Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Geheime revolusie: Spioenbaas se kampvuurstories
Barnard het ’n dekade lank baie naby aan die politieke drama van ’n gewelddadige land geleef, maar sy memoires vertel min van dié verhaal, meen Piet Croucamp.

Niefiksie

Geheime revolusie: Me­moires van ’n spioenbaas

Niël Barnard met Tobie Wiese

TAFELBERG, R250

’N Memoire kan die outeur se analitiese integriteit op ’n ironiese wyse aan die kaak stel. Die wisselwerking tussen die feite van die verlede en die interpretasie van die geskiedenis vereis ’n nederige erkentlikheid wat betref die minimalistiese teenwoordigheid van die individu binne die komplekse nuanses van die groter prentjie.

Wanneer die outeur die mees dominante determinant in die narratief blyk te wees – by herhaling – gaan die waarde van interpretasie en geldige begrip verlore. Die memoires van ’n spioenbaas behoort diskreet te wees wat ego en identiteit betref, maar ruim met betrekking tot intelligente waarneming.

Die eerste vraag wat opkom met die lees van die boek is: Hoekom het Barnard nie self die skryfwerk gedoen nie? Hy is aldus sy eie opinie ’n briljante akademikus wat reeds op die ouderdom van 27 jaar ’n professoraat beklee het en hy “. . . kon binne drie minute ’n relaas opsom wat andere tot twee ure sou neem”. Dit, buiten sy “. . .vermoë om mense se gedagtegang vinnig te peil en dit dikwels beter te verwoord as wat hulle dit self kan doen”.

Barnard se pronkopinies oor homself raak egter teen die middel van die boek effens dik vir ’n daalder. Die grootheidswaan is nie net steurend nie, maar laat die leser onrustig: Hoe het Barnard sy ego vir meer as ’n dekade in toom gehou?

Met Barnard se memoires wil die spanning maar net nie kom nie en die naïwiteit van die politieke narratief, die selfvoldaanheid van die kleinburgerlike annekdote en staaltjies – Hermann Giliomee verwys daarna in die voorwoord as kampvuurgesprekke – wil ook nie wyk nie. Sy bewondering vir ’n outokraat soos PW Botha, sy onkritiese blik op die driekamerparlement en min­agtende verwysing na groepe wat gedurende die 1980’s uit die Afrikanerpolitiek wegbreek om met die ANC in die buiteland in gesprek tree, is steeds in retrospek verstommend.

In die teenwoordigheid van Mandela word ’n rassistiese grap in ’n verwysing na ’n “tea boy” ingewerk. Selfs sonder die wysheid van terugskouing en ondanks die teenstrydighede in sy eie politieke gevolgtrekkinge het Barnard altyd geweet Nelson Mandela is Suid-Afrika se volgende president, maar nie op ’n geloofwaardige wyse nie.

Dit is soveel meer waardevol vir ’n memoire wanneer die leser subtiel bewus word van ’n intelligente wysheid, eerder as wat dit tot vervelens toe uitgespel word. Die geloofwaardigheid van die memoire word ook aangetas wanneer reeds gestelde idees, opinies of gebeure herhaal word. Die spookskrywer, asook die redigeerder moes ’n buitengewone verdraagsaamheid hê om dit by herhaling mis te lees.

Vergelyk, byvoorbeeld, die oud-polisiekommissaris Johan van der Merwe se boek, Trou tot die dood toe, oor min of meer dieselfde tydperk. Van der Merwe is dalk ideologies onder verdenking, maar niemand sal ooit twyfel daaraan dat hy met sy vinger op die sneller en sy hart in die loopgraaf geleef het nie. Daar is ’n morbiede geloofwaardigheid en integriteit wanneer Van der Merwe sy saak namens die SAP stel. Eugene de Kock en Jeremy Gordin se boek, A Long Night’s Damage, is eweneens seker die mees oortuigende relaas wat betref die ontsaglike kompleksiteite van besluitneming, geheimhouding, strategiese denke en die oorlewing van ’n outoritêre staat in die konteks van ’n nasionale en internasionale politieke skaakspel. De Kock – wat met verskeie intelligensiedienste te doen gekry het as bevelvoerder van die SAP se Vlakplaas-eenheid – beskryf Suid-Afrika se Nasionale Intelligensie (NI) onder Barnard gedurende die 1980’s as akademies, polities naïef en organisatories verwyderd van die werklikheid.

Wanneer Barnard se perspektief van sy eie werk en lewe aan die orde is, maak hy groot erns met die relaas, maar nié wanneer sy waarnemings na buite ter sprake is nie. Die oorsig van internasionale intelligensiedienste word gelewer in ’n parlance van vervlakking: die Britse intelligensiedienste sou mettertyd “mak geword het”; die CIA se Bill Casey is skuldig aan “kinderlike bravado”; die Duitse BND word gekortwiek deur “politieke naïwiteit”; en Israel se Mossad ly aan “kortgatsindroom”.

Daar is ook ’n steurende min­agting vir die komplekse nuanses van mededingende stelsels. Die Russe word in die laat 1980’s oortuig dat Suid-Afrika nie die VSA se skoothonde is nie en dat ons – die apartheidstaat – Suider-Afrika wil opbou en ontwikkel met die Sowjetunie as bondgenoot. As alles maar so eenvoudig was of kon wees.

Verwysings na die Takkraalspan wat snags amptenare en ministers se kantore sou infiltreer om fotostate van dokumente te maak wat uit laksheid agtergelaat is, is komies en sal ’n leser wat erns met die inhoud van so ’n belangrike boek wil maak, eindeloos frustreer.

Soms word ’n gewigtige vraag aan die orde gestel, soos byvoorbeeld: “Op grond waarvan was ons inligting beter?” Die antwoord op die vraag sou ’n aanduiding gee van waarom PW Botha homself sou verlaat op NI se inligting, eerder as die van sy getroue militêre raadgewers of die “dikgewrigte” van die polisie. Die antwoord is redelik louwarm: “Ons inligtingsprodukte was beter omdat dit meer akkuraat en betroubaar en dus nuttiger was.” Daaropvolgens word die volgende vraag gestel: “Wat is die beste barometer van die vertroue in ’n intelligensiediens?” Die antwoord is weer eens nie juis ’n intelligente uitleg van komplekse veranderlikes nie: “Wie word eerste gebel wanneer die dinges in die drinkwater beland?”

Uiteindelik is die boek nie werklik die memoires van ’n spioenbaas nie, maar eerder die persoonlike ervarings van ’n staatsamptenaar. 

■ Piet Croucamp is ’n politieke wetenskap-dosent aan UJ.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.