Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gibson se streep deur die tradisionele digkuns

Poësie

Vry-

Gilbert Gibson

HUMAN & ROUSSEAU, R195

Gilbert Gibson debuteer in 2005 met die bundel Boomplaats, wat gevolg word deur Kaplyn (2007), oogensiklopedie (2009) en [vii] (2013).

Laat ek, met die vertrekslag (en gedagtig aan die woord kap in “kaplyn”) sommer my kop op die blok sit: Oor Gibson se poësie had ek nog altyd gemengde gevoelens.

Hy word beskou as ’n eksponent van die hermetiese poësie in Afrikaans; dit is nou ondeurdringbare poësie wat moeilik lees en nie dadelik al hul geheime prysgee nie. My gevoel is eerder dat Gibson se verse so swaar gaan aan retoriese oordaad dat hy dié truuks benodig om die gedigte te laat werk.

Selfs al probeer hy in gesprek tree met die werk van E.E. Cummings (en Leon Strydom se LS) vra ek my tog af of die volgende uitinge in ’n gevierde digter se vyfde digbundel hoort:

’n Meeslepende teater; meer geredelik; teen draers van rykdom; handel sonder moraliteit; wat fundamentaliste aanspoor vir guns en gawe; in die blus van sonde & eie natuur; maar die kernbesigheid was uit onverdraagsaamheid gepuur; die liegstories van die kollektiewe siel; ons sit behaaglik terug; is hy effe mooi; die cheetahgirls bibber met kaal bene in die koue; kondig oorgawe aan / gesigte wat stroef; jou akt wys na die gesonke populierbos; fluister het ’n gevoellose kern; die menslike natuur ten gronde; in diefstal verstom; in daardie konteks is rigting weg; delikate vermaning; die hande benoem deur palm en vingers; in die ysige fatalisme van leemte; ek ontvoer jou in beginsel; die stilte simmetries uit die seisoen van billike vrugbaarheid; die lig het sy brose ekwilibrium verloor; verberg die donker van die hart in drome; ’n woord na die delirium van nagtelike verhore nie; ’n formele tegniek in jou gewrigte; jou statiese onsekerheid; uitputting druk ’n mens desperaat voor fondasies; voor vensters en deure; hy het die gewone aspirasies gehad van; gebeitel deur verlies; in oneindige korrelasie met my lot?

Verstaan my tog nie verkeerd nie: Ek het niks teen bevreemdende en “eienaardige” poësie nie, maar soos Alfred Schaffer – ook beoefenaar van ’n duister assosiatiewe soort vers – op LitNet tereg opmerk: “Ek ken baie slegte ‘moeilike’ gedigte, en net so baie slegte ‘toeganklike’ gedigte.

“[Die leser se] geduld moet dan wel beloon word – die leser moet aan die einde van die dag nie for a ride gevat word nie.”

Die voorvoegseltitel van die bundel Vry- suggereer vir die leser dat die gedigte wat gaan volg, aspekte belig wat hierby aansluit, soos byvoorbeeld vryheid of Vrystaat, waar die digter woon.

Die openingsgedig, wat deurgestreep is, handel dan ook oor die Vrystaat, maar die leser vra sigself af of dit ’n gedig is, of dit deel is van die bundel en of dit illustrasie is van die digproses?

Soos Bernard Odendaal in sy resensie van die bundel tereg opmerk, trek die digter hier, by wyse van spreke, ’n streep deur die tradisionele digkuns en begin die eerste afdeling van die bundel met ’n herskrywing van die gedig om by die bundeltitel aan te sluit.

Sodoende word die leser van hierdie bundel reeds daarop bedag gemaak dat daar in die gedigte wat volg ’n selfbewustelike spel met vryheid gaan plaasvind.

Dit verklaar die gebruik van ­hakies, ellipse, skuinsstrepe, punte in die middel van die sin, dubbelpunte, ensovoort, in van die gedigte. Is ’n mens klaargelees aan “steel.[.’n trekkerbattery om:]” dan wil jy saam met van Cummings se kritici uitroep: Hierdie gedig is eksentries, selfkoesterend en fokus te veel die aandag op die truuks as die inhoud self.

Hier en daar verras Gibson my as leser met sy beeldspraak en sy eiesoortige manier van dinge beskryf.

Maar in die geheel gesien: Hierdie leser voel asof hy for a ride gevat word. 

– Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port ­Elizabeth.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.