Sedert haar debuutroman Shark’s Egg in 2000 gepubliseer is, het die Kaapse skrywer Henrietta Rose-Innes ’n gerekende figuur in die Suid-Afrikaanse literêre landskap geword. Haar jongste werk, Green Lion, is eweneens ’n kragtoer. Louise Ferreira het met haar gesels.
Green Lion speel af in ’n byna hedendaagse Kaapstad, maar een waar groot dele van Tafelberg afgesper is om die omgewing te probeer beskerm.
“Dit is ’n effens alternatiewe weergawe van Kaapstad, maar ek het
net die werklikheid gevat en dit aangepas. En ek dink nie dis so spekulatief
nie, dis ’n sterk moontlikheid.”
Ons sit en gesels in ’n Italiaanse restaurant in Johannesburg; ek
met swart koffie, sy met ’n glas droë witwyn. Dit voel byna vreemd om in so ’n
alledaagse omgewing oor haar werk te praat, want een van die kenmerkende
elemente van Rose-Innes se fiksie is ’n sterk gevoel van onrustigheid en ongemak
– die leser weet iéts is anders, maar kan nie die vinger daarop lê nie.
“Ek stel nie baie belang in realisme nie. Ek is geïnteresseerd in
daardie splinter van ervaring waar die werklike en die alledaagse ’n
onheilspellende gevoel aanneem; iets wat nie fantasie is nie, maar ’n
verwringing of verskerping van die werklike.
“Dit is die essensie van die sonderlinge, iets wat jy ken, maar ook
nie heeltemal nie. Ek is geïnteresseerd in die moontlikheid dat die regte wêreld
’n soort misterie kan bied.
“Ek dink dis die naaste wat ek aan spiritualiteit kom.”
Die fokus van die boek is Sekhmet, ’n swartmaanhaar-leeuwyfie, en
die hoofkarakter, Con, se behoefte na ’n vorm van konneksie met haar.
Iets wat Rose-Innes se aandag trek, is die wyse waarop diere (veral
wilde diere) ’n sentrale, byna magiese rol in ons kultuur aangeneem het.
“Ons is besig om ons verhouding met die werklike natuur te vervang
met kunsmatige simbole en ikone.”
Rose-Innes gesels ooglopend gemaklik oor haar werk; tog speel sy
voortdurend girts-girts-girts met die suikerpakkies op die tafel voor haar.
Die verlede is prominent in haar romans: museums, fossiele,
oorblyfsels. Hoe so?
“Dis ’n komplekse persoonlike kombinasie van dinge. Ek het ’n baie
sentimentele, nostalgiese liefde vir museums. My ma was die museumkunstenaar by
die Suid-Afrikaanse Museum, voordat ek gebore is. Ons het dikwels soontoe
gegaan, dit was een van haar gunsteling-plekke. Ek ken dit baie goed en
assosieer dit met my ma.
“Die boek is eintlik ’n huldeblyk aan haar omdat dit so deurdrenk
is van daardie herinneringe, en dit gaan oor my eie persoonlike verlies.
“Terwyl ek die boek geskryf het, het my ma siek geword en is sy
oorlede, so sy is baie sterk aanwesig in die boek.”
Haar ma, Ann, was ook die een wat die swartmaanhaarleeu onder haar
aandag gebring het.
“In die museum was daar ’n foto van een van die laaste oorblywende
leeus, wat nou opgestop is in ’n stoorkamer van die Londense Natural History
Museum. Een van die lekker dinge van die boek was dat ek Londen toe gegaan het
om dit te probeer opspoor, en ek het! Ek het dit gevind, en daarna gekyk, en toe
weer weggegaan.” Sy lag.
“Dis een van die eerste dinge wat ek doen wanneer ek op ’n nuwe
plek kom. Ek gaan na die natuurmuseum. En ek is gefassineer deur argeologie en
die antieke menslike geskiedenis. Daar is iets aangrypends en magies aan
hierdie menslike begeerte om dinge in die wêreld te bewaar.”
Die groen leeu van die titel is ’n term uit die alchemie, ’n tema
wat deur die boek getrek word. “Ek het die frase teëgekom en onmiddellik gedink,
‘Dis die titel van my boek.’ En toe moes ek ’n manier vind om dit in te werk!
Dit het met Nineve ook gebeur. Maar dit pas tog, dink ek, want die alchemiste
het probeer om die kuur vir die dood en alle siektes te vind.
“Onmoontlike drome. Dis emblematies van die bewonderenswaardige
menslike drang om teen ons omstandighede te baklei, teenstrydig met al die
bewyse om ons.”
Op die lapel van haar vlootblou baadjie is ’n borsspeld vasgesteek:
’n goue leeu, skaars groter as ’n vingerlit.
Sy sê sy is bietjie van ’n “crazy animal person”.
“Hulle is lieflik om oor te dink en oor te skryf.”
Teen die donker lap glim ’n stukkie wildernis.