Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
G’n pretensie; net die werk van skryf
Ek bloei wanneer ek skryf.
Wilna Adriaanse

Wilna Adriaanse, Erika Murray-Theron en Anchien Troskie het elk al meer as een trefferboek gehad.

In Woensdag se gesprek by die ATKV-Boeke-oase op Aardklop onder leiding van Ilse Salzwedel is gedagtes geruil en stories vertel soos net drie vername skrywers dit kan doen: Geen pretensie, geen hogere letterkunde-taal; net drie vroue wat oor skryf praat.

Al drie wou van kleins af skryf. “Dit het begin met versies en storietjies, maar ek het eers ná 40 gedebuteer,” het Murray-Theron gesê.

Adriaanse se eerste boek was die gevolg van ’n Nuwejaarsvoorneme. “Dit was een van my min Nuwejaarsvoornemens waarby ek gehou het,” het sy gesê.

Murray-Theron se Stippellyn is vroeër vanjaar bekend gestel. Adriaanse, bekend vir haar liefdesromans, het van genre verander en die misdaadroman Dubbelspel die lig laat sien. Troskie se Vermis op Allesverloren is pas uitgereik.

“Die boek het as ’n kortverhaal begin,” het Troskie gesê. “Ek het toe egter so nuuskierig geraak oor waar die karakters vandaan kom dat ek ’n boek geskryf het.”

Die skrywers stem saam skryf kom nie noodwendig vir hulle maklik nie.

“Ek bloei wanneer ek skryf,” het Adriaanse spottenderwys gesê. Murray-Theron het tyd nodig sodat “die idees kan lê en stowe”.

Vir Troskie moet ’n “vertrouensverhouding” tussen haar en die karakters ontstaan voordat sy kan skryf.

Salzwedel het Troskie uitgevra oor die verskil tussen ’n boek soos Dis ek, Anna, haar debuut onder die skuilnaam Elbie Lötter, en haar latere werk. “Mense moet besef Anna is agter my, dis geskryf en verby,” het Troskie gesê.

Die gesprek het gedraai na hoe skrywers hul blootstel en Adriaanse het gesê skrywers kan amper nie anders as om hulle in hul karakters in te skryf nie.

Adriaanse werk aan Eindspel, die vervolg van Dubbelspel, Murray-Theron het ’n diep begeerte om so gou moontlik weer te skryf en Troskie het gespot haar man sê sy is soos ’n ou trekker wat sukkel om aan die gang te kom.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.