Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kopskote: Carina Stander
Carina Stander was plaaskind in die Waterberg. Ná ’n honneursgraad in beeldende kunste volg ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk, twee digbundels, talle reisartikels en rubrieke. Carina het onlangs ook haar seun se voorskoolse vertellings opgeteken in ’n kinderboek, Wolk- land . Haar roman, Wildvreemd , is voorgeskryf vir IEB-skole se matrikulante, in Nederlands vertaal en word nou in ’n rolprentdraaiboek omgeskep.
Carina Stander

Hoekom skryf jy?

Ek is brandend nuuskierig oor die einde.

Vir wie skryf jy?

Vir diegene wat my grappies vang. (Ek is nogal ernstig oor humor.) Ernstiger: ’n Aktuaris sê anderdag dat hy my boek saamgeneem het op ’n rotsklimekspedisie saam met sy vriende. Een aand het hy sy koplig aangeskakel en begin lees doer in sy enigheid onder ’n oorhangkrans in die Drakensberg. Dwarsdeur die nag. Met sonop was hy klaar.

Ek hoor van ’n boer wat met die droogte noodgedwonge ’n lorriedrywer moes word – saans lees sy vrou my plaasgedigte vir hom “sodat hy ’n bietjie kan huil”. Dan is daar die mediese dosent wat vertel dat hy Wildvreemd twee keer in een week gelees het – eers vir die storie, toe vir die taal.

Vir súlke lesers kan mens vele selfvertwyfelings en ’n wankelmoedige bankbalans trotseer en aanhou skryf van ewigheid tot amen.

Waaraan skryf jy nou?

In 2001, terwyl ek die Skotse Hooglande binnegery het waar ek vir ’n halwe jaar sou woon, het ’n verhaal uit die niet op my afgepyl. Ek het net daar in ’n sneeulandskap in die middel van nêrens stilgehou, my skryfgoed uitgehaal en begin skryf aan ’n allegorie, ’n uitgebreide metafoor waarin reismistiek ’n rol speel. Intussen het ek doenig geraak met ander projekte, maar voortdurend navorsing gedoen op byvoorbeeld walvisjag en die giet van bronsklokke; ek het verskeie bergreekse besoek; eiesoortige karakters het hulle kom aanmeld.

’n Fliekmaker het die verhaalbeplanning gelees en voorgestel dat ons dit saam ontwikkel met die oog op ’n boek én draaiboek.

Wie  is jou literêre invloede?

Digters wat op ’n sintuiglike wyse met die verhalende omgaan: Breyten Breytenbach, HJ Pieterse, Sheila Cussons, Carolyn Forché, Yehuda Amichai, Pablo Neruda. Verhaalskrywers met ’n digterlike oog of stembuiging: Michael Ondaatje, Anne Michaels, Niall Williams, Etienne van Heerden, Chris Barnard.

Wat gaan op jou bedkassie aan?

Twee mammoete lê op loer: Kristin Lavransdatter van Sigrid Undset en Love in the Time of Cholera van Gabriel Carcia Márques.

Ook Dr. Seuss.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.