Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kopskote: Carel van der Merwe
Carel van der Merwe is ’n skrywer van Stellenbosch wat tans besig is met sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch. Sy vorige boeke sluit in Nasleep (2007), Geldwolf (2009) en Skaduwee (2012), wat vir verskeie literêre pryse benoem is. Geldwolf is bekroon met die Eugène Maraisprys. Sy jongste werk, Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog, is pas deur Tafelberg uitgegee.
Carel van der Merwe

Hoekom skryf jy?

Omdat ek dit geniet. Dit is skeppend, jy doen dit op jou eie, jy hoef nie aan ’n baas te rapporteer of werknemers te motiveer nie en jou uiteindelike sukses of mislukking is heeltemal in jou eie hande.

Vir wie skryf jy?

Eerstens vir myself, oor dinge wat my nuuskierig maak, oor sake waaroor ek wonder, en dan hoop ek maar dat ander mense ook daarin sal belangstel. In Donker stroom se geval is die boek gemik op mense wat nie net in Eugène Marais belang stel nie, maar ook in ’n ander invalshoek op die gebeure in daardie belangrike era van ons land se geskiedenis.

Waaroor gaan Donker stroom?

Eugène Marais het van 1897 tot 1902 in Engeland en Europa gewoon, ’n tydperk in sy lewe waaroor baie min bekend is, en jare waarin die Anglo-Boereoorlog natuurlik ook plaasgevind het. Donker stroom is ’n feitelike, geskiedkundige werk wat onthul presies wat Marais in hierdie “verlore” jare gedoen het. Maar ook veel meer, onder meer wat hy in die geheim aan die politieke en joernalistieke front gedoen het in die tydperk 1887 tot 1907, van die ouderdom 17 tot 37, toe hy in die fleur van sy lewe was. En Donker stroom werp ook nuwe lig op die oorsake van die Anglo-Boereoorlog.

Wie is jou literêre invloede?

Ek hoop alle goeie skrywers wat ek al gelees het, waarvan daar te veel is om hier te noem. Maar met die skryf van Donker stroom was ek deurentyd bewus van wat Thomas Pakenham met sy gesaghebbende The Boer War vermag het, naamlik om ’n geskiedkundige werk só te skryf dat dit ten spyte van die magdom feite ’n mens se aandag enduit boei.

Wat gaan op jou bedkassie aan?

’n Stapel boeke wat dreig om te val, sommige wat ek nog moet lees, ander wat ek die eerste keer lees of weer lees, onder andere Koos Stadler se Recce, Split deur Debbie Loots, Austerlitz deur J.G. Sebald en Attwell se J.M. Coetzee.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.