Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jack Parow: Die ou met die snor by die bar
Jack Parow: Die ou met die snor by die bar

Niefiksie

Jack Parow: Die ou met die snor by die bar

Theunis Engelbrecht

PENGUIN, R200

Hulle sê daar is nie iets soos ’n perfekte boek nie, en dis seker waar van dié ene ook. Maar Jack Parow se verrassende outobiografie, soos vertel aan Theunis Engelbrecht, is sekerlik een van daardie literêre – ja, ek noem dit “literêre”, hoewel dit allesbehalwe in hogere Afrikaans geskryf is – hoogtepunte van die jaar.

Ek moet ruiterlik erken dat Die ou met die snor by die bar loshande een van die lekkerste boeke is wat ek al gelees het. En dit is vol cool prentjies ook!

Eintlik hoef ek geen verdere redes te gee nie. Ek kan maar net aanhaal uit die teks om my punt te bewys.

In die openingshoofstukke vertel Jack van sy kinderjare:

“My oupagrootjie het ook die eerste sooi vir Parow se sewerage ­system gespit. My ma se broer het nou nog die silwer graaf waarmee hy dit gedoen het.”

En:

“. . . Ek wou net in Bellville bly, ek wou nêrens anders gaan nie. Bell­ville was waar ek safe gevoel het, want alles was daar. My familie was daar, alles wat ek nodig gehad het was daar. Daar was skate shops, die works.”

Dit raak nog beter. Hy skryf ook oor sy skoolopleiding, spesifiek sy eerste kennismaking met die werke van Shakespeare:

“Ek weet almal sê jy moet hierdie high literature lees, maar dit was vir my net soos in glad nie interessant nie.”

Sjym, Jack! Ons harte bloei vir jou!

Oor sy besluit, jare daarna, om eerder liedjies in Afrikaans te skryf:

“Daar was altyd iets missing en ek het in daai tyd nooit regtig comfort­able gevoel as ’n Engelse rapper nie  (. . .) toe skryf ek daai ding so fokken vinnig en toe is ek net soos in oukei, befok, ek het nou my fokken ding gekry – dis wat ek wil doen, ek wil in Afrikaans skryf, ek is fokken mal daaroor.”

Oor die probleme wat hy ervaar het tydens sy eerste oorsese musiektoere, skryf hy oor sy haat vir Europese konjak:

“Ek het in daai dae altyd oral waar ek gaan my eie brandewyn saamgevat, want die fokop is as jy in ander lande kom, het hulle nie altyd regte brandewyn nie. Wat daar deurgaan as brandewyn is sulke soet kak wat horrible is.”

In die loop van die boek kom ’n mens baie goed agter oor Jack ­Parow wat jy nie vooraf geweet het nie. Soos dat hy op skool Cravenweekrugby gespeel het! En soos dat hy so amper-amper lid geword het van Die Antwoord, maar dit van die hand gewys het net voordat hulle wêreld­beroemd geword het (goeiste, sou hulle dan beter geklink het?)!

Hy het heeltemal ander idees as Steve oor hoe ’n mens “Die Stem” behoort te sing:

“Ek sal antwoord op jou roepstem, ek sal offer wat jy vra, ek sal oorkom na jou voorstoep en jou groceries indra.” (Uit die lirieke van ­“Veilig”.)

En oor die Nuwe Suid-Afrika en ons huidige regering het hy net dit te sê: “In Suid-Afrika lê die probleem nie by swart of wit nie. Apartheid is ­gone, daar is niks om te blameer nie. Al wie ons kan blameer, is die mense wat geld steel.”

Sy slotboodskap aan die jeug is egter die een paragraaf wat my vir altyd sal bybly. “So ek scheme as almal net uitchill en relax en hulle kak laat staan, sal die wêreld ’n baie beter plek wees om in te leef. En al wat ek vir die jong Afrikaanse gener­ation kan sê, is: Be yourself . . .”

Is dit nie AWESOME nie?

In kort: Ek ken Jack Parow se liedjies al jare lank, maar hierdie heerlike boek het my heeltemal onkant betrap, dit is so eerlik en onderhoudend geskryf dat ek later nie eens meer agtergekom het dat die teks deurspek is met Engelse leenwoorde en gekruide taal nie. Soos Nathan Trantraal klink Jack se Bellville-speak nooit geforseerd nie, en ek besef al hoe meer, ná die lees van hierdie boek, dat dit dalk as ’n geldige dialek erken behoort te word.

Ek het net een versugting (en hier moet jy mooi luister, Jack, want dit is ook my enigste werklike beswaar teen jou boek): Ai, ek sou so graag hierdie boek vir my kinders wou gee om te lees, dit sou die ideale opvolg gewees het vir Trompie!

Daar’s net een probleem: Jy laat daggarook darem net te lekker klink, sonder om enigiets oor die gevare daarvan te sê. Ek is ten gunste van matige gebruik deur mense wat dit kan hanteer (nie ek nie), maar om te vertel hoe jy in sekere sta­diums konstant boom gerook het, en op een plek selfs klink asof jy so ’n leefstyl aanmoedig, is regtig onverantwoordelik!

Om daardie rede steek ek vir eers jou boek weg in ons huis. (Net soos ek my eie eerste outobiografie vir jare moes wegsteek.)

Ai, en dis jammer. Want hel, Die ou met die snor by die bar is ’n Afrikaanse classic! 

 Koos Kombuis is ’n skrywer en sanger van ­Somerset-Wes.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.