinneringe uit ons kleintyd opgesluit lê, vra om ­getap te word. As enigste dogter en ’n laatlam in ’n huishouding van ouer broers het ek nogal carte blanche gehad om heel ­gelukkig en sorgvry groot te word.

My ouers het albei ’n groot vormende invloed op my lewe gehad, veral my taamlik on­ortodokse pa met sy liefde vir die Afrikaanse letterkunde. Ek wou beslis sekere herinneringe boekstaaf, ja.

Handel die gedig “Biografie” oor jou pa? Kan jy iets meer vertel oor sy ­ervaring in die Tweede Wêreld­oorlog?

Nee, die gedig handel oor my oom se wedervaringe in die Tweede Wêreldoorlog. Hy het vrag heen en weer na Noord-Afrika gevlieg. Met een van die vlugte moes hy en sy mede­vlieënier in ’n Dakota ’n noodlanding in die woestyn doen, waarna sy kollega aan sy beserings dood is.

My oom het met ’n been­frak­tuur by die wrak gelê toe ’n swerwer op hom afgekom het. Met opgeskote broers in die huis wat diep onder die indruk van die oorlog was en onder meer skaalmodelle van Messer­schmitts en Spitfires uit balsahout gebou het, het my oom ons kinders ure lank met sy verhale besig gehou. Ek was die stertjie in hierdie geselskap.

Waarmee hou jy jou besig?

Ek het in 2011 vroeërig afgetree, maar is steeds betrokke by ­nagraadse studieleiding by drie tersiêre instansies en tree ook op as kunsadviseur vir korpo­ratiewe instansies, asook vir private kunsversamelaars.

 Queillerie is die uitgewer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.