Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kopskote: Martin Steyn
Martin Steyn is in ’n Goodwoodse hospitaal gebore, maar het in Somerset-Wes geleer loop, lees en skryf en nooit so ver gekom om weg te gaan nie. Hy het aan die Hoërskool Hottentots-Holland gematrikuleer, en deur Unisa sielkunde en kriminologie studeer. Hy het ’n paar ware-misdaadartikels vir die webwerf Crime Library geskryf, en die South Afri­can Writers’ College se skryf-’n-roman-kursus onder Wilna Adriaanse voltooi, waar Donker spoor ontstaan het. En die hoogtepunt: toe Lapa-uitgewers die manuskrip aanvaar het.
Martin Steyn. Foto: Shantelle Visser

Hoekom skryf jy?

Dis my droom, van so 16 jaar af. En nie net stories opmaak nie, die hele skrywerslewe: die sit en skryf, die navorsing, en nou die manuskrip-tot-boekproses saam met die uitgewer en die interaksie met lesers. Ek sal dit vir die res van my lewe wil doen.

Vir wie skryf jy?

Eerstens vir myself (anders sal dit “werk” wees). Vir mense wat lief is vir misdaadstories, veral die polisie-procedural soort. Maar ek dink nie dis ’n voorvereiste nie; enigiemand is welkom!

Waaroor gaan jou debuut?

’n Tienermeisie se liggaam word buite Durbanville aangetref. Die patoloog sien dat sy gehang is en onthou ’n soortgelyke geval die vorige jaar. Die polisie vermoed daar is ’n reeksmoordenaar.

Adjt. Jan Magson word aangestel as ondersoekbeampte. Maar ou Mags sukkel om sy vrou se dood te verwerk, en sy vervreemde seun bly in Engeland. Gevolglik is hy nie regtig op die ideale emosionele plek om ’n reeksmoordsaak te ondersoek nie. Saans het hy net sy dienspistool vir geselskap.

En intussen soek die moordenaar reeds die volgende ­hoërskoolmeisie om te ontvoer en te martel . . .

Wie is jou literêre invloede?

Stephen King is die rede hoekom ek begin skryf het en hy bly vir my ’n rolmodel. Marita van der Vyver het my gewys ’n mens kan goed en lékker in Afrikaans skryf. Tana French skryf so mooi en liries, ek sal haar inkopielysies lees. En Jodi Picoult se vermoë om deur verskillende karakters se oë na dieselfde situasie te kyk, is ’n aspirasie.

Wat gaan op jou bedkassie aan?

Chaos. ’n Toring boeke waarby ek probeer uitkom. Op die oomblik lees ek lekker aan Fortuin van Chanette Paul. Laer af is daar boeke van onder andere Henning Mankell, Isa Konrad en Jo Nesbo. Daar is ook ’n houertjie Tabard, ’n flits, ’n sleutel sonder ’n slot, en ’n galgtou (uit Donker spoor se navorsing).

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.