Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Krieket, politiek in die ou Britse SA
As daar ’n standbeeld van James Logan was, sou dit ook onder verf deurgeloop het, skryf Pieter Kruger.

Empire, War and Cricket in South Africa: ­Logan of Matjiesfontein deur Dean Allen. Zebra Press: Prys: R290. Resensent: Pieter Kruger

As daar iewers in Suid-Afrika ’n standbeeld van James Douglas Logan sou staan, sou dit lankal onder ’n blik rooi verf van die jeukerige #RhodesMustFall-studente deurgeloop het.

Dink net daaraan, Cecil John Rhodes het op ’n kol gesê dat hy net twee skeppers (creators) in Suid-Afrika ontmoet het: hyself en Logan.

Dit is hoekom dit effens vreemd is dat Logan se rol in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, en veral in krieket, ondergeskik is.

Gelukkig het Dean Allen in sy pragboek die waarheid ontbloot oor die borrelende kookpot waarin Logan hom tussen 1877 en 1920 in Suid-Afrika bevind het.

Die skrywer het die boek intensief nagevors, dit is propvol pragfoto’s en is keurig geskryf.

Allen het juis sy doktorale proefskrif in 2008 gegrond op sy belangstelling in die geskiedenis van krieket en Matjiesfontein se ryke verlede.

Hoe dieper jy in Logan se lewensverhaal delf, hoe meer besef jy dat die destydse cowboy-politiek, rykdom en hebsug, onsmaaklikhede oor die toekenning van kontrakte, inmengery in die kies van krieketspanne en alles wat gedoen is vir eie gewin, steeds in 2015 plaasvind.

Maar Logan se wipwaentjierit sal jou bybly, al het jy ’n wrewel in dié Skot gekry vir sy verering en uitbreiding van die Britse ryk en hoe hy met die mense om hom se koppe gesmokkel het.

Tog wonder jy hoe Logan, wat op 1 Mei 1877 met net vyf pond in Suid-Afrika aangekom het nadat hy eintlik op pad na Australië was, dit binne 20 jaar reggekry het om een van die magtigste en rykste mense in die Kaap te word?

Hoe het hy dit reggekry om Matjiesfontein uit niks te ontwikkel en in ’n pragdorpie te omskep, kompleet met ’n eersterangse krieketveld. Onthou, ons praat van 1894, toe die krieketveld aangelê is.

Ook, hoe het hy dit reggekry om ­Rhodes se Kaapse regering tot ’n val te bring? Hoe het hy dit reggekry om die Kaapse Afrikaners se steun te kry? Hoe het hy sy sakebelange tot in die destydse Rhodesië uitgebrei?

Allen beskryf Logan as ’n politieke verkleurmannetjie, en dit spoel oor na sy ander groot passie: krieket.

Dink net daaraan – hy het dit reggekry, meer as 80 jaar voordat die destydse ­“rebelletoere” van Sri Lanka, die Wes-Indiese Eilande, Australië en Engeland na Suid-Afrika sou plaasvind, om Engelse toere na en van die land te reël.

Hy het sy seun James in die Suid-Afrikaanse toerspan in 1900 na Engeland ingesluit, onder andere saam met die kaptein, Murray Bisset, Jimmy Sinclair en die “geniale boer”, JJ Kotze.

Die toer het plaasgevind terwyl die tweede Anglo-Boereoorlog gewoed het en waarin Logan ’n prominente rol gespeel het.

Daar word heelwat uitgebrei oor dié donker tydperk in ons geskiedenis en hoe dit die onsensitiewe Logan bra min geskeel het. Hy het doodluiters voortgegaan terwyl die land gebrand het, terwyl hy krieket gebruik het om sy rykdom uit te brei, om sy sakke nog meer te vul en om die adel op kos en drank te trakteer.

Maar ná die oorlog het Logan se rol en sy aansien al hoe meer begin kwyn. Hy het in 1908 uit die politiek getree en is in 1920 oorlede.

Wanneer jy Allen se boek neergesit het, staan jou kop beslis weer Karoo toe.

Logan sal na alle waarskynlik nie ’n staanplek in die nuwe geskiedenisboeke kry nie, maar danksy Allen se boek sal sy nalatenskap, Matjiesfontein, behoue bly.

  Pieter Kruger is ’n vryskutjoernalis en eertydse krieketskrywer en -speler.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.