Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gruwelappels vir die honger maag

Fiksie

Skrik op die lyf – 46 bangmaakstories wat jou broek laat bewe

Saamgestel deur Deborah Steinmair & Gerda Taljaard

TAFELBERG, R220

Ons leef in ’n era waar jy jou sê al hoe korter, bondiger en vinniger moet kan sê – verkieslik in 140 karakters of korter en deesdae, behoede ons, selfs sonder klinkers. Daarom is dit so ironies, selfs amusant, dat korter fiksievorme almaardeur aan die agterspeen bly suig wat betref literêre statuur, bemarkbaarheid en kommersiële sukses.

Die opbloei wat die Afrikaanse kortverhaal van die jare sestig tot rofweg iewers in die jare negentig beleef het, is iets van die verlede en deesdae word die verskyning van ’n nuwe bundel Afrikaanse kort­verhale tereg as ’n gebeurtenis in die kleine bemark.

Wat skynbaar wél kommersieel die moeite werd is (was?), waarskynlik met die oog op die voorgeskrewe mark, is bloemlesings van Afrikaanse bakenwerke waarby ’n meestal vermaarde samesteller na persoonlike smaak ’n moderne stem of ses bygeklits het, maar van dié soort is daar myns insiens oor die jare net te veel uitgekraam.

Natuurlik sluit ’n mens hierby nie noodwendig projekte soos Nuwe Stories (vir skrywers onder 30) of tematiese versamelbundels soos Skrik op die lyf in nie omdat dit uitsluitlik nuwe materiaal bevat wat op uitnodiging spesifiek vir die boek geskryf is. Soortgelyke projekte in die onlangse verlede sluit in die erotiese bundels Bloots en Skarlakenkoors en Kosblik met eet- en kosverwante skryfsels. ’n Mens dink ook onwillekeurig aan vroeëre verhaal- en essaybundels soos 40 is g’n vloekwoord (1999) wat deur Hettie Scholtz saamgestel is, en SA 27 April 1994 en SA 27 April 1994: Een jaar later, saamgestel deur André Brink.

Deborah Steinmair en Gerda Taljaard, die samestellers van Skrik op die lyf, het verlede jaar ’n ope uitnodiging aan skrywers gerig om verhale van tussen 800 en 3 000 woorde voor te lê “oor die mistieke, magiese, bosinnelike, onsigbare, onverklaarbare, metafisiese, onaardse, okkultiese en transendente; oor kwelgeeste, goëlgeeste, dwaalgeeste, fortuinvertellers, stigmata, wonderwerke, sieners, séances, sangomas, tokkelosse, djins, spookligte – oor enigiets wat nie wetenskaplik verklaar kan word nie”.

Die resultaat is dié welkome gril-en-gruwelpoespas met bydraes deur gevestigde skrywers soos Marié Heese, Kerneels Breytenbach en ­Cecile Cilliers asook ’n magdom nuwe stemme wat só die kans kry om te publiseer.

Vir hierdie leser was die grootste plesier van die bundel om te sien hoe skeppend – ’n mens wil amper die woord “modern” gebruik – die bydraers omgaan met die basiese opdrag en hoe hulle in die proses C.J. Langenhoven se klassieke en vandag steeds wonderbaarlike spookverhale behoorlik op hul kop keer.

In die openingsverhaal, “Haar maaksels” deur Marié Heese, word ’n bekroonde misdaadromanskrywer byvoorbeeld gekonfronteer deur die reeksmoordenaars wat sy geskep het, en in “Labork 609” deur Henning Janse van Vuuren kry ’n nuwe intrekker op Facebook ’n vriendskapversoek van die vorige huurder van dieselfde woonstel  . . . die probleem is net dat dié voormalige huurder reeds op tragiese wyse die tydige met die ewige verwissel het . . .

Met dié stewige aanbod stories is dit ’n haas onbegonne taak om verhale uit te sonder, en nêrens voel ’n mens “ag nee, dié een kon maar gebly het” nie. Maar wat jy ook dadelik moet byvoeg, is dat die tema meer aanklank sal vind by lesers wat óf van hierdie soort boeke hou óf wat net so welbedeeld is in die verbeeldingsdepartement soos die skrywers.

Ek moet verder bieg dat nie een van die “46 bangmaakstories wat jou broek laat bewe” (soos wat op die voorblad belowe word) hierdie uitwerking op my gehad het nie. Omtrent die enigste verhaal wat ’n ligte siddering teen my ruggraat afgestuur het, is Martin Steyn se “Die trommel” – pure gruwelfliek.

Skrik op die lyf is een van daardie bundels wat jy nie in een of twee aande moet probeer kafdraf nie – dis asof die gril-effek van dié allegaartjie in groot dosisse begin taan. Nee, hierdie gruwelappeltjies moet jy proe-proe verorber soos die honger jou verbeelding beetpak. 

– Johan van Zyl is ’n vryskut-joernalis en -vertaler van Koringberg in die Swartland.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.