Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Green Lion’: Oerspel tussen mens en natuur
Green Lion/

Fiksie

Green Lion

Henrietta Rose-Innes

UMUZI, R240

In die stad is daar ’n leeu.

Sy is Sekhmet – die naam van ’n Egiptiese oorlogsgodin, uitgebeeld met die kop van ’n leeuwyfie – en sy is een helfte van ’n teelpaar ­seldsame swartmaanhaarleeus by ’n bewaringsentrum in Kaapstad. Haar maat, Dmitri, word van kant gemaak nadat hy ’n vrywilliger by die sentrum verskeur.

Die gebeure bring ook vir Sekhmet in die gedrang, en dit is waar Con inkom.

Die band tussen Sekhmet en Con is die spilpunt van Green Lion, Henrietta Rose-Innes se nuwe roman. Con is ’n ou skoolvriend van Mark, die man wat deur Dmitri aangeval is, en nadat Con impulsief as vrywilliger in Mark se plek intree, word hy Sekhmet se hoeder.

Die roman speel af in ’n Kaapstad ’n entjie die toekoms in, waar groot dele van Tafelberg deur ’n hoë heining afgesper is om die berg se verrinneweerde fauna en flora teen menslike invloed te probeer bewaar.

Soos wat die berg se tralies die oorblywende wildernis teen Homo sapiens moet beskerm, só is Sekhmet agter tralies om mense teen háár te beskerm.

Tog trek Sekhmet sekere van die karakters soos ’n magneet aan. Daar is ’n sin van die mistieke, die magiese in haar opgesluit, en daar is ’n groep aardige diereliefhebbers wat ’n absolute fassinasie met haar ontwikkel.

Die karakters se hunkering na ’n diep verbintenis met ’n ander wese eggo ’n menslike desperaatheid om die natuur te behou, maar ook om iets groters as hulself aan te raak.

Daar is iets aan Sekhmet wat ook die leser se oerinstink laat roer – die binnestem wat sê oppas, leeu!

Maar dis nie net Sekhmet nie, dit is ook die verbode woud teen die berg. Tegelyk gevaarlik en aanloklik – ’n plek om heen weg te glip, in te verdwyn.

Green Lion is ’n lieflike boek.

Die verhaal boei enduit, en die leser kan die karakters se diepe hunkering verstaan en daarmee identifiseer. 

 Louise Ferreira is ’n vryskutresensent van ­Johannesburg.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.