Dié gedigte is oop en toeganklik, skryf Joan Hambidge.
Skynskadu deur Christine Barkhuizen le Roux. Uitgewer: Naledi. Prys: R179.
Skynskadu is die derde digbundel van Christine Barkhuizen le Roux, skrywer van die romans Padmaker (2010) en Getuie (2012). Twee kortverhaalbundels het ook uit haar pen verskyn: Waar koek en wyn ontbreek (2006) en Wat die oog gesien het (2006). Sy het in 2000 gedebuteer as digter met die bundel Dimensie en hierna het Roset in 2006 gevolg.
Skynskadu word uitgegee met ’n CD waarop die digter haar gedigte voorlees en sangers van die gedigte sing. Hiermee word die klank-aspek van die gedigte dus beklemtoon. Die flapteks is geskryf deur ’n gesiene digter, Fanie Olivier, wat die bundel tipeer as ’n herroeping van talle verledes . . .
Herinnering en haar skynmaat, nostalgie, is inderdaad belangrike dimensies in die bundel. Hierom die terugkeer na die jeug (selfs grensoorskrydende herinneringe).
Daar is verse oor die ouers en grootouers, die oënskynlik idilliese bestaan wat vol ellendes was soos meisies in “die ander tyd” of droogte wat ’n bestaan bedreig. Onthoubaar dan is “Plaas”:
huis wat agter spinnewebbe beef
tussen die veld en dynserig lug
teen die rantjie sug die somer
bid die boer om wat dan ook
’n oes is af die dam is leeg
die nuwe droogte is in sig
Daar is lykdigte oor bekende digters en die literator-biograaf J.C. Kanne-meyer. Lucas Malan, Chris Lombard enGeorge Weideman word onder andere gehuldig. In die gedig “refrein” tree sy onder meer in gesprek met Malan se digkuns wat uitloop op ’n slot wat die bundeltitel aktiveer:
en ek gewaar jou by die bottende prieel
jou pen skrywend aan die refrein
dat groen die lig en donker deel
Die agtste en laaste afdeling bevat reisgedigte. In besinnings oor ’n stad, ’n besoek aan ’n museum of katedraal aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen die land van herkoms en land van besoek. Die spanning tussen hier en daar word uitgewerk met uiteindelik ook wat die nuwe land bekend maak, soos die moeder se malvas in Granada.
Die bundel bevat reisgedigte, verse met maatskaplike kommentaar, jeugherinneringe, beeldverse (’n mooi een oor Abraham H. de Vries), liefdesverse en plekgedigte. Oudword en weerloosheid kom aan die bod en hoe herinneringe aan die ongehoorde (en ongerymde) ’n hele lewe bly verander:
: na al die jare sweer die naald
se afbreekpunte nog in my
Daar is etlike besinnings oor die digkuns via onder andere Rilke, Boutens en Judith Herzberg. (Waarom Rilke tog in Nederlands aanhaal as ons Duits begryp, die goeie vertaling van Piet Thomas ten spyt?)
Tegnies vernuftig is die gedig “Onthouwerk”, wat oorloop in die volgende vers wat “Ma” heet. “Laaste wil” kan gelees word as ’n epitaaf vir die self waarin die wens uitgespreek word oor hoe die digter begrawe wil word.
In “Operasie” word die digter se weerloosheid en uitlewering aan die kritikus, beskryf in terme van ’n operasie:
koue kamer skaars narkosegas
my jurk hang los my rug is oop
Klein, maar so netjies is die gedig “Verjaardagkalender”:
die oopslaan van ’n nuwe jaar
name om by te voeg name te wis
my pen weier die dik swart streep
deur wie vertrek het maar steeds is
ek stip alleen ’n potloodmerk
’n serk vir Lucas John en George
Op haar beste is die onthou- en nostalgiese verse die skerpste in die bundel.
Die reisgedigte – waarin herinneringe aan ander andere die ouers ook hul beslag vind – is minder gefokus.
Daar word gebruik gemaak van sogenaamde outydse woorde (waarvan ek baie hou). Die digkuns word vergelyk met die skilderkuns, soos in die programvers oor Caravaggio. Tog is dit die gestroopte, eerlike vers wat ’n mens tref.
Die verse in hierdie bundel is toeganklik en oop. ’n Handvol verse sal hierdie leser bybly. En die begeleidende CD bevat mooi vertolkings van die gedigte.
Dit is ’n bundel vir lesers wat hou van afgewerkte dog toeganklike gedigte. Daar is ’n plek vir al die verskillende style in die huis van onse digkuns.
■ Joan Hambidge doseer Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die UK.