Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Helene de Kock vertel van haar nuwe boek
Helene de Kock se naam was nog altyd sinoniem met lekkerleesstories, en Debora en Seuns is g’n uitsondering nie. Sy gesels voor die Woordfees met Elmari Rautenbach.

As ’n honneursstudent het ek en ’n vriend beurte gemaak om Huisgenoot te koop sodat ons jou vervolgverhaal kon lees – selfs baklei daaroor! Tog het jy in ’n stadium gesê die skrywer van “gewilde ­romans” word dikwels “op die ­vingers getik”. Voel jy steeds so?

Jong, oor die muwwe ou stryd oor wat nou eintlik literêre ­meriete het en wat nié, kan ek boeke oor skryf. Alle skrywers wie se boeke goed verkoop, is al sat vir hierdie debat. Want ­elitistiese, pretensieuse boeke en swak geskrewe werk het ewe min met goeie verhaalkuns in gemeen. ’n Roman wat goed ­geskryf is en by ’n gesiene uit­­­ge­wery met gerespekteerde ­redakteurs die lig sien, het ­beslis ­meriete. Ek sien elitisme daarom as ’n siening gegrond op ­onkunde. Na opbouende kritiek luister ek wel graag!

Jy het as ’n tweedejaar by Tukkies jou eerste tydskrifstorie geskryf. Wat is die grootste verskil tussen die ­skrywer van toe en nou?

Ek wou sakgeld verdien en was hoogs in my skik toe die storie verskyn, maar ek het eers ná die geboorte van my drie ­kinders in alle erns begin skryf. Die grootste verskil is miskien dat ek moontlik nóg dankbaarder is vir enigiets wat ek bereik. Dit is nie vanselfsprekend dat ’n boek gepubliseer word nie. Dit verg opnuut vakmanskap en harde, aanhoudende werk. ’n Skrywer “arriveer” nie sommer nie.

Jou nuwe boek speel af in ’n Oos-Vrystaatse dorpie wanneer die Tweede Wêreldoorlog uitbreek. Hier deel ’n matriekmeisie van ­Engelse afkoms die dorpenaars se fassinasie met die enigmatiese Debora Schlagerfeldt. Wat was die inspirasie?

Ek is gedurende die Groot Oorlog gebore. My pa was ’n NG predikant; my ma ’n onderwyseres. Ons was, soos die meeste ander mense, maar brandarm met die traumatiese nasleep hiervan. Alles was skaars. As ek reg onthou, het dit meer as ’n dekade geneem om behoorlik op die been te kom. My ouers het dikwels gepraat oor die ná-oorlogse jare, hoe stukkend dié was wat teruggekom het en hoe moeilik verkrygbaar dinge was. Ons het toe al baie by die familie in die Oos-Vrystaat gekuier en ek ­onthou veral die gestrooptheid van daardie jare.

Want ­elitistiese, pretensieuse boeke en swak geskrewe werk het ewe min met goeie verhaalkuns in gemeen.

Jy noem interes­sante ware verhale waarop jy in jou ­navorsing afgekom het wat jy as agtergrond gebruik het, veral vir tonele wat gedurende die Blitz in Londen afspeel. . .

Die BBC se argiewe is vol wonder­like verhale. Sommige van die ­sekwense in die boek het ook werklik gebeur. Nou moet ek dadelik byvoeg: Die feite is aangepas (nie verdraai nie!) om by die storie te pas. Dan, die dokter wat my mangels as kind uit­gehaal het, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Guy’s Hospital in Londen gewerk en sy weduwee het tydens latere onderhoude lig op die leefwyse daar gewerp. Ek het ook uitgevind fisioterapie, waarin die hoofkarakter haar bekwaam, was daardie tyd nog in sy kinderskoene, en fisioterapeute is eers “masseuses” genoem.

Jou doktorale proefskrif van verlede jaar handel oor die skep van ruimtelike dinamika in ’n roman. Hoekom juis hierdie onderwerp?

Die ruimte waarin ’n verhaal ­afspeel, is soveel méér as net die sogenaamde “agtergrond” of ­milieu. Hierdie dinamika het ’n geweldige invloed op die karakters, net soos op mense in die werklikheid. Byvoorbeeld: Deur rooivinke in ’n chaotiese swerm deur die lug te laat waaier, word die konkrete ruimte ­geteken en kan dit simbolies wees van ’n latere versplintering van die lewensverwagtinge van ’n karakter.

In 2007 het As Dood Lewe Word ­verskyn, waarin jy skryf oor die dood van jou oudste seun in ’n on­geluk. Dié het later in Engels en as e-boek verskyn. Hoekom oor so iets traumaties skryf?

Ek moes Jaco se dood verwoord. Moontlik juis omdat ek ’n skrywer is. Dit was verskriklik moeilik, maar dit het my ­gehelp om die trauma en ­gemis te verwerk. Ek het dikwels met my man, Jos, en die ander twee kinders daaroor gepraat en dit was ook helend. Die boek is herdruk en mense vra nou nog daarna. Daar is skrikwekkend baie mense wat kinders verloor. Dis my manier om uit te reik; om die versekering te gee dat God wel heel maak.

Van jou eweknieë, soos ­Chanette Paul en Wilna Adriaanse, het ­oorgeslaan na die skryf van speurromans. Is dit iets wat jy sou ­oorweeg?

Ek lees graag spanningsver­hale en dalk oorweeg ek dit om eendag my hand daaraan te waag. Maar op die oomblik ­bepaal ek my by nog ’n ­histo­riese roman – ek geniet die na­vorsing!

■ Debora en Seuns verskyn by ­Human & Rousseau. Madri Victor gesels op 12 Maart om 14:00 met De Kock in die Boektent.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.