Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Jani Confidential: Briljante joernaal van ontheemding
Leef ons nog in die Middeleeue waar mense soos Jani Allan in die openbaar onder ’n gejuig metafories met klippe doodgegooi word? vra Herman Lategan.
Jani Allan met haar hondjie China in Lambertville, New Jersey, waar sy woon en as kelnerin werk. Foto uit: JANI CONFIDENTIAL

Niefiksie (Memoir)

Jani Confidential

Jani Allan

JACANA, R202

Kort nadat die AWB-leier, Eu­gène Terre’Blanche, op Saterdag 3 April 2010 vermoor is, het die telefoon een aand in Lambert­ville gelui en gelui . . . in ’n piepklein dorpie langs die Delawarerivier, New Jersey, VSA.

Die dienstelefoon kon skaars gehoor word in die rumoerige, besige restaurant waar ’n oorwerkte kelnerin, ene Juliette, die gehoorbuis opgetel het. Die water op haar gesig was nie ’n tranedal nie, maar sweet, van vinnig rondhol soos ’n marathonatleet van tafel tot tafel.

Sy het die stroom nat pêrels van haar voorkop afgevee. Die nuus het haar nie juis geskok nie, sy het verwag dat dié bebaarde Hercules wel eendag gewelddadig sou sterf. Dalk om politieke redes – of dalk nes baie ander mense in Suid-Afrika: vir geld, ’n motor, ’n selfoon of uit woede.

Daardie vrou was Jani Allan, wat haar ma se troetelnaam vir haar (Juliette) weer toegeëien het toe sy in Amerika beland.

In daardie stadium was sy ’n geruïneerde, verarmde, voormalig bekwame en bekende plaaslike rubriekskrywer en geselsradioaanbieder wat soos wrakhout en uitskot in Noord-Amerika uitgespoel het. Sy was ’n ontheemde.

Weggegooi, vernietig deur Judas-vriende wat uit nyd teen haar gedraai het, duur hofsake (wat sy verloor het) om haar eer te beskerm, mans wat haar mishandel het, meedoënlose en wrede skinderveldtogte (plunderveldtogte is dalk ’n beter woord) aangevuur deur die (destydse?) patriargale en chauvinistiese media wat haar as ’n goedkoop partytjiepop, liegbek en seksmal nimfomaniese hoer afgemaak het.

Hoe goed is ons nie met slut shaming nie, nè?

Bitter min is van hierdie kamma wellustige sibariet se vlymskerp skryftalent genoem, haar kunsopleiding onder die topkunstenaar Judith Mason, haar grade, musieklisensiaat, en haar debuut as pianis as tienjarige met die Johannesburgse Simfonieorkes.

Nee, kom ons trap haar kooltjie dood. Daar is gefokus op haar sogenaamd losse sedes met ’n bekende verregse.

Die subteks was die slet moet boet, sy moet uit die poorte van die stad soos ’n addergebroedsel en jentoe weggejaag word. Sy het immers met ’n getroude vrou se kalwers geploeg.

Erger nog, sy was erg besmet omdat sy klaarblyklik met hierdie persona non grata in die katel gespring het, dus is sy (soos die mode van die tyd dit nog steeds wil hê) onomwonde soos ’n vlakvark gebrandmerk as ’n rou rassis.

Of sy een is of nie, geen mens verdien om so liederlik en liefdeloos behandel te word nie. Lees die boek. Dit is ’n joernaal van verraad, haatlikheid en ’n spieël wat ’n kollektiewe monster aan ons as mense terugkaats.

Leef ons dan nog in die Middeleeue waar mense soos sy in die openbaar onder ’n gejuig metafories met klippe doodgegooi moet word? Blykbaar.

Verder is daar iets aweregs aan Jani Allan wat aan ’n konserwatiewe plaaslike gemeenskap am­mu­nisie gegee het. Sy is ontsettend stroomop, uitdagend, uitgesproke en ’n vrou moet mos haar plek ken en haar bek hou. Polities weet ’n mens ook nie waar jy met haar staan nie, sy is soos kwiksilwer.

In ’n land wat verval het in ’n aangebrande potjiekos van banale dogma, retoriek, ortodoksie en pedantiese, holruggeryde drogredenasies, ’n land waar daar bitter min gesofistikeerde politieke skakerings bestaan, gaan dít nie juis goed af nie.

Verder is haar voorkoms nie iets wat inpas by die stereotipe van die argetipiese vrou van die Vrystaatse Vrouelandbou-unie wat agter ’n tafel by die kerkbasaar Hertzoggies verkoop nie. Sy is ’n gul, kosmopolitiese mengelmoes van ’n uitspattige Sandton-kugel, ’n titsel Mata Hari, off-Broadway fopdosser (en ek bedoel dit met liefde), Marlene Dietrich en met ’n goeie skeut van die adellike Camilla Parker Bowles.

Sy is lank en maer soos ’n uitroepteken, met wilde blonde hare, ’n kep, stywe broek en stewels – en toe die tydskrif Style haar in 1996 op sy voorblad plaas, was daar moleste. Vra my, ek was daar. Ek was ook by Cape Talk toe sy uitgeboender is soos ’n straatbrak wat op ’n mat gepiepie het.

Vandag? Sy werk haarself steeds doodmoeg as kelner (op 62), ses aande ’n week, en op haar blog skryf sy haar woonstel van R15 000 ’n maand is baie klein, langs ’n parkeerterrein geleë en kyk uit op ’n Mexi­kaanse restaurant.

Op 11 September word sy 63, die skreiende ironie van daardie dag (9/11).

Nou het sy haar storie self vertel. En wát ’n boek, in haar kenmerkende kaleidoskopiese skryfstyl. As daar nie ’n rolprent van haar lewe gemaak word nie, sal dit ’n skande wees.

Belangriker nog, lees die boek om haar sin vir humor te geniet. En om te sien hoe ’n mens ten spyte van terugslae altoos met trots kan oorleef, hoe jy steeds soos ’n uitroepteken kiertsregop met ’n dotjie op jou kop kan staan en sê: I will sur­vive, come hell or high water. En basta! 

 Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis en skrywer van Kaapstad.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.